MARKUS 15:33-37
MARKUS 15:33-37 Die Boodskap (DB)
Teen twaalfuur die middag het dit donker geword in daardie gebied. Dit het donker gebly tot so drie-uur die middag. Toe skree Jesus hard: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?” Van die omstanders het Jesus gehoor en gesê: “Luister, hy roep Elia.” Een van hulle bring toe vinnig ’n spons wat in wyn gedruk is. Hy sit die spons op ’n stok sodat Jesus kon drink en sê: “Los hom nou uit sodat ons kan sien wat gaan gebeur. Miskien kom haal Elia hom van die kruis af.” Al wat gebeur het, was dat Jesus hard geskree het en dood is.
MARKUS 15:33-37 Bybel vir almal (ABA)
Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eloï, Eloï, lema sabagtani?” Dit beteken “ My God, my God, hoekom het U My gelos?” Party van die mense wat daar naby gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Luister, hy roep vir Elia!” Iemand het gehardloop en hy het 'n spons vol suur wyn gemaak. Hy het dit op 'n dik riet gesit en vir Jesus probeer gee sodat Hy dit kon drink. Die man het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia kom om hom van die kruis af te haal.” Jesus het hard geskree en Hy het gesterf.
MARKUS 15:33-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe. En die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía. Toe hardloop een en maak 'n spons vol asyn en sit dit op 'n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal. Maar Jesus het met 'n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.
MARKUS 15:33-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.” Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.” Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
MARKUS 15:33-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die sesde uur aanbreek, het dit oor die hele aarde donker geword tot die negende uur toe. Op die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtáni?” wat, as dit vertaal word, beteken, ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van die omstanders dit hoor, sê hulle: “Kyk, hy roep Elia.” Iemand het gehardloop, 'n spons met suur wyn deurweek, dit op 'n riet gesit en vir Hom gehou om te drink, met die woorde: “Wag, laat ons sien of Elia kom om hom af te haal.” Jesus het met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas.
MARKUS 15:33-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die sesde uur aangebreek het, was daar duisternis oor die hele land tot die negende uur toe. En op die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloi, Eloi, lama sabagtani? dit is, as dit vertaal word: My God, my God, waarom het U My verlaat? En sommige van die wat daar staan, sê toe hulle dit hoor: Kyk, hy roep vir Elia. En een het gehardloop en 'n spons vol asyn gevul en dit op 'n riet gesit en hom laat drink en gesê: Laat staan! laat ons kyk of Elias sal kom om hom af te haal. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en die gees opgegee.
MARKUS 15:33-37 Die Boodskap (DB)
Teen twaalfuur die middag het dit donker geword in daardie gebied. Dit het donker gebly tot so drie-uur die middag. Toe skree Jesus hard: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?” Van die omstanders het Jesus gehoor en gesê: “Luister, hy roep Elia.” Een van hulle bring toe vinnig ’n spons wat in wyn gedruk is. Hy sit die spons op ’n stok sodat Jesus kon drink en sê: “Los hom nou uit sodat ons kan sien wat gaan gebeur. Miskien kom haal Elia hom van die kruis af.” Al wat gebeur het, was dat Jesus hard geskree het en dood is.
MARKUS 15:33-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Om twaalfuur het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur daardie middag. Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het: “ Eloï, Eloï, lemá sabagtani? ” As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?” Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep die profeet Elia. Toe hardloop iemand, maak ’n spons vol suur wyn, sit dit op ’n riet en gee dit vir Hom om te drink. Hy sê toe: “Wag, kom ons kyk of Elia hom kom afhaal!” Maar Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas.