MARKUS 2:1-22

MARKUS 2:1-22 Bybel vir almal (ABA)

'n Paar dae later het Jesus weer in die stad Kapernaum gekom. Die mense het gehoor dat Hy by die huis is. Daar het so baie mense bymekaargekom dat daar nie meer plek in die huis was nie, ook nie buite voor die deur nie. Jesus het begin om vir die mense te vertel van die goeie boodskap. Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier mense het die man gedra. Omdat daar so baie mense was, kon hulle nie die man tot by Jesus bring nie. Hulle het toe die dak bokant Jesus oopgebreek. Hulle het 'n gat in die dak gemaak, en toe het hulle die slaapmat waarop die verlamde man lê, deur die gat laat sak. Toe Jesus sien hulle glo dat Hy die verlamde man gesond kan maak, sê Hy vir die man: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.” Daar het skrifgeleerdes gesit, en hulle het gewonder: “Hoekom praat hierdie man so? Hy maak of hy self God is! 'n Mens kan nie sondes vergewe nie, net God kan.” Jesus het dadelik geweet dat hulle so dink. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Hoekom wonder julle oor hierdie dinge? Is dit die maklikste om vir die verlamde man te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of is dit die maklikste om te sê: ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop?’ Maar Ek wil vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.” Jesus sê toe vir die verlamde man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.” Die man het opgestaan en hy het dadelik sy slaapmat geneem en uitgegaan. Al die mense het dit gesien en hulle was baie verbaas. Hulle het God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!” Jesus het weer na die see gegaan. Baie mense het aangehou om na Hom toe te kom, en Hy het vir hulle geleer. Toe Hy teruggaan en by die tolhek verbygaan, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, daar sit. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My!” Levi het opgestaan en hy het saam met Jesus gegaan. Jesus het in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels geëet, want baie van hulle het gewoonlik saam met Jesus gegaan. Party skrifgeleerdes was ook Fariseërs. Hulle het gesien Jesus eet saam met tollenaars en sondaars. Hulle vra toe vir Jesus se dissipels: “Hoekom eet Jesus saam met tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense gaan nie dokter toe nie, net mense wat siek is, gaan dokter toe. Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie, Ek het gekom om sondaars te roep.” Johannes se dissipels en die Fariseërs was besig om te vas. Party mense kom toe en vra vir Jesus: “Johannes se dissipels vas, en die Fariseërs se dissipels vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?” Jesus het geantwoord: “Die vriende van die bruidegom kan nie vas wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Nee, wanneer die bruidegom by hulle is, kan sy vriende nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom nie meer by hulle sal wees nie, en dan sal hulle vas. Niemand maak ou klere reg met 'n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word. Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, 'n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi.”

MARKUS 2:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN ná 'n paar dae het Hy weer in Kapérnaüm gekom, en die mense het gehoor dat Hy in die huis was. En dadelik het baie saamgekom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie; en Hy was besig om aan hulle die woord te verkondig. En daar kom mense na Hom met 'n verlamde man wat deur vier gedra word. En toe hulle vanweë die skare nie naby Hom kon kom nie, maak hulle die dak oop waar Hy was, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die bed waar die verlamde op lê, laat afsak. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe! En sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en in hulle harte geredeneer: Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God? En Jesus het dadelik in sy gees geweet dat hulle by hulleself so redeneer, en Hy sê vir hulle: Wat redeneer julle oor hierdie dinge in jul harte? Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en neem jou bed op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie! EN Hy het weer uitgegaan langs die see, en die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer. En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi, die seun van Alféüs, by die tolhuis sit en sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg. En terwyl Hy in sy huis aan tafel was, kom daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel; want daar was baie, en hulle het Hom gevolg. En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink? En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. EN die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae. En niemand werk 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom 'n erger skeur. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word.

MARKUS 2:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Jesus ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is. Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie. Hy was besig om met hulle oor sy boodskap te praat. Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle 'n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” Maar sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en hulle afgevra: “Waarom sê hy so? Hy praat mos godslasterlik! Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” Jesus het dadelik geweet dat hulle by hulleself so redeneer. Hy sê toe vir hulle: “Wat redeneer julle by julleself hieroor? Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes word vergewe’, of om te sê: ‘Staan op, vat jou draagbaar en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Hy het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap. Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!” Jesus het weer na die see toe gegaan. 'n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!” Levi het opgestaan en Hom gevolg. Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Johannes se volgelinge en die Fariseërs was besig om te vas, en die mense kom toe en vra vir Jesus: “Waarom vas die volgelinge van Johannes en die volgelinge van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas. “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog 'n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.”

MARKUS 2:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Hy ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis was. Baie mense het daar saamgedrom, met die gevolg dat daar nie meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Hy was besig om die woord aan hulle te verkondig. Toe kom daar mense wat 'n verlamde, gedra deur vier van hulle, na Hom bring. Omdat hulle hom vanweë die skare nie tot by Jesus kon bring nie, het hulle 'n deel van die dak bokant waar Hy was, opgelig, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die slaapmat waarop die verlamde gelê het, laat afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “Kind, jou sondes word vergewe. ” Maar sommige van die skrifkenners het daar gesit en in hulle harte geredeneer: “Wie is hy dat hy so praat? Hy laster! Wie is in staat om sondes te vergewe behalwe net Een, en dit is God? ” Jesus het onmiddellik in sy gees geweet dat hulle so by hulleself redeneer, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte hieroor? Wat is makliker, om vir die verlamde te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” Hy het toe opgestaan, sy slaapmat dadelik opgetel en voor almal uit geloop, sodat almal verbaas was en God geprys en gesê het: “So iets het ons nog nooit gesien nie!” Jesus het weer weggegaan na die see toe. Die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer. In die verbygaan sien Hy Levi, die seun van Alfeus, by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg. Terwyl Jesus in Levi se huis aangeleun het vir ete, het baie •tollenaars en sondaars saam met Hom en sy dissipels aangeleun, want daar was baie mense wat Hom gevolg het. Toe die skrifkenners onder die •Fariseërs sien dat Hy saam met die sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gevra: “Waarom eet hy saam met die tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Johannes se dissipels en die •Fariseërs was besig om te vas. Hulle kom sê toe vir Hom: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” En Jesus antwoord hulle: “Die bruilofsgaste kan tog nie vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word. Dan sal hulle vas, op daardie dag. Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; anders skeur die nuwe stuk van die oue af, en word die skeur net groter. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die wyn die leersakke laat oopbars, en sowel die wyn as die leersakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn in nuwe leersakke!”

MARKUS 2:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En ná 'n paar dae het hy weer in Kapernaum ingegaan; en dit is geraas dat hy in die huis was. En dadelik het baie bymekaargekom, sodat daar geen plek was om hulle te ontvang nie, ook nie soseer by die deur nie; en hy het die woord aan hulle verkondig. En hulle het na hom gekom en een verlamde gebring, wat uit vier gebore is. En toe hulle vanweë die skare nie naby hom kon kom nie, het hulle die dak oopgemaak waar hy was; en nadat hulle dit opgebreek het, het hulle die bed laat sak waarin die verlamde gelê het. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe! Maar daar het sekere van die skrifgeleerdes daar gesit en in hulle harte geredeneer: Waarom spreek hierdie man so godslastering? wie kan sondes vergewe behalwe God alleen? En dadelik toe Jesus in sy gees bemerk dat hulle so by hulleself geredeneer het, sê Hy vir hulle: Waarom redeneer julle hierdie dinge in julle harte? Of dit makliker is om vir die verlamde te sê: Jou sondes is jou vergewe? of om te sê: Staan op, neem jou bed op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe, sê Hy vir die verlamde: Ek sê vir jou: Staan op en neem jou bed op en gaan na jou huis. En dadelik het hy opgestaan, die bed opgeneem en voor almal uit gegaan; sodat hulle almal verbaas was en God verheerlik het deur te sê: Ons het dit nog nooit so gesien nie. En hy het weer uitgegaan langs die see; en die hele skare het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. En toe hy verbygaan, sien hy Levi, die seun van Alfeus, sit by die tolhuis, en sê vir hom: Volg my. En hy het opgestaan en hom gevolg. En terwyl Jesus in sy huis aan tafel gesit het, het baie tollenaars en sondaars ook saam met Jesus en sy dissipels gesit, want daar was baie, en hulle het Hom gevolg. En toe die skrifgeleerdes en Fariseërs Hom sien eet saam met tollenaars en sondaars, sê hulle vir sy dissipels: Hoe eet en drink Hy saam met tollenaars en sondaars? Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat siek is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. En die dissipels van Johannes en van die Fariseërs het gevas, en hulle het gekom en vir Hom gesê: Waarom vas die dissipels van Johannes en die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofkinders vas terwyl die bruidegom by hulle is? solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle in daardie dae vas. Niemand werk ook 'n stuk nuwe lap aan 'n ou kleed nie; anders neem die nuwe stuk wat dit vol gemaak het van die oue weg, en die skeur word vererger. En niemand gooi nuwe wyn in ou sakke nie; anders laat die nuwe wyn die sakke bars, en die wyn word gemors, en die sakke sal beskadig word; maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word.

MARKUS 2:1-22 Die Boodskap (DB)

’n Paar dae later is Jesus Kapernaum toe. Die mense het dadelik daarvan gehoor en het die huis volgepak. Daar was so baie mense dat hulle tot in die straat gestaan het. Jesus het met hulle oor die dinge van God gepraat. Juis toe kom daar vier mans aan wat ’n lam man dra. Hulle kon nie deur die klomp mense by Jesus uitkom nie, want die mense het die hele plek toegestaan. Hulle maak toe ’n ander plan. Hulle klim op die dak, maak ’n gat daarin en laat die verlamde man versigtig op sy bed afsak. Toe Jesus sien hoe hierdie mense Hom vertrou, sê Hy vir die siek man: “My vriend, God vergewe al die verkeerde dinge wat jy gedoen het.” Dit het party van die kenners van die Joodse wet laat wonder: “Hoe op aarde kan hy so praat? Dit is darem te erg, want wie kan sê dat God al die verkeerde dinge vergewe, behalwe God self? Met dié praatjies wys hy dat hy g’n respek vir God het nie.” Hulle kon egter nie al hierdie lelike gedagtes vir Jesus wegsteek nie, want Hy het geweet wat hulle dink. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle so skepties? Wat is die maklikste, om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sondes’ of ‘Vat jou matras en loop’? Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Kyk mooi, die Seun van die mens kan dit hier op aarde doen.” Toe praat Jesus met die lam man: “Luister wat Ek sê. Vat jou matras en gaan huis toe.” Daar gebeur dit toe net so. Die man staan voor almal op en stap huis toe. Die mense was heeltemal uit die veld geslaan. “Ons het nog nooit in ons lewe sulke ongelooflike dinge gesien nie,” het hulle gesê, terwyl hulle vir mekaar vertel hoe groot en wonderlik God is. Toe Jesus weer op ’n dag langs die see gaan stap, het ’n groot groep mense Hom daar gekry. Hy het toe vir hulle van God en sy nuwe wêreld begin vertel. Terwyl hulle nog so loop en praat, sien Hy vir Levi, Alfeus se seun, in die belastingkantoor sit. “Kom saam met My,” sê Jesus vir hom. Hy het opgestaan, sy goed gevat en agter Jesus aangestap. ’n Rukkie later het Levi ’n ete by sy huis gehou. Jesus was ook daar met die mense wat agter Hom aangeloop het. Daar was nogal baie van hulle. Die res van die gaste was mense met wie die godsdienstige Jode niks te doen wou hê nie omdat hulle glo te sondig was. Die streng godsdienstige Jode wat die wet in die fynste besonderhede bestudeer het, het die hele petalje dopgehou. Dink net: Jesus is vriende met die klomp slegte mense en eet selfs saam met hulle! Hulle vra toe vir Jesus se volgelinge: “Hoekom eet hy saam met die klomp sondaars asof hy hulle goeie vriend is?” Jesus hoor dit toe. “As iemand gesond is, wil hy nie ’n dokter hê nie, maar as hy siek word, gaan soek hy gou ’n dokter. Net soos ’n dokter nie heeltyd gesondes dokter nie, net so hou Ek My nie heeltyd besig met die mense wat weet wat God wil hê nie. Ek hou My liewer besig met mense wat ver van God af leef.” Johannes die Doper se volgelinge en ’n ander groep streng godsdienstige Jode het daardie dag niks geëet nie, want dit was ’n godsdienstige vasdag. Van die mense vra toe vir Jesus: “Hoekom hou al die mense die godsdienstige vasdae, maar jou volgelinge steur hulle nie daaraan nie?” Jesus antwoord toe: “Laat Ek dit vergelyk met ’n bruilof. Sal die gaste net vir die eetgoed staan en kyk terwyl die fees aan die gang is en die bruidegom by hulle is? Dit sal tog nie gebeur nie. As die fees verby is en die bruidegom is weg, sal hulle miskien ophou eet. So is dit met My en my volgelinge.” Jesus verduidelik toe met ’n voorbeeld vir hulle dat dit wat Hy bring nuut en anders is. “As ’n mens ’n gat moet regmaak in ’n ou rok wat klaar gekrimp het, sal jy mos nie ’n nuwe stuk lap gebruik nie. Met die eerste was sal daardie nuwe stuk lap mos krimp en die ou rok nog erger skeur. Of laat Ek dit so stel: julle weet goed dat die leersakke waarin wyn vir ’n lang tyd gehou is, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Al julle wyn sal dan uitloop en dan sit julle nog met stukkende sakke ook. Nee, nuwe wyn sit ’n mens in sterk, nuwe sakke.”

MARKUS 2:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus ná ’n hele aantal dae na Kapernaum terugkeer, het dit rugbaar geword dat Hy weer by die huis is. Gou-gou was die huis so vol mense dat daar vir niemand meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel. Daar daag toe vier mans by Hom op wat ’n verlamde persoon op ’n mat dra. As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ’n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “My seun, jou sondes word vergewe.” Maar party van die skrifkenners wat daar gesit het, het by hulleself gedink: “Wat? Dis tog laster! Net God kan sondes vergewe!” Jesus het sonder meer geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom dink julle dit is laster? Wat is makliker – om vir die verlamde te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’? Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om sondes op aarde te vergewe.” Daarop sê Jesus vir die verlamde man: “Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan na jou huis toe!” Net daar het die man opgespring, sy mat geneem en voor almal se oë buitentoe gegaan. Hulle was almal verstom en het God geprys en uitgeroep: “So iets het ons nog nooit tevore gesien nie!” Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig. Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword. Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.) Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie. Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid