MIGA 4:1-5
MIGA 4:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Tyd sal aanbreek wanneer die HERE se tempel in Jerusalem die belangrikste plek op aarde sal wees. Mense sal van oral af kom om daar te aanbid. Baie nasies sal kom en sê: “Kom laat ons opgaan na die berg van die HERE, na die tempel van die God van Israel. Hy sal ons leer hoe om te lewe sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees.” Dan sal die gebooie uitgaan vanuit die tempel en die woord van die HERE uit Jerusalem. Geskille tussen baie volke sal Hy oplos. Van hulle swaarde sal nasies ploegskare maak en van hulle spiese, snoeiskêre. Oorloë sal ophou en ook militêre opleiding. Almal sal rustig woon terwyl hulle vrede en voorspoed geniet. Hulle sal nie enige rede hê om bang te wees nie. Dit is ’n belofte van die HERE, die Almagtige! Elke nasie kan sy vertroue stel in hulle gode, maar ons sal vir altyd ons vertroue stel op die HERE ons God.
MIGA 4:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Julle sê: “Eendag sal die berg waarop die Here se tempel staan, hoër wees en vaster staan as die ander berge en heuwels. Baie volke sal na hierdie berg kom. Die mense van baie volke sal kom en hulle sal sê: ‘Kom ons gaan op teen die berg van die Here, na die tempel van die God van Jakob. Dan sal Hy vir ons leer wat ons moet doen, en dan kan ons so lewe. Ons moet na Jerusalem gaan, dan sal ons weet wat die Here wil hê ons moet doen en wat Hy vir ons wil sê.’ “Die Here sal die regter wees tussen die volke en Hy sal die sterk volke vrede laat maak met mekaar, die volke wat naby is en die volke wat ver is. Dan sal die volke hulle swaarde en spiese smelt en hulle sal skerp ysters maak om te ploeg en messe om bome se takke af te sny. Die volke sal nie weer oorlog maak teen mekaar nie en hulle sal ook nie leer om oorlog te maak nie. Elke Israeliet sal onder sy eie wingerdstok of onder sy eie vyeboom sit. Die Israeliete sal vir niemand bang wees nie. Die Here het dit gesê, Hy regeer oor alles. Ja, elke volk lewe soos sy god wil hê, maar ons sal altyd lewe soos ons God wil hê.”
MIGA 4:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek. Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.
MIGA 4:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Die volke sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” Hy sal oordeel tussen baie volke, regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê. Elke nasie kan maar lewe in die naam van sy god, ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.
MIGA 4:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ In die laaste dae sal die berg van die HERE se huis stewig staan, as die hoogste van die berge; ja, hy sal bo die heuwels uittroon. Volke sal daarheen stroom, baie nasies sal gaan en sê, ‘Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy weë kan leer, en ons op sy paaie kan volg.’ Ja, uit Sion sal daar onderrig kom en die woord van die HERE uit Jerusalem. Hy sal regspreek tussen baie volke en die reg handhaaf vir talryke nasies tot in die verste uithoeke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie, hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie; maar elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hom opjaag. Die HERE, Heerser oor alle magte, het dit immers self gesê. Selfs as al die volke elkeen in die naam van sy god voortgaan, sal óns in die naam van die HERE ons God voortleef vir altyd en altyd.
MIGA 4:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels; en mense sal daarheen stroom. En baie nasies sal kom en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob; en Hy sal ons sy weë leer, en ons sal in sy paaie wandel, want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En hy sal oordeel onder baie volke en sterk nasies van ver bestraf; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; geen nasie sal teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom; en niemand sal hulle verskrik nie, want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek. Want al die volke sal elkeen wandel in die naam van sy god, en ons sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altyd.
MIGA 4:1-5 Die Boodskap (DB)
Miga het gesê: “Daar sal ’n tyd kom wanneer die tempel in Jerusalem die belangrikste plek op aarde sal wees. Mense van verskillende lande en volke sal na die tempel toe kom om die Here te kom dien. “Hulle sal sê: ‘Kom ons gaan na die tempel toe in Jerusalem, want Israel se God is daar. Ons wil graag by Hom leer hoe ons behoort te lewe. Jerusalem is ’n belangrike plek, want dit is waar ons sal kan uitvind of die Here iets spesiaals vir ons tyd wil sê.’ Al is daar nasies wat ver van Jerusalem af bly, dit maak nie saak nie. Die Here sal die probleme tussen hulle oplos. Hy sal hulle so ver kry om liewer van hulle wapens landbougereedskap te maak. Die verskillende nasies sal nie meer teen mekaar baklei nie en nie eens meer leer om oorlog te maak nie. Daar sal vrede onder die mense wees. Hulle sal hulle eie grond hê vir hulle vrugtebome en hulle sal rustig in die koelte van die bome kan sit sonder dat hulle bang is. Hierdie woorde kan julle maar glo, want dit kom van die Here af. Daar is niemand wat met Hom vergelyk kan word nie.” Die opponente het geantwoord: “Hierdie nasies moet lewe soos hulle gode van hulle verwag. Ons sal aan die Here, wat ons God is, gehoorsaam wees.”
MIGA 4:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Tyd sal aanbreek wanneer die HERE se tempel in Jerusalem die belangrikste plek op aarde sal wees. Mense sal van oral af kom om daar te aanbid. Baie nasies sal kom en sê: “Kom laat ons opgaan na die berg van die HERE, na die tempel van die God van Israel. Hy sal ons leer hoe om te lewe sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees.” Dan sal die gebooie uitgaan vanuit die tempel en die woord van die HERE uit Jerusalem. Geskille tussen baie volke sal Hy oplos. Van hulle swaarde sal nasies ploegskare maak en van hulle spiese, snoeiskêre. Oorloë sal ophou en ook militêre opleiding. Almal sal rustig woon terwyl hulle vrede en voorspoed geniet. Hulle sal nie enige rede hê om bang te wees nie. Dit is ’n belofte van die HERE, die Almagtige! Elke nasie kan sy vertroue stel in hulle gode, maar ons sal vir altyd ons vertroue stel op die HERE ons God.