MARKUS 3:21-27
MARKUS 3:21-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, en as 'n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. Bowendien, niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof.
MARKUS 3:21-27 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus se familie dit hoor, het hulle gegaan om Hom daar weg te vat, want party mense het gesê: “Hy is mal!” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, is in hom. Beëlsebul help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Jesus het die mense geroep om nader te kom en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Hoe kan die Satan homself uitjaag? Hy kan nie. As die mense van 'n land nie met mekaar kan saamwerk nie, dan kan hulle nie aanhou lewe nie. En as die mense van 'n huisgesin nie met mekaar kan saamwerk nie, dan sal daardie huisgesin nie bymekaar bly nie. Wat julle sê, beteken dat die Satan teen homself baklei, en dat hy nie met homself kan saamwerk nie. As dit so is, dan kan hy niks meer doen nie, en dan is dit sy einde. 'n Mens kan nie maklik in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel.
MARKUS 3:21-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne. En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit. En Hy het hulle na Hom geroep en vir hulle deur gelykenisse gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie; en as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar hy kom tot 'n einde. Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof as hy nie eers die sterk man boei nie; en dan sal hy sy huis berowe.
MARKUS 3:21-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.” Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? As 'n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde. “Bowendien kan niemand in 'n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.
MARKUS 3:21-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe sy vriende dit hoor, het hulle uitgegaan om hom aan te gryp, want hulle het gesê: Hy is buite homself. En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem afgekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul, en deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit. En Hy het hulle na Hom geroep en in gelykenisse vir hulle gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bestaan nie. En as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie. En as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie standhou nie, maar het 'n einde. Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy besittings buit nie, tensy hy eers die sterk man bind; en dan sal hy sy huis verwoes.
MARKUS 3:21-27 Die Boodskap (DB)
Toe sy familie daarvan hoor, het hulle inderhaas na Jesus toe gekom om Hom te kom haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die kenners van die Joodse wet wat van Jerusalem af gekom het, het weer gesê: “Dit is Beëlsebul, die hoof van die duiwelse geeste, wat in hom bly. Die einste Beëlsebul help hom ook om die duiwelse geeste te verjaag.” Jesus roep hulle toe en verduidelik vir hulle met ’n voorbeeld hoe verkeerd hulle regtig is. “Hoe kan Satan homself uitdryf? ’n Regering waarin groepe gedurig onder mekaar baklei, kan mos nêrens kom nie. ’n Gesin waarin elkeen heeltyd die ander een boikot, sal mos uitmekaarspat. Met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, gaan daar niks van hom oorbly nie. Dan is dit verby met hom. Aan die ander kant kan ’n mens ook nie in ’n sterk man se huis instap en vat wat jy wil hê nie. Jy moet eers sorg dat die sterk man vasgebind is voordat jy sulke dinge kan doen.
MARKUS 3:21-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.” Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie prins van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.” Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra. “’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie! En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie! Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom. Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof.