MARKUS 14:17-25
MARKUS 14:17-25 Bybel vir almal (ABA)
Toe dit aand geword het, het Jesus en die ander dissipels daar aangekom. Hulle het by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai. Hy eet nou saam met My.” Die dissipels het baie hartseer geword. Elke dissipel het vir Jesus gevra: “Is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Dit is een van julle twaalf dissipels, die een wat sy brood saam met My in die sous druk. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink. Jesus sê toe vir hulle: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir baie mense sal vloei, is die bloed van die verbond. Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek sal nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek nuwe wyn sal drink by God wat Koning is.”
MARKUS 14:17-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf. En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet. Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En 'n ander een: Is dit miskien ek? En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God.
MARKUS 14:17-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?” Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”
MARKUS 14:17-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. •Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die •koninkryk van God sal drink nie.”
MARKUS 14:17-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die aand kom hy met die twaalf. En terwyl hulle sit en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle wat saam met My eet, sal My verraai. En hulle het begin bedroef word en een vir een vir Hom sê: Is dit ek? en 'n ander een sê: Is dit ek? En hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met my in die skottel doop. Die Seun van die mens gaan wel weg, soos van Hom geskrywe is, maar wee die mens deur wie die Seun van die mens verraai is! goed was dit vir daardie man as hy nooit gebore was nie. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood en seën en breek dit en gee aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. En Hy neem die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle; en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed van die nuwe testament, wat vir baie vergiet word. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nie meer van die vrug van die wingerdstok drink nie, tot op daardie dag dat Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God.
MARKUS 14:17-25 Die Boodskap (DB)
Teen die aand se kant het Jesus met sy ander volgelinge ook daar aangekom. Aan tafel sê Jesus toe vir hulle: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê. Een van julle wat nou hier saam met ons sit en eet, gaan My in die rug steek.” Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?” “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.”
MARKUS 14:17-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teen die aand het Jesus toe saam met die twaalf dissipels daar aangekom. Terwyl hulle besig was om te eet, sê Jesus: “Ek sê nou vir julle, een van julle gaan My uitlewer, een van julle wat nou hier saam met My eet.” Geweldig geskok vra hulle toe een vir een vir Hom: “Dit kan tog sekerlik nie ek wees nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Hy is een van julle twaalf, een wat saam met My sy brood in die bak week. Ek, die Seun van die Mens, moet inderdaad sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met die man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!” Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.”