MARKUS 1:21-28
MARKUS 1:21-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie. Juis toe was daar in hulle sinagoge 'n man in die mag van 'n •onrein gees, en hy het hard geskreeu: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God!” Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, kliphard geskreeu en uit hom uit gegaan. Almal was verbaas, en het daarom onder mekaar geredeneer: “Wat is dit dié – 'n nuwe gesaghebbende lering? Hy beveel selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom!” Die nuus oor Hom het dadelik oral in die hele omgewing van Galilea versprei.
MARKUS 1:21-28 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het in die stad Kapernaum gekom. Op die Sabbatdag daarna het Jesus reguit na die sinagoge gegaan en Hy het daar begin om vir die mense te leer. Die mense was baie verbaas oor hoe Jesus vir hulle geleer het, want hulle het besef dat dit van God kom. Jesus het vir hulle nie geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie. Skielik kom daar toe in hulle sinagoge 'n man, daar was 'n onrein gees in hom, en die gees het geskree: “Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is: U is die Heilige wat van God kom.” Jesus het met die onrein gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!” Die onrein gees het die man op die grond laat val en die man het geruk en geskop. Die gees het hard geskree en hy het toe uit die man uitgegaan. Almal was baie verbaas en hulle het aangehou praat daaroor. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat het gebeur? Hierdie man leer vir die mense iets wat anders is. Dit kom van God. Hy sê ook vir die onrein geeste wat hulle moet doen, en hulle is gehoorsaam aan hom.” Die mense het oral in die hele provinsie Galilea gepraat oor wat Jesus gedoen het.
MARKUS 1:21-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa.
MARKUS 1:21-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.” En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.
MARKUS 1:21-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het na Kapernaum gegaan; en dadelik op die sabbatdag het Hy in die sinagoge ingegaan en geleer. En hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onrein gees; en hy het uitgeroep, en gesê: Laat ons staan; wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? kom jy om ons te vernietig? Ek ken U wie U is, die Heilige van God. En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit. En toe die onrein gees hom verskeur en met 'n groot stem uitroep, het hy uit hom uitgegaan. En hulle was almal verbaas, sodat hulle onder mekaar gevra het en gesê het: Wat is dit? watter nuwe leerstelling is dit? want met gesag beveel Hy selfs die onreine geeste, en hulle is Hom gehoorsaam. En dadelik het sy roem versprei in die hele gebied rondom Galilea.
MARKUS 1:21-28 Die Boodskap (DB)
Van daar af is hulle Kapernaum toe. Op die sabbat het Jesus sinagoge toe gegaan en met mense oor godsdienstige dinge begin praat om hulle te help om dit beter te verstaan. Die mense se monde het oopgehang, want sy woorde was so anders. Hulle kon na Jesus luister, want hulle kon sien dat Hy weet waarvan Hy praat. Hulle eie geleerdes wat vir hulle moes verduidelik wat in die wet staan, het nie naastenby soveel gesag en respek afgedwing nie. Jesus was nog aan die praat, toe gil ’n man hard. Hy was in die greep van ’n bose, duiwelse gees. “Wat kom soek Jy hier, Jesus van Nasaret? Het Jy gekom om vir ons moeilikheid te maak en ons te vernietig? Ek ken Jou; ek weet wie Jy is - Jy is die Heilige van God.” “Bly stil!” sê Jesus skerp. “Gee pad uit hierdie man uit.” Die man het vreeslik begin ruk soos die duiwelse gees hom rondgepluk het. Toe is die gees skreeuend uit die man uit. Die mense was toe eers verbaas. Hulle kon byna nie glo wat hulle sien nie en het onder mekaar begin praat. “Wat gaan hier aan? Ons sien en leer hier van dinge waarvan ons niks weet nie. En dit is nie sommer kinderspeletjies nie. Daar is gesag daaragter, want kyk hoe luister die bose geeste na Hom wanneer Hy iets sê.” Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Die mense in die hele provinsie van Galilea was aan die praat daaroor.
MARKUS 1:21-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!” Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!” Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.