MARKUS 12:35-37
MARKUS 12:35-37 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat die Christus die Seun van Dawid is? Dawid self het gesê wat die Heilige Gees vir hom gesê het: “ Die Here het vir my Here, die Koning, gesê: Sit hier langs My, op die belangrikste plek. Ek sal jou vyande voor jou laat buig en jy sal jou voete op hulle sit. “Dawid self noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?” Die groot klomp mense het graag na Jesus geluister.
MARKUS 12:35-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl Jesus in die tempel leer, antwoord Hy en sê: Hoe sê die skrifgeleerdes dat die Christus die seun van Dawid is? Want Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete. Dawid self noem Hom dus Here; waarvandaan is Hy dan sy seun? En die groot menigte het graag na Hom geluister.
MARKUS 12:35-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is? Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ “Dawid self noem Hom ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?” Die groot menigte mense het graag na Hom geluister.
MARKUS 12:35-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná hierdie antwoord van Hom het Jesus op die tempelterrein onderrig gegee en gesê: “Hoe is dit dat die skrifkenners sê dat die Christus Dawid se seun is? Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het. ’ “Dawid self noem Hom ‘Here’. Hoe kan Hy dan sý seun wees?” Die groot skare het graag na Hom geluister.
MARKUS 12:35-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus antwoord en sê terwyl Hy in die tempel leer: Hoe sê die skrifgeleerdes dat Christus die Seun van Dawid is? Want Dawid het self deur die Heilige Gees gesê: Die HERE het tot my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank vir u voete. Dawid noem Hom dan self Here; en waar is hy dan sy seun? En die gewone mense het hom met graagte gehoor.
MARKUS 12:35-37 Die Boodskap (DB)
Jesus was weer in die tempel besig om mense van God te vertel. Hy vra toe vir die mense by Hom: “Hoekom sê die Joodse skrifkenners dat die beloofde Redder uit die familie van koning Dawid gaan kom? Kyk wat het die Heilige Gees Dawid in die Skrif laat skryf: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit hier op die ereplek langs My tot Ek met al jou vyande klaargespeel het en hulle magteloos voor jou lê.’ “Uit hierdie deel sien ons dat Dawid die Redder wat beloof is ‘Here’ noem. Hoe kan Hy dan terselfdertyd ook Dawid se seun wees?”
MARKUS 12:35-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Later, toe Jesus besig was om die mense by die tempel te onderrig, het Hy die volgende vraag gestel: “Hoe is dit dan dat die skrifkenners beweer dat die Messias die seun van Dawid is? Dawid het tog self deur die Heilige Gees gesê: ‘Die HERE het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Dawid noem Hom tog self Here. Hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?” Die groot skare het dit geniet om na Hom te luister.