MARKUS 4:1-12

MARKUS 4:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weer vir die mense langs die see begin leer. Daar het 'n groot klomp mense na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim wat in die water gelê het, en Hy het gaan sit. Al die mense het op die strand langs die water gestaan. Jesus het altyd vir hulle gelykenisse vertel en vir hulle baie dinge geleer. Hy het gesê: “Luister wat Ek vir julle sê: 'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. Terwyl hy gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het die saad opgepik. Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie. Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het gegroei en grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei. Die man het daar niks koring afgesny nie. Party van die saad het in vrugbare grond geval. Dit het opgekom en gegroei en daar was baie koring. Een plant het 30 maal meer gegee as die saad, 'n ander plant 60 maal meer, en 'n ander plant 100 maal meer.” Jesus het gesê: “As iemand kan verstaan wat Ek sê, dan moet hy gehoorsaam wees!” Later was Jesus alleen. Die twaalf dissipels en die ander mense by Hom het vir Hom gevra wat die gelykenisse beteken. Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy die Koning is en dat Hy regeer. Die ander mense wat nie aan My behoort nie, verstaan dit nie. Ek vertel vir hulle die gelykenisse

MARKUS 4:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see. En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê: Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai. En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie. En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie. En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig. En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra. En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.

MARKUS 4:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het weer begin om by die see te leer, en 'n groot menigte het by Hom vergader, sodat hy in 'n skuit geklim en in die see gaan sit het; en die hele menigte was by die see op die land. En Hy het hulle baie dinge deur gelykenisse geleer en in sy leer vir hulle gesê: Luister; Kyk, daar het 'n saaier uitgegaan om te saai: En terwyl hy saai, het sommige langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. En sommige het op klipperige grond geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgespring, omdat dit geen diepte van aarde gehad het nie. Maar toe die son op was, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdor. En sommige het tussen die dorings geval, en die dorings het opgegroei en dit verstik, en dit het geen vrug opgelewer nie. En ander het op goeie grond geval en vrugte opgelewer wat opkom en vermeerder; en het gebaar, sommige dertig en ander sestig en ander honderd. En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom die gelykenis gevra. En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken; maar aan die wat buite is, word al hierdie dinge in gelykenisse gedoen. Sodat hulle kan sien en nie sien nie; en as hulle hoor, kan hulle hoor en nie verstaan nie; dat hulle nie te eniger tyd tot bekering sou kom en hulle sondes hulle vergewe sou word nie.

MARKUS 4:1-12 Die Boodskap (DB)

Jesus het mense weer langs die see van God begin vertel. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy in ’n skuit moes klim wat effens van die strand af weggestoot is. Die mense het al langs die strand gesit. Jesus het hulle baie dinge van God en sy nuwe wêreld geleer deur vir hulle stories met ’n les in te vertel. Hy het gesê: “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooiery het van die saad op die voetpad geval wat deur die land geloop het. Die voëls was dadelik by en gou was daar nie ’n korreltjie saad meer oor nie. Van die ander saad het op die rotse geval wat in die land gelê het. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie eintlik wortels in die vlak grond maak nie en kon dus nie grootword nie. Die son het die plantjies sommer gou doodgebrand. Van die saad het ook tussen die lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk voordat dit enige saad kon maak. Dan was daar ook saad wat in die land self met die goeie grond geval het. Daardie saad het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het. “Hoor julle wat Ek sê? Asseblief, luister mooi daarna.” Later, toe die groot klomp mense weg was, het Jesus se twaalf getrouste volgelinge en die paar ander mense wat nog oor was, Hom uitgevra oor die verhale wat Hy vertel om hulle te leer. Jesus het hulle so geantwoord: “As julle mooi na die verhale luister, sal julle baie oor die geheime van God se heerskappy in die wêreld leer. Julle gaan dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg verstaan, maar vir die mense wat die verhale nie in die lig van my boodskap wil verstaan nie, sal alles net blote verhale bly. Die gevolg is dat die verhale vir hulle maar net stories sal wees. Hulle sal die stories hoor, maar nie ’n woord verstaan wat aangaan nie. As hulle iets verstaan het, sou hulle na God toe teruggedraai het en Hy sou hulle alles vergewe het wat hulle verkeerd gedoen het.”

MARKUS 4:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het toe weer die mense op die strand begin onderrig. Daar drom toe so ’n reuse skare om Hom saam dat Hy in ’n skuit wat op die water vasgemeer was, gaan sit het terwyl die hele menigte op die strand was. Hy het hulle toe breedvoerig deur middel van gelykenisse onderrig. Hier volg ’n tipiese gelykenis: “Luister nou goed,” het Jesus gesê. “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik en dit het geen oes voortgebring nie. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het opgekom, gegroei en ’n oes voortgebring – tot 30 en 60 en 100 maal wat oorspronklik gesaai is. Elkeen wat kan hoor,” het Jesus gesê, “moet goed luister na wat Ek sê.” Later, toe Jesus alleen was saam met die twaalf dissipels en sy ander mense, het hulle Hom uitgevra: “Wat beteken hierdie gelykenisse?” Jesus het hulle geantwoord: “Julle word bevoorreg om die geheim van God se koningsheerskappy te verstaan. Maar vir die buitestanders bly hierdie dinge blote gelykenisse sodat die Skrifwoord vervul kan word: ‘Sodat hulle sien wat Ek doen, maar nie die bedoeling daarvan verstaan nie; sodat hulle my woorde hoor, en dit tog nie begryp nie; sodat hulle nie van hulle sondes wegdraai en vergewe word nie.’”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid