MATTEUS 9:35-37
MATTEUS 9:35-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.
MATTEUS 9:35-37 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het al die stede en dorpe besoek. Hy het aangehou om vir die mense in hulle sinagoges te leer. Hy het vir hulle vertel van die goeie boodskap dat God Koning is oor almal. Hy het ook al die siek mense gesond gemaak. Baie mense het na Jesus toe gekom, en toe Hy al die mense sien, het Hy baie jammer gevoel vir hulle. Hulle het gelyk soos mense wat swaarkry, maar daar was niemand wat hulle kon help nie. Hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daar is baie ryp koring om af te sny, maar daar is baie min werkers wat kan help om dit te doen.
MATTEUS 9:35-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.
MATTEUS 9:35-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.
MATTEUS 9:35-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het in al die stede en dorpies rondgegaan, in hulle •sinagoges geleer, die evangelie van die •koninkryk verkondig, en elke siekte en elke kwaal genees. Toe Hy die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry, omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder 'n herder. Toe sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.
MATTEUS 9:35-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus het in al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. Maar toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel oor hulle, omdat hulle beswyk het en verstrooi was soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min
MATTEUS 9:35-37 Die Boodskap (DB)
Jesus het by al die dorpies en klein plekkies langs gegaan. By hulle byeenkomste het Hy lank met die mense gesels oor hoe hulle die Joodse Bybel moes verstaan. Hy het veral vir hulle die goeie nuus van God se nuwe wêreld vertel. Met Jesus se koms kon die mense ook al hoe meer agterkom hoe God se nuwe wêreld lyk. Daarom het Hy mense met allerhande siektes en kwale gesond gemaak. Jesus het na al hierdie mense om Hom gekyk. Hulle het vir Hom gelyk soos skape wat sonder ’n herder ronddwaal. Dit was of hulle nie meer krag oorgehad het om aan te gaan nie en sommer net daar wou bly lê. Daarom wou Jesus hulle regtig graag help. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes in te samel.
MATTEUS 9:35-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het deur al die dorpe en kleiner plekkies rondbeweeg. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid. Hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarop sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die werkers is min.