MARKUS 10:17-31

MARKUS 10:17-31 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus verder wou gaan, het iemand na Hom toe gehardloop. Hy het gekniel voor Jesus en hy het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. Jy weet wat God gesê het: “ Jy mag nie iemand doodmaak nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy mag nie skelm wees en iemand anders se goed vat nie, jy moet jou ouers respekteer.” Die man het vir Jesus gesê: “Meneer, vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.” Jesus het lank na hom gekyk en Hy het lief geword vir hom en vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Die man was baie ongelukkig toe hy hoor wat Jesus sê. Hy het weggegaan en hy was hartseer, want hy was baie ryk. Jesus het gekyk na die mense rondom Hom en Hy het vir sy dissipels gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie.” Die dissipels was verbaas oor wat Jesus gesê het. Maar Jesus het ook vir hulle gesê: “My vriende, dit is baie moeilik om in te kom waar God Koning is. 'n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is. 'n Kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Die dissipels was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk. Hy het gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.” Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U.” Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry. Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma's en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal 'n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry. “Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”

MARKUS 10:17-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder. Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort — gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik. Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.

MARKUS 10:17-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder. ” “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.” Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.” Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.” Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.” Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

MARKUS 10:17-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Hy uitgaan om sy reis te hervat, hardloop daar iemand na Hom toe, kniel voor Hom en vra Hom: “Goeie Meester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie, ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en jou moeder.’ ” Maar hy antwoord Hom: “Meester, al hierdie dinge het ek van jongs af nagekom.” Jesus het stip na hom gekyk, hom liefgekry en vir hom gesê: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.” Maar hy het terneergedruk geword oor hierdie antwoord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe om Hom rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die •koninkryk van God ingaan!” Die dissipels was verbysterd oor sy woorde. Jesus sê toe weer vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die dissipels was heeltemal uit die veld geslaan en het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik. ” •Petrus het vir Hom gesê: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg.” Jesus het geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, huis, broers of susters, moeder, vader of kinders of grond ter wille van My en ter wille van die evangelie agterlaat, en nie nou in hierdie tyd honderd maal soveel sal ontvang nie: huise, broers en susters, ma's en kinders, en grond – en vervolgings daarmee saam – en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.”

MARKUS 10:17-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Hy op die pad uitgegaan het, kom daar een aan die hardloop en kniel voor Hom en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? daar is niemand goed nie, behalwe een, dit is God. Jy ken die gebooie: Moenie egbreek nie, moenie doodslaan nie, moenie steel nie, moenie valse getuienis gee nie, bedrieg nie, eer jou vader en jou moeder. En hy antwoord en sê vir hom: Meester, dit alles het ek onderhou van my jeug af. Toe Jesus hom aanskou, het hy hom liefgehad en vir hom gesê: Een ding kom jou kort: gaan, verkoop alles wat jy het en gee aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom, neem die kruis op en volg ek. En hy was bedroef oor dié woord en het bedroef weggegaan, want hy het groot besittings gehad. En Jesus het rondgekyk en vir sy dissipels gesê: Hoe beswaarlik sal die wat ryk is, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde. Maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe moeilik is dit vir die wat op rykdom vertrou om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was buitengewoon verbaas en het onder mekaar gesê: Wie kan dan gered word? En Jesus het hulle aangekyk en gesê: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alle dinge moontlik. Toe begin Petrus vir hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond verlaat het ter wille van My en die evangelie nie, Maar hy sal nou in hierdie tyd honderdvoudig ontvang, huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, met vervolging; en in die toekomstige wêreld die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees; en die laaste eerste.

MARKUS 10:17-31 Die Boodskap (DB)

Net toe Jesus by die huis uitgaan om verder te gaan, kom daar ’n man na Hom toe aangehardloop en val op sy knieë voor Hom neer. “Meneer, U is ’n goeie prediker,” sê hy. “Sê my, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry wat God vir mense gee?” Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed. Wel, jy ken mos die wil van God soos ons dit uit die wet leer. Daar staan dat jy nie iemand mag doodmaak nie, dat jy nie ontrou aan jou huweliksmaat moet wees nie, dat jy nie ander se goed mag vat nie, dat jy nie mag lieg of mense onder die verkeerde indruk bring en hulle so om die bos lei nie, en dat jy jou ouers met respek moet behandel.” “Ek doen al dié dinge van kleins af al, Meneer,” sê die man vir Jesus. Jesus kyk toe na hom. Dit was ’n oulike man van wie Jesus gehou het. “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom terug en word een van my volgelinge.” Aan die man se gesig kon ’n mens sien dat hy baie teleurgestel en uit die veld geslaan was, want hy was baie ryk. Met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig is hy daar weg. Jesus bekyk die situasie toe so en sê vir sy getrouste volgelinge: “Ai, wat ’n opdraande pad is dit nie vir ryk mense om deel te word van God se nuwe wêreld nie.” Dié woorde het Jesus se volgelinge nogal verbaas. Maar Jesus het verder gepraat: “My kinders, dit is glad nie so maklik om in die nuwe wêreld van God in te gaan nie. Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.” Nou was Jesus se volgelinge eers verbaas. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie op aarde sal dan in God se nuwe wêreld kan kom?” Jesus kyk toe vir hulle en sê: “Dit lyk miskien vir mense onmoontlik, maar God kan alles doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie.” Petrus begin toe noem wat hy gedoen het: “Wel, ons was darem gewillig om alles te laat staan en agter U aan te kom.” “Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie. As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond. Maar Christenskap is nie net lekker nie. ’n Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ’n Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ’n persoon die ewige lewe ook kry. Baie mense wat nou vreeslik in tel is en hulle baie belangrik hou, sal dan niks wees nie en wie nou niks is nie, sal dan die belangrikste plekke inneem.”

MARKUS 10:17-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” “Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed. Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’” “Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.” Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.” Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!” Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.” Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit só is, wie kan dan verlos word?” Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!” Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.” Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het, sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe! Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”