MARKUS 11:1-14

MARKUS 11:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het naby Jerusalem gekom, by twee dorpies op die Olyf-berg: Betfage en Betanië. Toe hulle daar kom, stuur Jesus twee van sy dissipels en Hy sê vir hulle: “Gaan na die dorpie hier voor julle, en wanneer julle daar ingaan, sal julle 'n jong donkie sien wat vasgemaak is. Daar het nog nooit 'n mens op hom gesit nie. Maak hom los en bring hom hiernatoe. Wanneer iemand vir julle vra hoekom julle dit doen, dan moet julle sê: Die Here wil hom gebruik, maar Hy sal hom gou weer hiernatoe terugstuur.” Die twee dissipels het gegaan en hulle het buite in die straat 'n jong donkie gekry wat vasgemaak was by 'n deur. Hulle het die donkie losgemaak. Party van die mense wat daar gestaan het, vra toe vir hulle: “Wat doen julle? Hoekom maak julle die donkie los?” Die dissipels het die mense geantwoord soos Jesus gesê het, en die mense het hulle nie gekeer nie. Die dissipels bring toe die jong donkie na Jesus toe en hulle gooi van hulle klere oor die donkie. Jesus het op die donkie gaan sit. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi. Ander mense het takke afgekap van die bome in die veld en hulle het dit in die pad gegooi. Die mense wat voor Jesus geloop het en die ander mense wat Hom gevolg het, het aangehou om hard te skree en te sê: “ Prys God! Prys die Man wat kom! Die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen! Prys Hom! Hy sal nou begin om Koning te wees oor almal, soos ons voorvader Dawid! Prys God in die hoogste hemel!” Jesus het in Jerusalem na die tempel-gronde gegaan. Hy het daar rondgekyk na alles. Daarna het Jesus en sy twaalf dissipels na Betanië gegaan, want dit was al laat. Die volgende dag het Jesus en sy dissipels uit Betanië gegaan. Jesus het honger geword en Hy het 'n vyeboom gesien wat vol blare was. Die boom was ver en Hy het daarnatoe gegaan om te sien of daar iets aan die boom was om te eet. Toe Hy daar kom, sien Hy daar is niks, net blare. Dit was nie die regte tyd vir vye nie. Jesus sê toe vir die boom: “Niemand sal weer 'n vy van jou eet nie, nooit nie.” Sy dissipels het gehoor wat Hy gesê het.

MARKUS 11:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe hulle naby Jerusalem kom, by Bétfagé en Betánië, aan die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels uit en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle; en dadelik as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. En as iemand vir julle sê: Waarom doen julle dit? moet julle antwoord: Die Here het hom nodig; en dadelik sal hy hom hierheen stuur. En hulle het gegaan en die vul by die deur, buite op die straat, vasgemaak gevind en hom losgemaak. Daarop sê sommige van die wat daar staan, vir hulle: Wat maak julle dat julle die vul losmaak? En hulle antwoord hul soos Jesus beveel het. Toe laat hulle hul begaan. En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het op hom gaan sit. Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad. En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele! En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië. EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad; en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie. En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor.

MARKUS 11:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.” Hulle het toe gegaan en 'n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak. Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?” Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is! Prys Hom in die hoogste hemel!” Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het. Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. Hy sien toe op 'n afstand 'n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien 'n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” Sy dissipels het dit gehoor.

MARKUS 11:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië teen die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en sodra julle in die dorpie ingaan, sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom. As iemand julle vra, ‘Waarom doen julle dit?’ sê dan, ‘Die Here het hom nodig, en Hy sal hom dadelik hierheen terugstuur.’ ” Hulle het gegaan en 'n donkievul gevind, vasgemaak by 'n deur buite op die straat, en hom losgemaak. Van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: “Waarom maak julle die donkievul los?” Hulle het hulle toe geantwoord soos Jesus beveel het, en die mense het hulle laat begaan. Hulle bring toe die donkievul na Jesus en gooi hulle boklere oor hom, en Jesus het op hom gaan sit. Baie mense het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer takke met blare wat hulle in die veld afgekap het. Dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom, dié van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste!” Jesus het in Jerusalem die tempelterrein binnegegaan. En nadat Hy na alles rondom Hom gekyk het, het Hy, omdat dit reeds aand was, na Betanië vertrek met die twaalf. Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. Hy het van ver af 'n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. Hy sê toe vir die vyeboom: “Mag niemand tot in ewigheid ooit weer 'n vrug van jou af eet nie!” Sy dissipels het dit gehoor.

MARKUS 11:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië, by die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels, En hy sê vir hulle: Gaan na die dorp teenoor julle; maak hom los en bring hom. En as iemand vir julle sê: Waarom doen julle dit? sê julle dat die Here hom nodig het; en dadelik sal hy hom hierheen stuur. En hulle het weggegaan en die vul gevind wat buitekant by die deur vasgemaak was, op 'n plek waar twee paaie mekaar ontmoet; en hulle maak hom los. En sommige van die wat daar gestaan het, sê vir hulle: Wat doen julle as julle die vul losmaak? En hulle het vir hulle gesê net soos Jesus beveel het; en hulle het hulle laat gaan. En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere op hom gegooi; en hy het op hom gaan sit. En baie het hulle klere op die pad uitgesprei, en ander het takke van die bome afgekap en dit op die pad gestrooi. En die wat vooruit gegaan het en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here: Geseënd is die koninkryk van ons vader Dawid, wat kom in die Naam van die Here: Hosanna in die hoogste hemele. En Jesus het in Jerusalem en in die tempel ingegaan; en nadat Hy alles rondom gekyk het, en nou die aand geword het, het Hy saam met die twaalf na Betanië uitgegaan. En die volgende dag, toe hulle van Betanië af gekom het, was Hy honger. En toe hy 'n vyeboom van ver af sien met blare, het hy gekom, as hy dalk iets daaraan kon kry; en toe hy daarby kom, het hy niks anders as blare gekry nie; want die tyd van vye was nog nie. En Jesus antwoord en sê vir hom: Niemand eet vir ewig vrug van jou hierna nie. En sy dissipels het dit gehoor.

MARKUS 11:1-14 Die Boodskap (DB)

Hulle kom toe by Betfage en Betanië teen die hange van die Olyfberg aan. Dit was nie ver van Jerusalem af nie. Jesus vra toe twee van sy volgelinge: “Gaan na die dorpie toe hier voor ons. Nes julle by die dorpie inkom, sal julle ’n jong donkie kry waarop niemand nog ooit gery het nie. Maak hom los en bring hom hier. As iemand julle voorkeer en vra wat julle doen, sê vir hom: ‘Die Here het hierdie donkie nodig. Sodra Hy klaar is, sal Hy die donkie terugstuur.’” Hulle is toe daar weg en kry die donkie wat in die straat by ’n deur vasgemaak staan. Toe hulle die donkie losmaak, is daar dadelik ’n paar mense by wat wil weet wat hulle doen. Hulle sê toe wat Jesus gesê het. Die mense was tevrede en het hulle hulle gang laat gaan. Toe hulle met die donkie by Jesus kom, gooi hulle van hulle klere oor die donkie se rug. Jesus klim toe op die donkie. Die mense was baie opgewonde en wou wys dat Jesus baie spesiaal is. Baie van hulle het los stukke klere op die pad voor Hom oopgegooi terwyl ander die pad besaai het met groen takkies en blare wat hulle langs die pad gepluk het. Reg rondom Jesus het mense begin skree: “Hoera! Prys Hom wat in die Naam van die Here self kom. Hy gaan heers soos ons groot koning Dawid eens op ’n tyd geheers het. Mag God hierdie heerskappy groot en wonderlik maak. Prys God in die hemel!” Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan. Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê.

MARKUS 11:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe hulle naby Jerusalem kom, het Jesus en sy dissipels eers die dorpies Betfage en Betanië, wat teen die Olyfberg lê, bereik. Daarop het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle en nes julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie wat nog nooit gery is nie, vasgemaak sien staan. Maak dit los en bring dit hierheen. As iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ sê dan: ‘Die Here het die donkie nodig; Hy sal hom nou-nou terugstuur.’” Die twee dissipels het toe vertrek en hulle het ’n jong donkie gekry wat buite in die straat by die ingang van ’n huis vasgemaak staan. Terwyl hulle hom losmaak, het van die omstanders beswaar gemaak en vir hulle gesê: “Wat dink julle doen julle? Hoe kan julle die donkie sommerso losmaak?” Hulle het toe geantwoord soos Jesus hulle beveel het, en die mense het hulle toe laat begaan. Daarna bring hulle die jong donkie na Jesus toe. Hulle sit toe hulle bo-klere op die donkie en Jesus gaan sit op hom. Baie van die skare het toe hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi, ander weer groen takkies wat hulle in die veld gekap het. Met Jesus in die middel van die optog het hulle uitgeroep: “Prys God! Geseënd is die Een wat kom in die Here se Naam! Geseënd is die koningsheerskappy van ons voorvader Dawid wat aan die kom is! Prys God in die hoogste hemel!” So het Jesus toe in Jerusalem aangekom en na die tempel toe gegaan waar Hy alles rondom bekyk het. Omdat dit alreeds laat was, het Hy toe saam met die twaalf dissipels uitgegaan na Betanië toe. Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword. Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was. Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê.