MARKUS 14:27-30
MARKUS 14:27-30 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal ophou om in My te glo. Die profeet Sagaria het geskryf: “God het gesê: Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape sal weghardloop na al die kante toe. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.” Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nie ophou om in U te glo nie!” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan die tweede maal kraai.”
MARKUS 14:27-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie. Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
MARKUS 14:27-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: “Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.” Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.” Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”
MARKUS 14:27-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal afvallig raak, want daar staan geskryf: “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus sê daarop vir Hom: “Selfs al sal almal struikel, ek sal nie.” Jesus antwoord hom: “•Amen, Ek sê vir jou: Jy sal vandag, vannag nog, voor die haan twee maal kraai, My drie maal verloën.”
MARKUS 14:27-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus sê vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem deur My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na Galilea. Maar Petrus sê vir hom: Al sal almal aanstoot neem, tog sal ek nie. En Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, selfs in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
MARKUS 14:27-30 Die Boodskap (DB)
Jesus het verder gepraat: “Julle almal gaan die rug vir My draai asof julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word en dan na Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie en sê toe ernstig: “Al hardloop almal weg en maak asof hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Wel, dan het Ek nuus vir jou,” kom dit van Jesus. “Vandag, om meer presies te wees, vannag voor dit tyd word vir die haan om die tweede maal te kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy nog nooit iets met My te doen gehad het nie.”
MARKUS 14:27-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf: ‘Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape sal uitmekaargejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.”