MARKUS 1:1-11

MARKUS 1:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Die goeie boodskap oor Jesus Christus, die Seun van God, begin soos dit in die boek van die profeet Jesaja geskryf is: “ Ek, die Here, stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en die pad vir jou gereedmaak. Iemand skree in die woestyn en hy sê: Julle moet die pad gereedmaak vir die Here, julle moet sy paaie reguit maak.” Dit is wat Johannes die Doper in die woestyn gepreek het. Hy het gesê die mense moet verander en lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. Dit sal beteken dat God hulle sondes vergewe het. Al die mense van Judea en Jerusalem het na Johannes toe gegaan. Hulle het gesê hulle is jammer oor hulle sonde, en Johannes het hulle gedoop in die Jordaan-rivier. Johannes se klere was van kameelhare gemaak en hy het 'n belt van leer om sy heupe gedra. Hy het sprinkane geëet en ook heuning wat hy in die woestyn gekry het. Johannes het gepreek en gesê: “Later sal Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees.” In dieselfde tyd het Jesus van die stad Nasaret gekom. Nasaret is in die provinsie Galilea. Johannes het vir Jesus in die Jordaan-rivier gedoop. En dadelik toe Jesus uit die water opstaan, het Hy gesien die hemel skeur oop en die Heilige Gees kom af na Hom toe soos 'n duif uit die lug afkom. Jesus het ook gehoor Iemand sê uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek is lief vir Jou. Jy maak My bly.”

MARKUS 1:1-11 Die Boodskap (DB)

Die goeie nuus oor Jesus begin met Johannes wat mense gedoop het. Daaroor het God se boodskapper Jesaja jare gelede al geskryf: “Ek stuur my boodskapper voor jou uit om alles reg te maak vir jou koms, sê God. In die wildernis skree iemand hard uit: Maak seker dat die pad reg is waarop die Here moet loop. Dit moet mooi gelyk wees.” Daar in die droë, verlate deel suid van Jerusalem het Johannes mense begin doop. In sy preke het hy mense mooi gevra om terug te draai na God toe. Om te wys hoe ernstig hulle daaroor voel, moes hulle hulle laat doop. Dan sou God nie meer kwaad wees oor hulle sondes nie, maar dit vergewe. Die mense het van alle kante af na hom toe gestroom, of hulle nou op die platteland gebly het of in die groot stad Jerusalem. Hierdie mense was spyt oor hulle sondes en het dit erken. Daarom is hulle deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop. Johannes se klere was gemaak uit materiaal van kameelhare wat hy met ’n breë leerbelt om sy middel vasgemaak het. Hy het aan die lewe gebly van sprinkane en heuning wat hy in die veld kon kry. Johannes se boodskap was glashelder: “Moenie in my vaskyk asof ek iets is nie. Die Een wat regtig iets is, is op pad. As ek by Hom is, is ek niks. In vergelyking met Hom is ek so onbelangrik dat ek nie eens werd is om die kleinste ou dingetjie vir Hom te doen nie. Ek gebruik gewone water om julle mee te doop, maar Hy sal die Heilige Gees gebruik.” Op ’n dag kom Jesus ook daar aan. Hy het die hele pad van die noorde af gekom, van Nasaret in die provinsie Galilea. Daar gekom, het Johannes Hom in die Jordaan gedoop. Toe Jesus na sy doop uit die water kom, was dit of die hemel oopskeur. Iets wat soos ’n duif gelyk het, het van bo af op Hom neergesak. Dit was die Heilige Gees. Net toe weerklink ’n stem uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek het Jou lief en Jy maak My bly.”

MARKUS 1:1-11

MARKUS 1:1-11 AFR83