MIGA 7:18-20
MIGA 7:18-20 Bybel vir almal (ABA)
Daar is nie nog 'n God soos U nie, Here. U vergewe ons sonde. Ons is die mense van u volk, die mense wat nog lewe. U bly nie altyd kwaad nie, U wil graag lief wees vir ons. U sal weer goed wees vir ons, U sal ons sonde stukkend trap en dit in die see gooi. U sal die Israeliete nie los nie. U sal altyd lief wees vir die nageslag van Abraham. U het dit belowe aan ons voorvaders, lank gelede.
MIGA 7:18-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het 'n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp. U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met 'n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.
MIGA 7:18-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie is 'n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. U sal getrou wees teenoor Jakob, liefde betoon aan Abraham, soos U in die voortyd aan ons voorvaders met 'n eed beloof het.
MIGA 7:18-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie is 'n God soos U? U is 'n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi. U sal aan Jakob trou bewys, aan Abraham die troue liefde wat U aan ons voorouers met 'n eed beloof het in die voortyd.
MIGA 7:18-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie is 'n God soos U, wat ongeregtigheid vergewe en die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou sy toorn nie vir ewig vas nie, want Hy het 'n welbehae in goedertierenheid. Hy sal weer omdraai, Hy sal Hom oor ons ontferm; Hy sal ons ongeregtighede onderwerp; en U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp. U sal die waarheid aan Jakob bewys en aan Abraham die goedertierenheid wat U aan ons vaders met 'n eed beloof het van die dae af.
MIGA 7:18-20 Die Boodskap (DB)
“Daar is nie nog ’n God soos die Here nie. Hy vergewe die mense van Israel wat oor is vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy wys vir sy mense dat Hy vir hulle lief is. Hy sal ons weer jammer kry. Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder sy voete vertrap. Hy sal nog meer as dit doen, Hy sal dit baie diep in die see gooi. Dit sal so goed wees of hierdie verkeerde dinge nooit eers gedoen is nie. Lank terug in die verlede het die Here aan Abraham en sy nageslag beloof dat Hy altyd vir hulle sal sorg. Hulle sal ook altyd weet dat Hy vir hulle lief is.”
MIGA 7:18-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde en straf nie die sonde of die oortredings van hulle wat oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou. U sal weer medelye hê met ons. U sal ons sonde onder u voete vertrap, dit weggooi in die diepte van die see! Reeds lank gelede het U aan ons voorvaders, Jakob en Abraham, u trou en liefde met ’n eed belowe. Betoon dit nou ook aan ons.