MIGA 7:8-13
MIGA 7:8-13 Bybel vir almal (ABA)
Die mense van Jerusalem sê vir hulle vyande: “Julle moenie bly wees omdat dit so sleg gaan met ons nie. Ons het geval, maar ons sal weer opstaan. Ons sit in die donker, maar die Here is ons lig. Ons het sonde gedoen teen die Here, en daarom sal ons tevrede wees wanneer Hy ons straf. Maar Hy sal ons weer help. Hy sal dit goed laat gaan met ons. Hy sal die donker wegvat en Hy sal ons na die lig bring. Hy sal ons red.” Die mense van Jerusalem sê: “Ons vyande sal dit sien, en hulle sal nie weet wat om te doen nie. Hulle het vir ons gesê: ‘Waar is julle God die Here? Hy help julle nie.’ Nou sal ons sien wat met hulle gebeur: Hulle vyande sal op hulle trap soos hulle op die modder in die strate trap.” Jerusalem, die dag is naby wanneer hulle weer jou mure sal bou. Hulle sal dan nog meer huise in jou bou. Daardie dag sal jou mense na jou toe terugkom uit Assirië en uit Egipte, van die Eufraat-rivier en van oral in die wêreld. Maar in die ander lande sal daar nie mense woon nie, want hulle mense het baie sonde gedoen.
MIGA 7:8-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is 'n lig vir my. Die toorn van die HERE sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen. Ook sal my vyandin dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my sê: Waar is die HERE, jou God? My oë sal met welgevalle op haar neersien. Nou sal sy vertrap word soos modder van die strate. Daar kom 'n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees. Dit is 'n dag dat hulle na jou sal kom van Assur en die stede van Egipte, en van Egipte tot by die Eufraat, en van see tot see, en van berg tot berg. Maar die aarde sal 'n wildernis word vanweë sy inwoners, as gevolg van hulle handelinge.
MIGA 7:8-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig. Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn, want ek het teen Hom gesondig. Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee. My vyand sal dit sien, hy sal deur skaamte oorval word, hy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?” Ek sal op my vyand neersien, hy sal plat getrap word soos modder op die straat. Die dag wanneer jou mure herbou word, dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie. Dié dag sal hulle na jou toe kom van Assirië af tot by die vestingstede, van die vestingstad af tot by die Eufraat, van die een see af tot by die ander en van die een berg af tot by die ander. Die aarde sal verwoes wees oor sy inwoners, oor alles wat hulle gedoen het.
MIGA 7:8-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moet jou nie oor my verlustig nie, my vyand. Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in die donker, die HERE is vir my 'n lig. Die striemende toorn van die HERE sal ek dra – want ek het teen Hom gesondig – totdat Hy my saak verdedig en my reg handhaaf. Hy sal my uitlei na die lig; ek sal sy geregtigheid met genoegdoening ervaar. My vyand sal dit sien en deur skaamte oorval word, sy wat vir my vra: “Waar is die HERE jou God?” My oë sal met genoegdoening na haar kyk. Sy sal dan vertrap word soos modder op straat. Dit is tyd om jou verdedigingsmure te herbou, dit is 'n tyd daardie wanneer jou grense uitgebrei sal word. Dit is die tyd wanneer hulle tot by jou sal kom, van Assur en die stede van Egipte, ja, van Egipte tot by die Rivier, van see tot see en berg tot berg. Die aarde sal 'n verlate wildernis word oor sy inwoners, oor die vrug van hulle dade.
MIGA 7:8-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees nie bly teen my nie, o my vyand; as ek val, sal ek opstaan; as ek in duisternis sit, sal die HERE vir my 'n lig wees. Ek sal die grimmigheid van die HERE dra, omdat ek teen hom gesondig het, totdat Hy my saak verdedig en vir my regspraak hou; Hy sal my na die lig uitbring, en ek sal sy geregtigheid aanskou. Dan sal sy wat my vyand is, dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my gesê het: Waar is die HERE jou God? my oë sal haar aanskou; nou sal sy vertrap word soos die modder van die strate. Op die dag dat jou mure gebou moet word, in dié dag sal die besluit ver verwyder word. In dié dag sal hy ook na jou toe kom van Assirië en van die versterkte stede en van die vesting tot by die rivier, en van see tot see en van berg tot berg. Maar die land sal 'n wildernis wees vanweë die wat daarin woon, vanweë die vrug van hulle handelinge.
MIGA 7:8-13 Die Boodskap (DB)
Miga het namens Israel gepraat en gesê: “Ons vyande kry verniet so lekker omdat ons swaarkry. Dit is so dat ons geval het, maar ons sal weer opstaan. Dit voel vir ons of ons in die donkerte sit, maar ons weet die Here sal vir ons soos ’n lig wees. Ons het verkeerde dinge gedoen en die Here het nie daarvan gehou nie. Ons moet daarom doodgewoon ons straf vat. Maar as dit eers verby is, sal die Here sorg dat dinge weer vir ons reg loop. Dit sal vir ons voel of Hy ons uit die donkerte bring na die lig toe. Ons sal weet dit is die Here wat ons laat wen teen ons vyande. Ons vyande het gespot en gesê: ‘Waar is die Here julle God heen, is Hy weg?’ As ons vyande sien hoe die Here ons laat wen, sal hulle baie skaam kry oor hulle astrante houding. Ons sal lekker kry as hulle verneder word. Hulle sal soos modder wees wat in die strate lê en waarop mense trap. “Daar gaan ’n tyd vir Israel kom om hulle stede weer reg te maak nadat die vyande dit verniel het. Hulle gaan dan ook hulle grense uitskuif en so meer grond kry. Wanneer hierdie tyd aanbreek wat Israel verwag, sal mense van oral na hulle toe kom. Hulle sal van Assirië, Egipte en die gebied by die Eufraat af kom. Verder sal hulle ook van die verste see en die verste berge af kom. Die lande van die vyande sal wild en leeg word. Mense sal nie daar wil bly nie. Hoekom gebeur dit? Omdat die mense wat daar bly, slegte dinge gedoen het.”
MIGA 7:8-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My vyande, julle moenie julle oor my verlekker nie! Ek het geval, maar ek sal weer opstaan. Al sit ek nou in duisternis, die HERE is ’n lig vir my. Ek sal die straf van die HERE verduur, want ek het teen Hom gesondig. As dit eers verby is, sal Hy my saak opneem teen my vyande. Hy sal reg aan my laat geskied. Hy sal weer lig in my lewe bring en ek sal sy regverdigheid sien. Dan sal my vyande sien dat Hy aan my kant is. Hulle sal skaam kry omdat hulle my gespot het deur te sê: “Waar is die HERE jou God?” Ek sal toekyk terwyl hulle soos modder op die strate vertrap word. Israel, daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle julle stede sal herbou en julle grense sal uitbrei. In dié tyd sal mense van verskillende lande kom om eer aan julle te bring. Hulle sal van Assirië af kom tot by Matsor in Egipte, van Matsor af tot by die Eufraat, van see tot see en van berg tot berg. Maar die aarde sal leeg en verlate wees as gevolg van wat die inwoners gedoen het.