MARKUS 1:35-45

MARKUS 1:35-45 Die Boodskap (DB)

Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.” Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.” Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag. Op pad het ’n melaatse man Hom op sy knieë kom smeek: “As U maar net wil, kan U my gesond maak.” Dit het Jesus diep geraak. Uit meegevoel raak Hy aan die man en sê: “Ek wíl dit doen. Word gesond.” Daar en dan het hy gesond geword. Sy vel was weer soos ’n normale mens s’n. Jesus vra die man toe dringend om nie daaroor te praat nie en stuur hom weg: “Moet asseblief nie by mense spog oor wat hier gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy tevrede is dat jy gesond is, gaan offer wat Moses se wet voorskryf vir mense wat gesond geword het. Almal sal dan weet dat jy gesond is.” Hy het egter nie na Jesus geluister nie en vir almal wat hy teëgekom het, vertel wat gebeur het. So het die nuus vinnig versprei. Dit het beteken dat Jesus nie meer ongemerk in die dorpies kon gaan rondstap nie. Hy moes buite die dorpies in die omgewing bly waar dit stiller was. Dit het ook nie eintlik gehelp nie, want die mense het van oral af na Hom toe gestroom.