MARKUS 1:9-13
MARKUS 1:9-13 Bybel vir almal (ABA)
In dieselfde tyd het Jesus van die stad Nasaret gekom. Nasaret is in die provinsie Galilea. Johannes het vir Jesus in die Jordaan-rivier gedoop. En dadelik toe Jesus uit die water opstaan, het Hy gesien die hemel skeur oop en die Heilige Gees kom af na Hom toe soos 'n duif uit die lug afkom. Jesus het ook gehoor Iemand sê uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek is lief vir Jou. Jy maak My bly.” Dadelik daarna het die Heilige Gees vir Jesus weggestuur in die woestyn in. Jesus het 40 dae lank in die woestyn gebly, en die Satan het probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het vir Hom gesorg.
MARKUS 1:9-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in daardie dae het Jesus van Násaret in Galiléa gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemele skeur en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. En daar het 'n stem uit die hemele gekom: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn. En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.
MARKUS 1:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos 'n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.
MARKUS 1:9-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos 'n duif op Hom sien neerdaal. En 'n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!” Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg.
MARKUS 1:9-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur in daardie dae dat Jesus van Násaret in Galilea gekom het en deur Johannes in die Jordaan gedoop is. En dadelik uit die water opgekom, sien Hy die hemele geopen en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. En daar het 'n stem uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En dadelik dryf die Gees hom die woestyn in. En hy was daar in die woestyn veertig dae lank, deur Satan versoek; en was saam met die wilde diere; en die engele het Hom gedien.
MARKUS 1:9-13 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag kom Jesus ook daar aan. Hy het die hele pad van die noorde af gekom, van Nasaret in die provinsie Galilea. Daar gekom, het Johannes Hom in die Jordaan gedoop. Toe Jesus na sy doop uit die water kom, was dit of die hemel oopskeur. Iets wat soos ’n duif gelyk het, het van bo af op Hom neergesak. Dit was die Heilige Gees. Net toe weerklink ’n stem uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek het Jou lief en Jy maak My bly.” Die stem was nog nie behoorlik weg nie of die Heilige Gees vat Jesus die woestyn in. Daar het Hy 40 dae gebly. Satan het Hom nie met rus gelaat nie. Satan wou kyk of hy Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie. Jesus was nie alleen nie. Die wilde diere van die veld was by Hom en die engele het gesorg dat Hy alles het wat nodig was.
MARKUS 1:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ongeveer daardie tyd het Jesus van Nasaret in Galilea af gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop. Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ’n duif na Hom toe afkom. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.” Dadelik hierna het die Heilige Gees Jesus na die woestyn laat gaan. Hy was daar vir 40 dae terwyl Hy deur Satan versoek is. Hy was daar saam met die wilde diere, en engele het Hom versorg.