MARKUS 15:42-47
MARKUS 15:42-47 Bybel vir almal (ABA)
Dit was Vrydag, die dag toe die Jode alles gereedgemaak het vir die Sabbatdag. Dit was al laat en amper aand. Josef van Arimatea was 'n belangrike man in die Joodse Raad. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal. Josef het na Pilatus toe gegaan. Hy was bang, maar hy het gevra of hy Jesus se liggaam kan kry. Pilatus was verbaas toe hy hoor dat Jesus klaar dood is. Hy het die leier van die Romeinse soldate geroep en vir hom gevra of Jesus klaar dood is. Nadat Pilatus gehoor het dat Jesus dood is, het Pilatus Jesus se liggaam vir Josef gegee. Josef het 'n stuk lap gekoop. Hy het Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en Hom in die lap toegedraai. Hy het die liggaam in 'n graf gesit wat hulle in 'n rots gekap het. Hy het 'n groot klip voor die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, Joses se ma, het gesien waar Josef vir Jesus begrawe het.
MARKUS 15:42-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar 'n vername raadslid, Josef van Arimathéa, wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra. En Pilatus was verwonderd dat Hy al dood was, en hy het die hoofman oor honderd geroep en hom gevra of Hy al lank dood was. En toe hy dit van die hoofman oor honderd verneem het, het hy die liggaam aan Josef geskenk. En hy het linne gekoop, en Hom afgehaal en in die linne toegedraai, en Hom neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was. En hy het 'n steen teen die opening van die graf gerol. En Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê word.
MARKUS 15:42-47 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra. Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het 'n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in 'n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het 'n klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.
MARKUS 15:42-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe dit reeds laat geword het, en aangesien dit die Voorbereidingsdag was, die dag voor die Sabbat, het Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Raad, wat ook uitgesien het na die •koninkryk van God, na •Pilatus gegaan. Hy het moed bymekaargeskraap en die liggaam van Jesus gevra. Pilatus was verbaas dat Hy al dood was, en het die centurio laat roep en hom gevra of Hy reeds 'n geruime tyd dood was. Toe hy dit by die centurio verneem het, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het toe 'n linnedoek gekoop, en Hom, nadat hy Hom van die kruis afgehaal het, in die linnedoek toegedraai en neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was, en 'n klip teen die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê is.
MARKUS 15:42-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nou toe die aand aangebreek het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die dag voor die sabbat, Josef van Arimathéa, 'n eerbare raadgewer, wat ook op die koninkryk van God gewag het, het gekom en met vrymoedigheid na Pilatus ingegaan en na die liggaam van Jesus verlang. En Pilatus was verwonderd as hy al dood was; en hy het die hoofman oor honderd na Hom geroep en hom gevra of hy al 'n tyd lank dood was. En toe hy dit van die hoofman oor honderd weet, het hy die liggaam aan Josef gegee. En hy het fyn linne gekoop en hom afgehaal en hom in die linne toegedraai en hom in 'n graf neergelê wat in 'n rots gekap was, en 'n klip tot by die ingang van die graf gerol. En Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar hy neergelê is.
MARKUS 15:42-47 Die Boodskap (DB)
Dit het begin laat word en omdat dit Vrydag was, was die Jode besig om reg te maak vir die sabbat wat met sononder sou begin. Josef van Arimatea was ’n lid van die Joodse Raad en het baie uitgesien na die tyd wanneer God kragtig as Koning in sy nuwe wêreld sou heers. Hy het die moed bymekaargeskraap en is na Pilatus toe om te vra of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. Pilatus was verbaas om te hoor dat Jesus al dood was. Hy vra toe vir die bevelvoerder van die soldate of Jesus regtig al dood is. Dié sê toe ja. Pilatus sê toe vir Josef dat hy maar vir Jesus kon gaan begrawe. Josef het ’n groot stuk linne gekoop en nadat hy Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy die liggaam in die linnedoek toegedraai. Hy het Jesus gaan begrawe in ’n graf wat uit rots gekap was en soos ’n kamertjie gelyk het. En hy het ’n groot ronde klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, Jesus se ma, het gesien waar hy Jesus begrawe het.
MARKUS 15:42-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit alles het gebeur op die Vrydag, die dag van die voorbereiding vir die Sabbat. Omdat dit reeds amper aand was, het Josef van Arimatea, ’n geëerde raadslid, ’n man wat self verlang het na die begin van God se koningsheerskappy, moed bymekaargeskraap om na Pilatus toe te gaan en te vra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus kon nie glo dat Jesus al dood was nie. Hy laat toe die offisier roep en vra hom of Jesus al lankal gesterf het. Toe die offisier dit bevestig, het Pilatus Jesus se liggaam goedgunstiglik vir Josef gegee. Josef het ’n lang strook linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en in ’n graf neergelê wat in die rots uitgekap was. Toe het hy ’n klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, die ma van Joses, het gestaan en toekyk waar Jesus neergelê word.