MARKUS 4:1-34

MARKUS 4:1-34 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weer vir die mense langs die see begin leer. Daar het 'n groot klomp mense na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim wat in die water gelê het, en Hy het gaan sit. Al die mense het op die strand langs die water gestaan. Jesus het altyd vir hulle gelykenisse vertel en vir hulle baie dinge geleer. Hy het gesê: “Luister wat Ek vir julle sê: 'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. Terwyl hy gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het die saad opgepik. Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie. Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het gegroei en grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei. Die man het daar niks koring afgesny nie. Party van die saad het in vrugbare grond geval. Dit het opgekom en gegroei en daar was baie koring. Een plant het 30 maal meer gegee as die saad, 'n ander plant 60 maal meer, en 'n ander plant 100 maal meer.” Jesus het gesê: “As iemand kan verstaan wat Ek sê, dan moet hy gehoorsaam wees!” Later was Jesus alleen. Die twaalf dissipels en die ander mense by Hom het vir Hom gevra wat die gelykenisse beteken. Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy die Koning is en dat Hy regeer. Die ander mense wat nie aan My behoort nie, verstaan dit nie. Ek vertel vir hulle die gelykenisse “ want Ek wil hê hulle moet kyk en kyk maar niks sien nie, en hulle moet hoor en hoor maar niks verstaan nie. As die ander mense dit verstaan het, dan sou hulle begin lewe het soos God wil hê, en dan sou God hulle sonde vergewe het.” Jesus sê toe vir sy dissipels: “Verstaan julle nie hierdie gelykenis nie? As julle dit nie verstaan nie, dan sal julle die ander gelykenisse nog minder verstaan. Die saad wat die saaier saai, is die boodskap wat van God kom. Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die woorde van die boodskap hoor, maar die Satan kom dadelik en hy vat die woorde weg wat God in hulle harte gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dadelik bly is daaroor. Maar hulle is soos die plante wat nie diep wortels het nie en wat net 'n kort tydjie lewe. Hulle hoor die boodskap en hulle glo dit, maar wanneer die mense hulle daaroor verdruk, en hulle begin swaarkry, dan hou hulle op om te glo. Wanneer die saad tussen die dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor maar hulle is bekommerd oor die dinge van hierdie wêreld. Hulle dink net aan geld en hulle wil baie ander dinge graag hê. Die dinge van die wêreld is soos die dorings wat die koringplantjies toegroei. Vir hierdie mense word ander dinge belangriker as die boodskap van God. Daarom kan die boodskap nie hulle lewe verander nie, soos die saad nie vrugte dra nie. Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dit glo, en dit verander hulle lewe. Dit dra vrugte, by party mense 30 maal meer as die saad wat die saaier gesaai het, by party mense 60 maal meer, en by party mense 100 maal meer.” Jesus het ook vir hulle gesê: “Niemand sit 'n lamp onder 'n emmer of onder 'n bed nie. Nee! 'n Mens sit 'n lamp op die lampstaander. God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. Daar is dinge wat mense nou nie ken nie, maar God sal dit vir hulle wys. As iemand kan verstaan wat Ek sê, dan moet hy gehoorsaam wees!” Jesus het ook vir hulle gesê: “Julle moet goed luister na die boodskap van God. God sal luister na julle soos julle luister na Hom. Hy sal nog beter luister na julle. As iemand klaar die boodskap 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om nog beter te verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom nie help nie, hy sal niks verstaan nie.” Jesus het gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man saad in die grond saai, en dan in die aand gaan slaap en in die oggend opstaan. Die saad begin groei en die plante word groter. Die man weet nie hoe dit gebeur nie. Die grond laat die koring self groei. Eers groei 'n klein plantjie, dan kom die koring-aar uit en daarna word dit 'n groot koring-aar. Wanneer die koring ryp is, dan sny die man dit dadelik af met 'n sekel, want dan is dit die tyd om dit te doen.” Jesus het gesê: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe dit is wanneer God Koning is? Watter gelykenis kan Ek gebruik? Dit is soos 'n mosterd-saad. Iemand plant dit, en dit is die kleinste saadjie op die aarde. Maar wanneer hy dit geplant het en die plant klaar gegroei het, dan is dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit kry groot takke en die voëls maak neste in sy skaduwee.” Jesus het baie gelykenisse soos hierdie vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het gelykenisse vertel wat hulle kon verstaan. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. Wanneer Hy alleen was saam met sy dissipels, dan het Hy vir hulle verduidelik wat die gelykenisse beteken.

MARKUS 4:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see. En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê: Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai. En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie. En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie. En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig. En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra. En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie. En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. En dit is hulle wat langs die pad is — waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word — wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik. En hulle by wie in die dorings gesaai word — dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is — hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig. EN Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. EN Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot — hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is. EN Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak. En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan; en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.

MARKUS 4:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het weer die mense langs die see begin leer. 'n Baie groot menigte het by Hom saamgedrom, sodat Hy op die see in 'n skuit gaan sit het. Die hele menigte was langs die see op die strand. Hy het hulle baie deur gelykenisse geleer. So het Hy onder andere gesê terwyl Hy hulle leer: “Luister hier! 'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. 'n Ander deel daarvan het op 'n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 'n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.” Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” Toe hulle alleen was, het die mense wat saam met die twaalf by Hom was, Hom oor die gelykenisse uitgevra, en Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse, sodat “hulle kyk en kyk en tog nie sien nie, en hoor en hoor en tog nie verstaan nie, dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie. ” Hy sê toe vir hulle: “Julle begryp nie eens hierdie gelykenis nie. Hoe sal julle dan al die ander gelykenisse kan verstaan? “Die saaier saai die woord. Daar is mense by wie daar soos op 'n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is. Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan. Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig. Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.” Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie? Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word. Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.” Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.

MARKUS 4:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het weer begin om hulle langs die see te onderrig. Daar het toe so 'n groot skare om Hom saamgedrom dat Hy op die see in 'n boot gaan sit het, en die hele skare was op die strand langs die see. Hy het hulle dikwels deur gelykenisse geleer en deur sy lering vir hulle gesê: “Luister, julle! Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en voëls het gekom en dit opgepik. 'n Ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei. Omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 'n Ander deel het tussen die dorings geval. Die dorings het opgekom en dit verstik, en dit het nie vrug voortgebring nie. En nog ander saad het op goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en opbrengs gelewer, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” Toe het Hy gesê: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Toe Hy alleen was, het die omstanders saam met die twaalf Hom uitgevra oor die gelykenisse. En Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die geheimenis van die •koninkryk van God bekend gemaak, maar vir hulle daar buite word alles in gelykenisse gegee, “ ‘sodat hulle sal sien, en tog nie sien nie, en hoor, en tog nie verstaan nie, en hulle nie terugdraai en vergewe word nie.’ ” En Hy sê vir hulle: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? Hoe sal julle dan al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word – sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is. En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor; maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net 'n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik. En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Maar die saad wat op die goeie grond gesaai is, is daardie mense wat die woord hoor, dit aanneem en vrug dra, een dertig-, 'n ander sestig- en nog 'n ander honderdvoudig.” En Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp word tog nie gebring om onder 'n maatemmer of 'n bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op 'n lampstaander geplaas te word nie? Want niks is verborge wat nie blootgelê sal word nie, en daar is niks weggesteek wat nie aan die lig sal kom nie. Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee ag op wat julle hoor! Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word, en daar sal vir julle nog bygevoeg word. Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word.” En Hy het gesê: “Die •koninkryk van God is soos 'n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe, weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers 'n halm, dan 'n aar en dan die koring vol in die aar. Wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is. ” En Hy het gesê: “Hoe sou mens die •koninkryk van God uitbeeld, of deur watter gelykenis sou mens dit voorstel? Dit is soos die mosterdsaadjie wat, wanneer dit in die grond gesaai word, kleiner is as al die soorte saad op die land. Maar wanneer dit gesaai is, kom dit op en word dit die grootste van al die tuinplante, en maak sulke groot takke dat die voëls van die hemel in sy skaduwee kan nesmaak. ” Deur baie sulke gelykenisse het Hy die boodskap op so 'n manier aan hulle vertel dat hulle dit kon verstaan. Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer hulle op hulle eie was, het Hy alles vir sy eie dissipels uitgelê.

MARKUS 4:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het weer begin om by die see te leer, en 'n groot menigte het by Hom vergader, sodat hy in 'n skuit geklim en in die see gaan sit het; en die hele menigte was by die see op die land. En Hy het hulle baie dinge deur gelykenisse geleer en in sy leer vir hulle gesê: Luister; Kyk, daar het 'n saaier uitgegaan om te saai: En terwyl hy saai, het sommige langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. En sommige het op klipperige grond geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgespring, omdat dit geen diepte van aarde gehad het nie. Maar toe die son op was, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdor. En sommige het tussen die dorings geval, en die dorings het opgegroei en dit verstik, en dit het geen vrug opgelewer nie. En ander het op goeie grond geval en vrugte opgelewer wat opkom en vermeerder; en het gebaar, sommige dertig en ander sestig en ander honderd. En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom die gelykenis gevra. En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken; maar aan die wat buite is, word al hierdie dinge in gelykenisse gedoen. Sodat hulle kan sien en nie sien nie; en as hulle hoor, kan hulle hoor en nie verstaan nie; dat hulle nie te eniger tyd tot bekering sou kom en hulle sondes hulle vergewe sou word nie. En Hy sê vir hulle: Ken julle nie hierdie gelykenis nie? en hoe sal julle dan al die gelykenisse ken? Die saaier saai die woord. En dit is hulle langs die pad, waar die woord gesaai word; maar as hulle dit hoor, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. En dit is ook hulle wat op klipperige grond gesaai is; wat, as hulle die woord gehoor het, dit dadelik met blydskap aanneem; En het geen wortel in hulleself nie, en verduur so behalwe vir 'n tyd; daarna, as daar verdrukking of vervolging opkom ter wille van die woord, neem hulle dadelik aanstoot. En dit is hulle wat tussen die dorings gesaai is; soos wat die woord hoor, En die sorge van hierdie wêreld en die bedrog van rykdom en die begeerlikhede van ander dinge wat inkom, verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle wat in goeie grond gesaai word; wat die woord hoor en dit aanneem en vrugte dra, die een dertigvoudig, die ander sestig- en die ander honderdvoudig. En hy sê vir hulle: Word 'n kers gebring om onder 'n maatemmer of onder 'n bed te sit? en nie op 'n kandelaar gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie geopenbaar sal word nie; ook is niks geheim gehou nie, behalwe dat dit na die buiteland sou kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy sê vir hulle: Pas op wat julle hoor; met watter maat julle meet, sal vir julle gemeet word; en aan julle wat hoor, sal meer gegee word. Want wie het, aan hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal geneem word ook wat hy het. En hy sê: So is die koninkryk van God, asof 'n mens saad in die grond gooi; en sou slaap en nag en dag opstaan, en die saad sou opspring en opgroei, hy weet nie hoe nie. Want die aarde dra uit haarself vrugte; eers die lem, dan die aar, daarna die vol koring in die aar. Maar as die vrugte gebore is, gooi hy dadelik die sekel in, want die oes het gekom. En hy sê: Waarmee sal ons die koninkryk van God vergelyk? of met watter vergelyking sal ons dit vergelyk? Dit is soos 'n mosterdsaad wat, wanneer dit in die aarde gesaai word, minder is as al die saad wat op die aarde is; Maar wanneer dit gesaai word, groei dit op en word dit groter as al die kruie, en dit skiet groot takke uit; sodat die voëls van die hemel in die skadu daarvan kan bly. En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord aan hulle gespreek, soos hulle dit kon hoor. Maar sonder gelykenis het Hy nie met hulle gespreek nie; en toe hulle alleen was, het Hy alles aan sy dissipels uitgelê.

MARKUS 4:1-34 Die Boodskap (DB)

Jesus het mense weer langs die see van God begin vertel. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy in ’n skuit moes klim wat effens van die strand af weggestoot is. Die mense het al langs die strand gesit. Jesus het hulle baie dinge van God en sy nuwe wêreld geleer deur vir hulle stories met ’n les in te vertel. Hy het gesê: “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooiery het van die saad op die voetpad geval wat deur die land geloop het. Die voëls was dadelik by en gou was daar nie ’n korreltjie saad meer oor nie. Van die ander saad het op die rotse geval wat in die land gelê het. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie eintlik wortels in die vlak grond maak nie en kon dus nie grootword nie. Die son het die plantjies sommer gou doodgebrand. Van die saad het ook tussen die lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk voordat dit enige saad kon maak. Dan was daar ook saad wat in die land self met die goeie grond geval het. Daardie saad het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het. “Hoor julle wat Ek sê? Asseblief, luister mooi daarna.” Later, toe die groot klomp mense weg was, het Jesus se twaalf getrouste volgelinge en die paar ander mense wat nog oor was, Hom uitgevra oor die verhale wat Hy vertel om hulle te leer. Jesus het hulle so geantwoord: “As julle mooi na die verhale luister, sal julle baie oor die geheime van God se heerskappy in die wêreld leer. Julle gaan dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg verstaan, maar vir die mense wat die verhale nie in die lig van my boodskap wil verstaan nie, sal alles net blote verhale bly. Die gevolg is dat die verhale vir hulle maar net stories sal wees. Hulle sal die stories hoor, maar nie ’n woord verstaan wat aangaan nie. As hulle iets verstaan het, sou hulle na God toe teruggedraai het en Hy sou hulle alles vergewe het wat hulle verkeerd gedoen het.” Jesus sê toe verder vir hulle: “Julle verstaan nie eens hierdie verhaal van die man wat saai nie. Hoe sal julle dan enige verhaal verstaan wat Ek julle vertel? Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal moet verstaan van die boer wat gaan saai het. Die boer saai die boodskap van God. “Party mense is soos die saad wat op die voetpad geval het ... Hulle hoor die boodskap van God, maar dit sink nie in nie. Sodra hulle dit hoor, sorg Satan dat hulle dit baie gou vergeet. Satan pik as’t ware daardie woorde uit hulle gedagtes uit. “Ander mense is weer soos die saad wat op die rotse geval het ... Ook hulle hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde daaroor, maar net ’n rukkie. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet begin maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in die doringbosse beland het  ... Hulle het ook die boodskap van God gehoor en dit gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat hulle beroep stel en al die ander dinge waarmee hulle besig is, ja, selfs die gejaag na geld, vir hulle belangriker as die geloof. Hulle het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat dit iemand is wat God se woord so gretig aanvaar het nie. “Daar is ook mense wat soos die saad is wat in goeie grond geval het ... Hulle hoor die boodskap van God en word diep daardeur getref. Hulle begin in oorgawe reg leef en in alles wat hulle doen, borrel hulle Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan hulle nie.” Jesus gesels toe verder: “Sal jy ’n lamp in die donker aanskakel en dit dan met ’n emmer of so iets toemaak of dit onder die bed inskuif? Sit ’n mens nie eintlik ’n lamp op die tafel om mooi lig te maak nie? Wat mense nie nou verstaan nie, sal hulle nooit verstaan nie. Wat hulle nog nie weet nie, sal vir hulle vertel word. Elkeen wat ore het om te luister moet mooi luister na wat Ek sê. “Luister mooi na hierdie dinge wat julle by My hoor,” gaan Jesus aan. “God sal kyk hoe goed julle luister. Hoe beter julle luister, hoe beter sal God julle help verstaan. Hy sal julle help om selfs meer te verstaan. Wat dit betref, sal die een wat baie het meer kry, maar die een wat niks het nie, sal verloor wat hy ook al het.” Jesus het nog ’n verhaal vertel: “God se nuwe wêreld kan vergelyk word met ’n man wat saad saai. Die saad kom op en groei vanself, terwyl die boer maar sy gewone gang gaan. Die boer self kan dit nie presies verklaar nie. Al wat hy weet, is dat dit gebeur. Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar. As die vrug ryp is, oes die boer dit af omdat die oestyd daar is. “Waarmee kan Ek God se nuwe wêreld nog vergelyk of met watter voorbeelde kan Ek dit nog verder vir julle verduidelik?” het Jesus gevra. “Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Dit is seker die kleinste saadjie wat ’n mens kan saai. Tog, as ’n mens dit plant, word dit die grootste van al die plante in die tuin. Die takke is so groot dat die voëls dit tussen ander uitsoek om daar nes te maak.” Jesus het nog baie ander voorbeelde vir hulle gegee, meer as genoeg vir hulle om oor na te dink. Alles het Hy vir hulle met sulke voorbeelde uiteengesit. Wanneer Hy saam met sy dissipels alleen was, het Hy mooi vir hulle verduidelik wat Hy met die verhale bedoel.

MARKUS 4:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het toe weer die mense op die strand begin onderrig. Daar drom toe so ’n reuse skare om Hom saam dat Hy in ’n skuit wat op die water vasgemeer was, gaan sit het terwyl die hele menigte op die strand was. Hy het hulle toe breedvoerig deur middel van gelykenisse onderrig. Hier volg ’n tipiese gelykenis: “Luister nou goed,” het Jesus gesê. “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik en dit het geen oes voortgebring nie. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het opgekom, gegroei en ’n oes voortgebring – tot 30 en 60 en 100 maal wat oorspronklik gesaai is. Elkeen wat kan hoor,” het Jesus gesê, “moet goed luister na wat Ek sê.” Later, toe Jesus alleen was saam met die twaalf dissipels en sy ander mense, het hulle Hom uitgevra: “Wat beteken hierdie gelykenisse?” Jesus het hulle geantwoord: “Julle word bevoorreg om die geheim van God se koningsheerskappy te verstaan. Maar vir die buitestanders bly hierdie dinge blote gelykenisse sodat die Skrifwoord vervul kan word: ‘Sodat hulle sien wat Ek doen, maar nie die bedoeling daarvan verstaan nie; sodat hulle my woorde hoor, en dit tog nie begryp nie; sodat hulle nie van hulle sondes wegdraai en vergewe word nie.’” Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel? Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi. Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.” Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei. “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang. Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.” Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.” “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig? “Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is, maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.” Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan. Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid