MATTEUS 9:20-22
MATTEUS 9:20-22 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl hulle loop, het daar 'n vrou van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy was siek, sy het twaalf jaar lank aangehou bloei. Sy het gedink: As ek net aan Jesus se klere kan raak, dan sal ek gesond word. Jesus het omgedraai en haar gesien. Toe sê Hy vir haar: “Mevrou, moenie bekommerd wees nie. Jy het nou gesond geword, want jy het geglo.” Die vrou het toe dadelik gesond geword.
MATTEUS 9:20-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar het 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word. En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.
MATTEUS 9:20-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af was die vrou gesond.
MATTEUS 9:20-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar het toe skielik 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak. Want, het sy vir haarself gesê: “As ek tog net sy bokleed kan aanraak, sal ek gesond word.” Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Hou moed, dogter, jou geloof het jou gered. ” En van daardie oomblik af was die vrou gesond.
MATTEUS 9:20-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En kyk, 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing siek was, het agter hom aangekom en die soom van sy kleed aangeraak. Want sy het by haarself gesê: As ek maar net aan sy kleed kan raak, sal ek gesond word. Maar Jesus het hom omgedraai, en toe hy haar sien, sê Hy: Dogter, wees gerus; jou geloof het jou gesond gemaak. En die vrou is van daardie uur af gesond geword.
MATTEUS 9:20-22 Die Boodskap (DB)
Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en sy het geredeneer: “As ek net aan Jesus kan raak, weet ek ek sal gesond word.” Toe Jesus dus opstaan, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond.
MATTEUS 9:20-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Onderweg het ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af na Jesus toe gekom en aan die soom van sy bokleed geraak, want sy het by haarself gedink: “Al kan ek tog maar net aan sy bokleed raak, sal ek gesond word.” Toe Jesus omdraai en haar sien, het Hy vir haar gesê: “Skep moed, my dogter. Omdat jy so vas geglo het, is jy nou gesond.” En die vrou was van daardie oomblik af heeltemal genees.