MARKUS 1:14-45

MARKUS 1:14-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. Toe Hy 'n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan. Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.” En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat. Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het daar met 'n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe. Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!” Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in 'n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

MARKUS 1:14-45 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die •koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.” Terwyl Hy langs die See van Galilea loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. Hy het 'n entjie verder geloop en Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die boot besig was om nette heel te maak. Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle vader Sebedeus met die huurarbeiders in die boot agtergelaat, en weggegaan agter Hom aan. Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie. Juis toe was daar in hulle sinagoge 'n man in die mag van 'n •onrein gees, en hy het hard geskreeu: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God!” Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, kliphard geskreeu en uit hom uit gegaan. Almal was verbaas, en het daarom onder mekaar geredeneer: “Wat is dit dié – 'n nuwe gesaghebbende lering? Hy beveel selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom!” Die nuus oor Hom het dadelik oral in die hele omgewing van Galilea versprei. Nadat hulle uit die •sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan. Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien. Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. Die hele dorp het by die deur saamgedrom. Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na 'n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid. Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan. Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle •sinagoges gepreek en demone uitgedryf. 'n Melaatse kom toe na Jesus, en terwyl hy neerkniel, smeek hy Hom en sê: “As U wil, kan U my rein maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!” Die melaatsheid het hom onmiddellik verlaat en hy het rein geword. Jesus het hom ernstig gewaarsku, hom dadelik weggestuur en vir hom gesê: “Sorg dat jy vir niemand iets vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het as bewys vir hulle.” Maar hy het weggegaan en begin om dit wyd en syd te vertel en die nuus te versprei. Die gevolg was dat Jesus nie openlik in 'n dorp kon ingaan nie, maar buite in verlate plekke gebly het. Steeds het mense van oral af na Hom toe bly kom.

MARKUS 1:14-45 Die Boodskap (DB)

’n Rukkie daarna is Johannes in die tronk gestop. Jesus is toe terug Galilea toe en het vir mense begin vertel watter goeie nuus God vir hulle het. “Die tyd is nou ryp,” het Hy gesê. “Die nuwe wêreld van God is aan die kom. Almal sal God as die groot Heerser moet erken. Ruk julle reg en draai terug na God toe. Luister na die goeie nuus en maak dit julle eie.” Op ’n dag het Jesus langs die See van Galilea gestap. Daar kry Hy twee vissermanne wat besig was om hulle nette in die see te gooi. Dit was twee broers, Simon en Andreas. “Kom saam met My. Ek sal julle wys om op ’n ander manier vissers te wees, nie van vis nie, maar van mense, sê Jesus toe.” Hulle los toe alles net so en is saam met Hom. ’n Entjie verder sien hulle nog twee broers aan die werk om die nette reg te kry. Hulle was Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. Jesus nooi hulle toe ook daar en dan saam. Sonder om te huiwer is hulle ook agter Jesus aan. Hulle pa, Sebedeus, en die mense wat vir hom gewerk het, het alleen in die boot agtergebly. Van daar af is hulle Kapernaum toe. Op die sabbat het Jesus sinagoge toe gegaan en met mense oor godsdienstige dinge begin praat om hulle te help om dit beter te verstaan. Die mense se monde het oopgehang, want sy woorde was so anders. Hulle kon na Jesus luister, want hulle kon sien dat Hy weet waarvan Hy praat. Hulle eie geleerdes wat vir hulle moes verduidelik wat in die wet staan, het nie naastenby soveel gesag en respek afgedwing nie. Jesus was nog aan die praat, toe gil ’n man hard. Hy was in die greep van ’n bose, duiwelse gees. “Wat kom soek Jy hier, Jesus van Nasaret? Het Jy gekom om vir ons moeilikheid te maak en ons te vernietig? Ek ken Jou; ek weet wie Jy is - Jy is die Heilige van God.” “Bly stil!” sê Jesus skerp. “Gee pad uit hierdie man uit.” Die man het vreeslik begin ruk soos die duiwelse gees hom rondgepluk het. Toe is die gees skreeuend uit die man uit. Die mense was toe eers verbaas. Hulle kon byna nie glo wat hulle sien nie en het onder mekaar begin praat. “Wat gaan hier aan? Ons sien en leer hier van dinge waarvan ons niks weet nie. En dit is nie sommer kinderspeletjies nie. Daar is gesag daaragter, want kyk hoe luister die bose geeste na Hom wanneer Hy iets sê.” Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Die mense in die hele provinsie van Galilea was aan die praat daaroor. Na die episode in die sinagoge is Jesus saam met Jakobus en Johannes na Simon en Andreas se huis toe. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad. Hulle gaan vertel toe vir Jesus daarvan en Hy is dadelik na haar toe. Hy vat haar toe aan die hand en help haar op. Toe hulle weer sien, was die koors weg. Sy het opgestaan en vir hulle kos gemaak. Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was. Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is. Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat. Simon en die ander het Hom toe gaan soek. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.” Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.” Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag. Op pad het ’n melaatse man Hom op sy knieë kom smeek: “As U maar net wil, kan U my gesond maak.” Dit het Jesus diep geraak. Uit meegevoel raak Hy aan die man en sê: “Ek wíl dit doen. Word gesond.” Daar en dan het hy gesond geword. Sy vel was weer soos ’n normale mens s’n. Jesus vra die man toe dringend om nie daaroor te praat nie en stuur hom weg: “Moet asseblief nie by mense spog oor wat hier gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy tevrede is dat jy gesond is, gaan offer wat Moses se wet voorskryf vir mense wat gesond geword het. Almal sal dan weet dat jy gesond is.” Hy het egter nie na Jesus geluister nie en vir almal wat hy teëgekom het, vertel wat gebeur het. So het die nuus vinnig versprei. Dit het beteken dat Jesus nie meer ongemerk in die dorpies kon gaan rondstap nie. Hy moes buite die dorpies in die omgewing bly waar dit stiller was. Dit het ook nie eintlik gehelp nie, want die mense het van oral af na Hom toe gestroom.

MARKUS 1:14-45 Bybel vir almal (ABA)

Koning Herodes het vir Johannes laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Daarna het Jesus na Galilea gekom en Hy het vir die mense God se goeie boodskap gebring. Jesus het gesê: “God het besluit dit is nou die regte tyd. God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. Julle moet begin lewe soos God wil hê en julle moet die goeie boodskap glo.” Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy het gesien Simon en sy broer Andreas gooi hulle visnette in die see, want hulle was vissermanne. Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.” Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan. Toe Jesus 'n bietjie verder geloop het, sien Hy vir Jakobus en sy broer Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in hulle boot besig om die visnette reg te maak. Jesus het hulle ook dadelik geroep om saam te kom. Hulle het hulle pa, Sebedeus, en die vissermanne wat vir hom gewerk het, in die boot gelos, en hulle het saam met Jesus gegaan. Jesus en sy dissipels het in die stad Kapernaum gekom. Op die Sabbatdag daarna het Jesus reguit na die sinagoge gegaan en Hy het daar begin om vir die mense te leer. Die mense was baie verbaas oor hoe Jesus vir hulle geleer het, want hulle het besef dat dit van God kom. Jesus het vir hulle nie geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie. Skielik kom daar toe in hulle sinagoge 'n man, daar was 'n onrein gees in hom, en die gees het geskree: “Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is: U is die Heilige wat van God kom.” Jesus het met die onrein gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!” Die onrein gees het die man op die grond laat val en die man het geruk en geskop. Die gees het hard geskree en hy het toe uit die man uitgegaan. Almal was baie verbaas en hulle het aangehou praat daaroor. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat het gebeur? Hierdie man leer vir die mense iets wat anders is. Dit kom van God. Hy sê ook vir die onrein geeste wat hulle moet doen, en hulle is gehoorsaam aan hom.” Die mense het oral in die hele provinsie Galilea gepraat oor wat Jesus gedoen het. Jesus en sy dissipels het uit die sinagoge na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle. Simon se skoonma was siek in die bed. Sy het 'n hoë koors gehad en die mense het dadelik vir Jesus vertel dat sy siek is. Jesus het na haar toe gegaan, Hy het haar hand geneem en Hy het haar gehelp om op te staan. Die koors het weggegaan, en sy het vir hulle kos gegee. In die aand toe die son al onder was en die Sabbatdag verby was, het hulle aangehou om baie mense na Jesus toe te bring, siek mense en mense wat duiwels in hulle gehad het. Al die mense van die stad het bymekaargekom by die deur van die huis. Jesus het baie mense gesond gemaak wat verskillende soorte siektes gehad het. Hy het ook baie duiwels uit die mense gejaag. Jesus het gesê die duiwels mag nie praat nie, want die duiwels het geweet wie Hy is. Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na 'n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid. Simon en sy vriende het vir Jesus gaan soek en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Jesus antwoord hulle: “Kom ons gaan weg na die stede hier naby, want Ek wil daar ook gaan preek. Dit is hoekom Ek gekom het.” Jesus het toe deur die hele provinsie Galilea gegaan en Hy het in hulle sinagoges gepreek. Hy het ook duiwels uit mense uitgejaag. 'n Melaatse man het na Jesus toe gekom. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesoebat: “As U wil, dan kan U my gesond maak.” Jesus was baie jammer vir die man. Hy het sy hand uitgesteek en Hy het aan hom geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.” Dadelik was die man nie meer melaats nie, hy het gesond geword. Jesus het ernstig met die man gepraat en vir hom gesê: “Jy mag vir niemand hiervan vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond, en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.” Daarna het Jesus die man weggestuur. Maar die man het gegaan en hy het oral vir al die mense vertel dat Jesus hom gesond gemaak het. Daarom kon Jesus nie meer in 'n stad inkom waar almal Hom kon sien nie. Hy het buite in die veld gebly, maar die mense het nog van oral na Hom toe gekom.

MARKUS 1:14-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. En terwyl Hy langs die see van Galiléa loop, sien Hy Simon en Andréas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word. En dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg. En toe Hy daarvandaan 'n bietjie verder gaan, sien Hy Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, wat besig was om die nette in die skuit heel te maak. En dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg. EN hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa. EN dadelik toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, kom hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andréas. En die skoonmoeder van Simon het siek gelê aan die koors; en dadelik het hulle Hom van haar gesê. Daarop gaan Hy na haar, neem haar hand en rig haar op, en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was. En die hele stad het by die deur saamgekom. En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. En Simon en die wat by hom was, het Hom gevolg. En toe hulle Hom vind, sê hulle vir Hom: Almal soek U. En Hy sê vir hulle: Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan. En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf. EN daar kom 'n melaatse na Hom toe wat Hom smeek en voor Hom op die knieë val en vir Hom sê: As U wil, kan U my reinig. En Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig! En toe Hy dit sê, het die melaatsheid hom dadelik verlaat, en hy is gereinig. En nadat Hy hom ernstig aangespreek het, stuur Hy hom dadelik weg en sê vir hom: Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot 'n getuienis vir hulle. Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in 'n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.

MARKUS 1:14-45 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat Johannes in die tronk gesit is, het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. En terwyl hy langs die see van Galilea loop, sien hy Simon en sy broer Andreas besig om 'n net in die see uit te gooi, want hulle was vissers. En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En dadelik het hulle hul nette verlaat en Hom gevolg. En toe hy 'n entjie verder daarvandaan gegaan het, sien hy Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, sy broer, wat ook in die skip besig was om hulle nette reg te maak. En hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hul vader Sebedeüs saam met die huurlinge in die skip agtergelaat en agter hom aan gegaan. En hulle het na Kapernaum gegaan; en dadelik op die sabbatdag het Hy in die sinagoge ingegaan en geleer. En hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onrein gees; en hy het uitgeroep, en gesê: Laat ons staan; wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? kom jy om ons te vernietig? Ek ken U wie U is, die Heilige van God. En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit. En toe die onrein gees hom verskeur en met 'n groot stem uitroep, het hy uit hom uitgegaan. En hulle was almal verbaas, sodat hulle onder mekaar gevra het en gesê het: Wat is dit? watter nuwe leerstelling is dit? want met gesag beveel Hy selfs die onreine geeste, en hulle is Hom gehoorsaam. En dadelik het sy roem versprei in die hele gebied rondom Galilea. En dadelik, toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, het hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andreas ingegaan. Maar Simon se vrou se ma het siek gelê van koors, en hulle het hom eers van haar vertel. En hy het gekom en haar aan die hand gegryp en haar opgetel; en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien. En teen die aand, toe die son ondergaan het, het hulle almal wat siek was, en die wat van duiwels beset was, na Hom gebring. En die hele stad was by die ingang bymekaar. En Hy het baie genees wat aan allerhande siektes siek was, en baie duiwels uitgedryf; en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het. En in die môre, 'n lang tyd voor die dag, opgestaan, het hy uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid. En Simon en die wat saam met hom was, het hom gevolg. En toe hulle hom kry, sê hulle vir hom: Almal soek jou. En hy sê vir hulle: Laat ons na die volgende stede gaan, dat ek ook daar kan preek; want daarom het ek uitgegaan. En Hy het in hulle sinagoges deur die hele Galilea gepreek en duiwels uitgedryf. En daar het 'n melaatse na hom gekom en hom gesmeek en voor hom neergekniel en vir hom gesê: As u wil, kan u my reinig. En Jesus het innig jammer gevoel, sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil; wees jy rein. En sodra hy dit gesê het, het die melaatsheid dadelik van hom gewyk, en hy is gereinig. En hy het hom streng bevel gegee en hom dadelik weggestuur; En sê vir hom: Kyk dat jy niks aan iemand sê nie; maar gaan heen, vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses beveel het, tot 'n getuienis vir hulle. Maar hy het uitgegaan en begin om dit baie te verkondig en die saak aan die brand te steek, sodat Jesus nie meer openlik in die stad kon ingaan nie, maar buite was in verlate plekke; en hulle het van elke kant af na Hom gekom.

MARKUS 1:14-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!” Op ’n dag terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy hoe Simon en sy broer Andreas hulle visnette in die see uitgooi, want hulle was vissers van beroep. Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!” En hulle het dadelik hulle nette gelos en saam met Hom gegaan. ’n Entjie verder langs die strand het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, in ’n skuit gesien terwyl hulle besig was om hulle nette heel te maak. Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!” Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!” Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei. Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle. Simon se skoonma was siek in die bed vanweë ’n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel. Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle ’n ete voorberei. Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring. Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien. Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie bose geeste uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê. Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid. Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.” Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.” So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedryf. ’n Man met ’n ernstige velsiekte het na Hom toe gekom, voor Hom gekniel en Hom gesmeek met die woorde: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” Net daar het die ernstige velsiekte verdwyn – die man was gesond. Jesus het hom toe dadelik weggestuur nadat Hy hom ernstig aangespreek het met die woorde: “Sorg dat jy met niemand langs die pad praat nie. Gaan reguit na die priester. Laat hy jou ondersoek. En bring die offer wat die wet van Moses vereis vir ernstige velsiektes wat genees is. So sal almal ’n duidelike bewys hê van jou genesing.” Maar die man het weggegaan en die nuus van wat met hom gebeur het, oral versprei. Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring dat dit vir Hom onmoontlik geword het om openlik in enige dorp in te gaan. Hy moes buite in afgeleë plekke bly. Tog het mense steeds van oral na Hom toe gekom.