MARKUS 14:35-36
MARKUS 14:35-36 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”
MARKUS 14:35-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.
MARKUS 14:35-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”
MARKUS 14:35-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. Hy het gesmeek: “ Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ”
MARKUS 14:35-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het 'n bietjie vorentoe gegaan en op die grond geval en gebid dat, as dit moontlik was, die uur by hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alles is vir U moontlik; neem hierdie beker van my weg; nogtans nie wat ek wil nie, maar wat U wil.
MARKUS 14:35-36 Die Boodskap (DB)
Jesus het toe ’n entjie verder gaan kniel en God gevra of daar nie miskien ’n moontlikheid was dat die verskriklike dinge wat vir Hom wag, nie hoef te gebeur nie. “My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.”
MARKUS 14:35-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan. “ Abba ” – dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.”