MARKUS 14:43-52
MARKUS 14:43-52 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer!” en hy het vir Jesus gesoen. Die mense wat saam met Judas was, het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester daarmee geslaan en hy het sy oor afgekap. Jesus het gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek was elke dag saam met julle by die tempel. Ek het vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Maar dit alles moet gebeur sodat dit waar kan word wat die Ou Testament sê.” Jesus se dissipels het Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Daar was 'n jongman wat saam met Jesus gegaan het. Hy het nie klere aangehad nie, net 'n stuk lap om sy liggaam. Die mense het hom gegryp en probeer om hom vas te hou, maar hy het die lap daar gelos en kaal weggehardloop.
MARKUS 14:43-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge. En sy verraaier het 'n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen — dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg. En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom. Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom. En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word. Toe het almal Hom verlaat en gevlug. En 'n sekere jongman met 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp; maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.
MARKUS 14:43-52 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.” Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. 'n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net 'n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.
MARKUS 14:43-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En dadelik, terwyl Jesus nog praat, daag Judas, een van die twaalf, daar op. En saam met hom was daar 'n menigte, met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg onder bewaking.” Toe Judas daar aankom, het hy dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Rabbi”, en Hom gesoen. Hulle het Hom gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat naby gestaan het, het sy swaard getrek, die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir hulle: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem? Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar laat die Skrifte vervul word!” Almal het Hom in die steek gelaat en weggevlug. Ook 'n sekere jong man met net 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg. Hulle het hom ook gegryp, maar hy het die linnedoek laat los en nakend weggevlug.
MARKUS 14:43-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dadelik, terwyl hy nog spreek, kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, van die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge af. En hy wat Hom verraai het, het hulle 'n teken gegee en gesê: Wie ek ook al sal soen, dit is hy; neem hom en lei hom veilig weg. En sodra hy gekom het, gaan hy dadelik na hom en sê: Meester, meester! en hom gesoen. En hulle het hom die hande opgelê en hom gegryp. En een van die wat daar gestaan het, het 'n swaard getrek en 'n dienaar van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n dief uitgetrek met swaarde en stokke om My te vang? Ek was daagliks saam met julle in die tempel en leer, en julle het My nie geneem nie, maar die Skrifte moet vervul word. En hulle het hom almal verlaat en gevlug. En 'n sekere jongman het Hom gevolg, met 'n linnedoek om sy naakte liggaam gegiet; en die jongmanne het hom gegryp. En hy het die linnedoek gelos en naak van hulle weggevlug.
MARKUS 14:43-52 Die Boodskap (DB)
Jesus se woorde was nog nie koud nie of daar staan Judas, wat een van sy twaalf getrouste volgelinge was. Hy was nie alleen nie. Om hom en agter hom het ’n hele bende mense gestaan met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om te keer dat hulle die verkeerde een vang, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is die een! Sorg dat julle hom in die hande kry en sê vir die wagte om hom goed op te pas.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi,” sê hy en soen Jesus op die wang. Die mense storm op Jesus af en vang Hom. Een van Jesus se volgelinge pluk toe ’n swaard uit en kap ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. “Dink julle Ek is die een of ander rebel of terroris dat julle hier met ’n klomp wapens aankom om My te vang?” vra Jesus toe. “Ek het dag vir dag hier tussen julle rondgestap. Oop en bloot, voor almal, het Ek op die plein langs die tempel vir mense van God vertel. Hoekom het julle My nie toe gegryp nie? Toemaar, Ek ken die antwoord: dit is omdat wat die Skrif lankal gesê het gaan gebeur, moet gebeur.” Al sy volgelinge het toe gemaak dat hulle wegkom. Een van sy volgelinge het egter op ’n afstand agter die spul mense aangeloop wat vir Jesus gevang het. Hy het net ’n stuk klere van linne aangehad. Toe hulle hom gryp, wikkel hy hom los en hardloop sonder sy klere kaal weg. Sy klere het by die ander mense agtergebly.
MARKUS 14:43-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dadelik hierna – Jesus was nog besig om te praat – kom Judas, een van die twaalf dissipels, daar aan met ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde. Sy verraaier het reeds vooraf vir hulle ’n uitkenningsteken gegee met die woorde: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom en vat hom onder bewaking weg.” Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester,” en Hom gesoengroet. Toe het die ander Hom gegryp en gearresteer. Maar een van die omstanders het ’n swaard getrek, dit geswaai en die slaaf van die hoofpriester se oor afgekap. Toe vra Jesus vir hulle: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer toe Ek dag vir dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar hierdie dinge gebeur sodat wat in die Skrif staan, vervul kan word.” Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Daar was ook ’n jong man wat saam met Jesus na die tuin gekom het. Hy het net ’n naghemp om sy lyf gehad. Hulle probeer hom toe ook vang, maar hy het die naghemp net daar in hulle grypende hande gelos en kaal weggehardloop.