MARKUS 14:60-64
MARKUS 14:60-64 Bybel vir almal (ABA)
Die hoëpriester het in die vergadering opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly, Hy het niks geantwoord nie. Toe vra die hoëpriester vir Hom: “Is jy die Christus, die Seun van God vir wie ons moet prys?” Jesus het gesê: “Ja, Ek is! En julle sal sien Ek, die Seun van die mens, sit op die belangrikste plek langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Ons het nou genoeg gehoor. Julle het gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Almal het gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak.
MARKUS 14:60-64 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God? En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig! Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was.
MARKUS 14:60-64 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie. Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra. “Ek is,” het Jesus geantwoord, “en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?” Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”
MARKUS 14:60-64 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die hoëpriester staan toe in hulle midde op en vra vir Jesus: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Die hoëpriester vra Hom toe weer: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Jesus antwoord: “Ek is! En “julle sal die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel.” Die hoëpriester skeur toe sy klere en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle almal het geoordeel dat Hy die dood verdien.
MARKUS 14:60-64 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die hoëpriester het in die midde opgestaan en Jesus gevra en gesê: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Weer vra die hoëpriester Hom en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die Geseëndes? En Jesus sê: Ek is, en julle sal die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het hom almal tot die dood veroordeel.
MARKUS 14:60-64 Die Boodskap (DB)
Die hoëpriester, wat die voorsitter van die vergadering was, staan toe op en vra vir Jesus: “Nou toe, jy het die lelike dinge gehoor wat hierdie mense oor jou kwytraak. Wat het jy vir jouself te sê?” Maar Jesus het net doodstil gebly. Weer vra die hoëpriester Hom: “Is jy die beloofde Redder, die Seun van die groot God?” “Ek is,” sê Jesus. “En meer nog, julle sal sien hoe Ek, die beloofde Redder, op die ereplek langs die sterke God sit en ook hoe Ek op die wolke gaan kom om julle te oordeel.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy skeur toe sy klere dat almal kan sien hoe ontsteld hy is. “Vir wat soek ons nog na iemand wat vir ons kan vertel wat hierdie man verkeerd gedoen het?” roep hy uit. “Julle almal het dit gehoor. Hierdie man het geen ontsag vir God nie en sê dinge wat God diep seermaak. Wat dink julle van dit alles?” Soos een man het almal saamgestem en gesê dat daar nou geen kwessie meer was nie: Jesus moet doodgemaak word.
MARKUS 14:60-64 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?” Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?” Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is, en julle sal vir My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Ek terugkom met die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het sy godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het eenparig verklaar: “Hy is skuldig. Hy verdien die doodstraf.”