MARKUS 2:24-28
MARKUS 2:24-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die •Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk, waarom doen hulle op die Sabbat iets wat nie toelaatbaar is nie?” Hy vra toe vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid en dié saam met hom gedoen het toe hulle in nood was en honger geword het nie? Hoe hy in die tyd toe Abjater hoëpriester was, die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode geëet het – waarvan niemand behalwe die priesters mag eet nie – en ook vir dié wat saam met hom was, daarvan gegee het? ” Hy het ook vir hulle gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie; daarom is die •Seun van die Mens Here ook van die Sabbat.”
MARKUS 2:24-28 Bybel vir almal (ABA)
Die Fariseërs sê toe vir Jesus: “Kyk daar, hoekom doen jou dissipels iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?” Jesus het hulle geantwoord: “ Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy probleme gehad het en toe hy en sy manne honger was? Dit was in die tyd toe Abjatar die hoëpriester was. Dawid het in die tempel ingegaan en hy het die brood geëet wat op die tafel was. Niemand mag daardie brood eet nie, net die priesters mag dit eet. Dawid het ook van die brood gegee vir die mense wat saam met hom was.” Jesus het vir die Fariseërs gesê: “God het die Sabbatdag vir die mens gemaak. Hy het nie die mens vir die Sabbatdag gemaak nie. Daarom, Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”
MARKUS 2:24-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie? En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het — hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Ábjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.
MARKUS 2:24-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie?” Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”
MARKUS 2:24-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbatdag wat nie geoorloof is nie? En hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy nood gehad het en honger was, hy en die wat by hom was nie? Hoe hy in die huis van God ingegaan het in die dae van Abjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat nie geoorloof is om te eet nie, maar vir die priesters, en ook aan die wat by hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens ook Here van die sabbat.
MARKUS 2:24-28 Die Boodskap (DB)
Die streng godsdienstige mense onder die Jode het hulle soos valke dopgehou en sê toe vir Jesus: “Wat gaan hier aan? Waarom doen jou volgelinge dinge wat hulle tog duidelik weet verkeerd is om op ’n sabbat te doen?” Jesus het rustig geantwoord: “Het julle nog nie in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne in die moeilikheid was en honger geword het nie? Dit was in die tyd toe Abjatar in beheer van al die priesters was. Dawid is in die blyplek van God in en het die brood geëet wat spesiaal vir God eenkant gesit is. Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. Boonop het Dawid vir sy manne ook daarvan gegee.” Jesus beklemtoon toe weer: “God het die sabbat vir mense gegee om te geniet soos God dit bedoel het. Mense moenie allerhande reëls maak om die sabbat ’n belangriker dag te probeer maak as wat dit is nie. Dit gaan in die eerste plek oor mense en nie oor die sabbat nie. Die Seun van die mens het volle seggenskap oor die sabbat. Daarom kan Ek sê wat op die sabbat mag gebeur en wat nie.”
MARKUS 2:24-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Kyk wat doen hulle! Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.” Jesus se reaksie was: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in die nood verkeer het en hy en sy mense honger was nie? Hy het tydens die hoofpriesterskap van Abjatar in die huis van God gegaan en wederregtelik van die offerbrood geëet wat vir die priesters bedoel was; en hy het ook daarvan vir sy mense gegee.” Toe sê Hy vir hulle: “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie. Daarom het Ek, die Seun van die Mens, seggenskap ook oor die Sabbat.”