MARKUS 1:21-39

MARKUS 1:21-39 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het in die stad Kapernaum gekom. Op die Sabbatdag daarna het Jesus reguit na die sinagoge gegaan en Hy het daar begin om vir die mense te leer. Die mense was baie verbaas oor hoe Jesus vir hulle geleer het, want hulle het besef dat dit van God kom. Jesus het vir hulle nie geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie. Skielik kom daar toe in hulle sinagoge 'n man, daar was 'n onrein gees in hom, en die gees het geskree: “Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is: U is die Heilige wat van God kom.” Jesus het met die onrein gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!” Die onrein gees het die man op die grond laat val en die man het geruk en geskop. Die gees het hard geskree en hy het toe uit die man uitgegaan. Almal was baie verbaas en hulle het aangehou praat daaroor. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat het gebeur? Hierdie man leer vir die mense iets wat anders is. Dit kom van God. Hy sê ook vir die onrein geeste wat hulle moet doen, en hulle is gehoorsaam aan hom.” Die mense het oral in die hele provinsie Galilea gepraat oor wat Jesus gedoen het. Jesus en sy dissipels het uit die sinagoge na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle. Simon se skoonma was siek in die bed. Sy het 'n hoë koors gehad en die mense het dadelik vir Jesus vertel dat sy siek is. Jesus het na haar toe gegaan, Hy het haar hand geneem en Hy het haar gehelp om op te staan. Die koors het weggegaan, en sy het vir hulle kos gegee. In die aand toe die son al onder was en die Sabbatdag verby was, het hulle aangehou om baie mense na Jesus toe te bring, siek mense en mense wat duiwels in hulle gehad het. Al die mense van die stad het bymekaargekom by die deur van die huis. Jesus het baie mense gesond gemaak wat verskillende soorte siektes gehad het. Hy het ook baie duiwels uit die mense gejaag. Jesus het gesê die duiwels mag nie praat nie, want die duiwels het geweet wie Hy is. Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na 'n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid. Simon en sy vriende het vir Jesus gaan soek en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Jesus antwoord hulle: “Kom ons gaan weg na die stede hier naby, want Ek wil daar ook gaan preek. Dit is hoekom Ek gekom het.” Jesus het toe deur die hele provinsie Galilea gegaan en Hy het in hulle sinagoges gepreek. Hy het ook duiwels uit mense uitgejaag.

MARKUS 1:21-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa. EN dadelik toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, kom hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andréas. En die skoonmoeder van Simon het siek gelê aan die koors; en dadelik het hulle Hom van haar gesê. Daarop gaan Hy na haar, neem haar hand en rig haar op, en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was. En die hele stad het by die deur saamgekom. En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. En Simon en die wat by hom was, het Hom gevolg. En toe hulle Hom vind, sê hulle vir Hom: Almal soek U. En Hy sê vir hulle: Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan. En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf.

MARKUS 1:21-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.” En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat. Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het daar met 'n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

MARKUS 1:21-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie. Juis toe was daar in hulle sinagoge 'n man in die mag van 'n •onrein gees, en hy het hard geskreeu: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God!” Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, kliphard geskreeu en uit hom uit gegaan. Almal was verbaas, en het daarom onder mekaar geredeneer: “Wat is dit dié – 'n nuwe gesaghebbende lering? Hy beveel selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom!” Die nuus oor Hom het dadelik oral in die hele omgewing van Galilea versprei. Nadat hulle uit die •sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan. Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien. Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. Die hele dorp het by die deur saamgedrom. Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na 'n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan. Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle •sinagoges gepreek en demone uitgedryf.

MARKUS 1:21-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hulle het na Kapernaum gegaan; en dadelik op die sabbatdag het Hy in die sinagoge ingegaan en geleer. En hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onrein gees; en hy het uitgeroep, en gesê: Laat ons staan; wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? kom jy om ons te vernietig? Ek ken U wie U is, die Heilige van God. En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit. En toe die onrein gees hom verskeur en met 'n groot stem uitroep, het hy uit hom uitgegaan. En hulle was almal verbaas, sodat hulle onder mekaar gevra het en gesê het: Wat is dit? watter nuwe leerstelling is dit? want met gesag beveel Hy selfs die onreine geeste, en hulle is Hom gehoorsaam. En dadelik het sy roem versprei in die hele gebied rondom Galilea. En dadelik, toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, het hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andreas ingegaan. Maar Simon se vrou se ma het siek gelê van koors, en hulle het hom eers van haar vertel. En hy het gekom en haar aan die hand gegryp en haar opgetel; en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. En teen die aand, toe die son ondergaan het, het hulle almal wat siek was, en die wat van duiwels beset was, na Hom gebring. En die hele stad was by die ingang bymekaar. En Hy het baie genees wat aan allerhande siektes siek was, en baie duiwels uitgedryf; en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. En in die môre, 'n lang tyd voor die dag, opgestaan, het hy uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. En Simon en die wat saam met hom was, het hom gevolg. En toe hulle hom kry, sê hulle vir hom: Almal soek jou. En hy sê vir hulle: Laat ons na die volgende stede gaan, dat ek ook daar kan preek; want daarom het ek uitgegaan. En Hy het in hulle sinagoges deur die hele Galilea gepreek en duiwels uitgedryf.

MARKUS 1:21-39 Die Boodskap (DB)

Van daar af is hulle Kapernaum toe. Op die sabbat het Jesus sinagoge toe gegaan en met mense oor godsdienstige dinge begin praat om hulle te help om dit beter te verstaan. Die mense se monde het oopgehang, want sy woorde was so anders. Hulle kon na Jesus luister, want hulle kon sien dat Hy weet waarvan Hy praat. Hulle eie geleerdes wat vir hulle moes verduidelik wat in die wet staan, het nie naastenby soveel gesag en respek afgedwing nie. Jesus was nog aan die praat, toe gil ’n man hard. Hy was in die greep van ’n bose, duiwelse gees. “Wat kom soek Jy hier, Jesus van Nasaret? Het Jy gekom om vir ons moeilikheid te maak en ons te vernietig? Ek ken Jou; ek weet wie Jy is - Jy is die Heilige van God.” “Bly stil!” sê Jesus skerp. “Gee pad uit hierdie man uit.” Die man het vreeslik begin ruk soos die duiwelse gees hom rondgepluk het. Toe is die gees skreeuend uit die man uit. Die mense was toe eers verbaas. Hulle kon byna nie glo wat hulle sien nie en het onder mekaar begin praat. “Wat gaan hier aan? Ons sien en leer hier van dinge waarvan ons niks weet nie. En dit is nie sommer kinderspeletjies nie. Daar is gesag daaragter, want kyk hoe luister die bose geeste na Hom wanneer Hy iets sê.” Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Die mense in die hele provinsie van Galilea was aan die praat daaroor. Na die episode in die sinagoge is Jesus saam met Jakobus en Johannes na Simon en Andreas se huis toe. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad. Hulle gaan vertel toe vir Jesus daarvan en Hy is dadelik na haar toe. Hy vat haar toe aan die hand en help haar op. Toe hulle weer sien, was die koors weg. Sy het opgestaan en vir hulle kos gemaak. Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was. Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is. Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.” Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.” Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag.

MARKUS 1:21-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!” Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!” Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei. Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle. Simon se skoonma was siek in die bed vanweë ’n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel. Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle ’n ete voorberei. Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring. Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien. Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie bose geeste uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê. Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid. Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.” Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.” So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedryf.