MARKUS 2:13-28

MARKUS 2:13-28 Die Boodskap (DB)

Toe Jesus weer op ’n dag langs die see gaan stap, het ’n groot groep mense Hom daar gekry. Hy het toe vir hulle van God en sy nuwe wêreld begin vertel. Terwyl hulle nog so loop en praat, sien Hy vir Levi, Alfeus se seun, in die belastingkantoor sit. “Kom saam met My,” sê Jesus vir hom. Hy het opgestaan, sy goed gevat en agter Jesus aangestap. ’n Rukkie later het Levi ’n ete by sy huis gehou. Jesus was ook daar met die mense wat agter Hom aangeloop het. Daar was nogal baie van hulle. Die res van die gaste was mense met wie die godsdienstige Jode niks te doen wou hê nie omdat hulle glo te sondig was. Die streng godsdienstige Jode wat die wet in die fynste besonderhede bestudeer het, het die hele petalje dopgehou. Dink net: Jesus is vriende met die klomp slegte mense en eet selfs saam met hulle! Hulle vra toe vir Jesus se volgelinge: “Hoekom eet hy saam met die klomp sondaars asof hy hulle goeie vriend is?” Jesus hoor dit toe. “As iemand gesond is, wil hy nie ’n dokter hê nie, maar as hy siek word, gaan soek hy gou ’n dokter. Net soos ’n dokter nie heeltyd gesondes dokter nie, net so hou Ek My nie heeltyd besig met die mense wat weet wat God wil hê nie. Ek hou My liewer besig met mense wat ver van God af leef.” Johannes die Doper se volgelinge en ’n ander groep streng godsdienstige Jode het daardie dag niks geëet nie, want dit was ’n godsdienstige vasdag. Van die mense vra toe vir Jesus: “Hoekom hou al die mense die godsdienstige vasdae, maar jou volgelinge steur hulle nie daaraan nie?” Jesus antwoord toe: “Laat Ek dit vergelyk met ’n bruilof. Sal die gaste net vir die eetgoed staan en kyk terwyl die fees aan die gang is en die bruidegom by hulle is? Dit sal tog nie gebeur nie. As die fees verby is en die bruidegom is weg, sal hulle miskien ophou eet. So is dit met My en my volgelinge.” Jesus verduidelik toe met ’n voorbeeld vir hulle dat dit wat Hy bring nuut en anders is. “As ’n mens ’n gat moet regmaak in ’n ou rok wat klaar gekrimp het, sal jy mos nie ’n nuwe stuk lap gebruik nie. Met die eerste was sal daardie nuwe stuk lap mos krimp en die ou rok nog erger skeur. Of laat Ek dit so stel: julle weet goed dat die leersakke waarin wyn vir ’n lang tyd gehou is, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Al julle wyn sal dan uitloop en dan sit julle nog met stukkende sakke ook. Nee, nuwe wyn sit ’n mens in sterk, nuwe sakke.” Een sabbat het Jesus-hulle deur ’n koringland gestap. Sy dissipels het begin honger voel en pluk toe koringare af om aan te begin peusel. Die streng godsdienstige mense onder die Jode het hulle soos valke dopgehou en sê toe vir Jesus: “Wat gaan hier aan? Waarom doen jou volgelinge dinge wat hulle tog duidelik weet verkeerd is om op ’n sabbat te doen?” Jesus het rustig geantwoord: “Het julle nog nie in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne in die moeilikheid was en honger geword het nie? Dit was in die tyd toe Abjatar in beheer van al die priesters was. Dawid is in die blyplek van God in en het die brood geëet wat spesiaal vir God eenkant gesit is. Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. Boonop het Dawid vir sy manne ook daarvan gegee.” Jesus beklemtoon toe weer: “God het die sabbat vir mense gegee om te geniet soos God dit bedoel het. Mense moenie allerhande reëls maak om die sabbat ’n belangriker dag te probeer maak as wat dit is nie. Dit gaan in die eerste plek oor mense en nie oor die sabbat nie. Die Seun van die mens het volle seggenskap oor die sabbat. Daarom kan Ek sê wat op die sabbat mag gebeur en wat nie.”

MARKUS 2:13-28 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weer na die see gegaan. Baie mense het aangehou om na Hom toe te kom, en Hy het vir hulle geleer. Toe Hy teruggaan en by die tolhek verbygaan, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, daar sit. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My!” Levi het opgestaan en hy het saam met Jesus gegaan. Jesus het in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels geëet, want baie van hulle het gewoonlik saam met Jesus gegaan. Party skrifgeleerdes was ook Fariseërs. Hulle het gesien Jesus eet saam met tollenaars en sondaars. Hulle vra toe vir Jesus se dissipels: “Hoekom eet Jesus saam met tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense gaan nie dokter toe nie, net mense wat siek is, gaan dokter toe. Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie, Ek het gekom om sondaars te roep.” Johannes se dissipels en die Fariseërs was besig om te vas. Party mense kom toe en vra vir Jesus: “Johannes se dissipels vas, en die Fariseërs se dissipels vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?” Jesus het geantwoord: “Die vriende van die bruidegom kan nie vas wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Nee, wanneer die bruidegom by hulle is, kan sy vriende nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom nie meer by hulle sal wees nie, en dan sal hulle vas. Niemand maak ou klere reg met 'n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word. Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, 'n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi.” Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Terwyl hulle loop, het sy dissipels begin om koring-are te pluk. Die Fariseërs sê toe vir Jesus: “Kyk daar, hoekom doen jou dissipels iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?” Jesus het hulle geantwoord: “ Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy probleme gehad het en toe hy en sy manne honger was? Dit was in die tyd toe Abjatar die hoëpriester was. Dawid het in die tempel ingegaan en hy het die brood geëet wat op die tafel was. Niemand mag daardie brood eet nie, net die priesters mag dit eet. Dawid het ook van die brood gegee vir die mense wat saam met hom was.” Jesus het vir die Fariseërs gesê: “God het die Sabbatdag vir die mens gemaak. Hy het nie die mens vir die Sabbatdag gemaak nie. Daarom, Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”

MARKUS 2:13-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het weer uitgegaan langs die see, en die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer. En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi, die seun van Alféüs, by die tolhuis sit en sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg. En terwyl Hy in sy huis aan tafel was, kom daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel; want daar was baie, en hulle het Hom gevolg. En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink? En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. EN die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae. En niemand werk 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom 'n erger skeur. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word. EN terwyl Hy op die sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels al gaande are begin pluk. Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie? En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het — hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Ábjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.

MARKUS 2:13-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het weer na die see toe gegaan. 'n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!” Levi het opgestaan en Hom gevolg. Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Johannes se volgelinge en die Fariseërs was besig om te vas, en die mense kom toe en vra vir Jesus: “Waarom vas die volgelinge van Johannes en die volgelinge van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas. “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog 'n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.” Eenkeer toe Jesus op 'n sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie?” Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”

MARKUS 2:13-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het weer weggegaan na die see toe. Die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer. In die verbygaan sien Hy Levi, die seun van Alfeus, by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg. Terwyl Jesus in Levi se huis aangeleun het vir ete, het baie •tollenaars en sondaars saam met Hom en sy dissipels aangeleun, want daar was baie mense wat Hom gevolg het. Toe die skrifkenners onder die •Fariseërs sien dat Hy saam met die sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gevra: “Waarom eet hy saam met die tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Johannes se dissipels en die •Fariseërs was besig om te vas. Hulle kom sê toe vir Hom: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” En Jesus antwoord hulle: “Die bruilofsgaste kan tog nie vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word. Dan sal hulle vas, op daardie dag. Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; anders skeur die nuwe stuk van die oue af, en word die skeur net groter. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die wyn die leersakke laat oopbars, en sowel die wyn as die leersakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn in nuwe leersakke!” Terwyl Hy op die Sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels in die verbygaan begin om are te pluk. Die •Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk, waarom doen hulle op die Sabbat iets wat nie toelaatbaar is nie?” Hy vra toe vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid en dié saam met hom gedoen het toe hulle in nood was en honger geword het nie? Hoe hy in die tyd toe Abjater hoëpriester was, die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode geëet het – waarvan niemand behalwe die priesters mag eet nie – en ook vir dié wat saam met hom was, daarvan gegee het? ” Hy het ook vir hulle gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie; daarom is die •Seun van die Mens Here ook van die Sabbat.”

MARKUS 2:13-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het weer uitgegaan langs die see; en die hele skare het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. En toe hy verbygaan, sien hy Levi, die seun van Alfeus, sit by die tolhuis, en sê vir hom: Volg my. En hy het opgestaan en hom gevolg. En terwyl Jesus in sy huis aan tafel gesit het, het baie tollenaars en sondaars ook saam met Jesus en sy dissipels gesit, want daar was baie, en hulle het Hom gevolg. En toe die skrifgeleerdes en Fariseërs Hom sien eet saam met tollenaars en sondaars, sê hulle vir sy dissipels: Hoe eet en drink Hy saam met tollenaars en sondaars? Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat siek is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. En die dissipels van Johannes en van die Fariseërs het gevas, en hulle het gekom en vir Hom gesê: Waarom vas die dissipels van Johannes en die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofkinders vas terwyl die bruidegom by hulle is? solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle in daardie dae vas. Niemand werk ook 'n stuk nuwe lap aan 'n ou kleed nie; anders neem die nuwe stuk wat dit vol gemaak het van die oue weg, en die skeur word vererger. En niemand gooi nuwe wyn in ou sakke nie; anders laat die nuwe wyn die sakke bars, en die wyn word gemors, en die sakke sal beskadig word; maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word. En dit het gebeur dat hy op die sabbatdag deur die koringlande gegaan het; en sy dissipels het onderweg begin om die are af te pluk. Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbatdag wat nie geoorloof is nie? En hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy nood gehad het en honger was, hy en die wat by hom was nie? Hoe hy in die huis van God ingegaan het in die dae van Abjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat nie geoorloof is om te eet nie, maar vir die priesters, en ook aan die wat by hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens ook Here van die sabbat.

MARKUS 2:13-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig. Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword. Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.) Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie. Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!” Een Sabbatdag, terwyl Jesus deur die koringlande geloop het, het sy dissipels so al lopende are afgepluk om te eet. Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Kyk wat doen hulle! Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.” Jesus se reaksie was: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in die nood verkeer het en hy en sy mense honger was nie? Hy het tydens die hoofpriesterskap van Abjatar in die huis van God gegaan en wederregtelik van die offerbrood geëet wat vir die priesters bedoel was; en hy het ook daarvan vir sy mense gegee.” Toe sê Hy vir hulle: “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie. Daarom het Ek, die Seun van die Mens, seggenskap ook oor die Sabbat.”