MARKUS 14:32-36
MARKUS 14:32-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.
MARKUS 14:32-36 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.” Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”
MARKUS 14:32-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!” Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”
MARKUS 14:32-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” Hy neem toe vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het erg ontsteld en beangs begin word, en sê toe vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak.” Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. Hy het gesmeek: “ Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ”
MARKUS 14:32-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het by 'n plek gekom met die naam van Getsemane, en Hy sê vir sy dissipels: Sit hier terwyl Ek bid. En hy het Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en begin verbaas word en baie swaar geword; En sê vir hulle: My siel is baie bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En hy het 'n bietjie vorentoe gegaan en op die grond geval en gebid dat, as dit moontlik was, die uur by hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alles is vir U moontlik; neem hierdie beker van my weg; nogtans nie wat ek wil nie, maar wat U wil.
MARKUS 14:32-36 Die Boodskap (DB)
Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit is ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag hier, Ek gaan bid.” Hy het net vir Petrus, Jakobus en Johannes saamgevat. Jesus was aan die worstel en het baie bedruk gevoel. “Ek voel doodsbenoud. Ek kan dit byna nie meer uithou nie,” sê Hy vir die drie. “Wag julle hier en kyk dat niemand ons hier verras nie.” Jesus het toe ’n entjie verder gaan kniel en God gevra of daar nie miskien ’n moontlikheid was dat die verskriklike dinge wat vir Hom wag, nie hoef te gebeur nie. “My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.”
MARKUS 14:32-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.” Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!” Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan. “ Abba ” – dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.”