MATTEUS 9:2-8
MATTEUS 9:2-8 Bybel vir almal (ABA)
Die mense het 'n verlamde man wat op 'n slaapmat lê, na Jesus toe gebring. Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak. Toe sê Hy vir die verlamde man: “My vriend, moenie moedeloos wees nie, Ek vergewe jou sondes.” Party van die skrifgeleerdes het gehoor wat Jesus gesê het, en hulle sê toe vir mekaar: “Hierdie man maak of hy self God is.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê toe vir hulle: “Hoekom dink julle hierdie slegte dinge? Is dit die maklikste om vir hierdie verlamde man te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of is dit die maklikste om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek wil vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.” Jesus sê toe vir die verlamde man: “Staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.” Die man het opgestaan en hy het huis toe gegaan. Daar was baie mense, en almal het dit gesien. Hulle het bang geword en hulle het God geprys omdat Hy vir mense die krag gee om dit te kan doen.
MATTEUS 9:2-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het 'n verlamde man wat op 'n bed lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy aan die verlamde: Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe. En sommige van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: Hierdie man praat godslasterlik. En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte? Want wat is makliker, om te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe — toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. En hy het opgestaan en huis toe gegaan. En toe die skare dit sien, was hulle verwonderd en het God verheerlik wat so 'n mag aan die mense gegee het.
MATTEUS 9:2-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar het hulle 'n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.” Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: “Hy praat godslasterlik.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Hy het opgestaan en huis toe gegaan; en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.
MATTEUS 9:2-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En kyk, hulle het 'n verlamde man wat op 'n slaapmat lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Hou moed, kind, jou sondes word vergewe. ” Hierop het sommige van die skrifkenners onder mekaar gesê: “Hierdie man laster.” En omdat Jesus geweet het wat hulle dink, het Hy gesê: “Hoekom bedink julle bose dinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” En hy het opgestaan en na sy huis gegaan. Toe die skare dit sien, is hulle met diep ontsag vervul, en hulle het God, wat sulke gesag aan mense gee, geprys.
MATTEUS 9:2-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En kyk, hulle het 'n verlamde man wat op 'n bed lê, na Hom gebring; en toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, hou goeie moed; jou sondes is jou vergewe. En kyk, sommige van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: Hierdie man laster. En Jesus het hulle gedagtes geken en gesê: Waarom dink julle kwaad in julle harte? Want of is dit makliker om te sê: Jou sondes is jou vergewe? of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe, sê Hy dan vir die verlamde: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis. En hy het opgestaan en na sy huis gegaan. Maar toe die skare dit sien, was hulle verwonderd en het God verheerlik wat sulke krag aan die mense gegee het.
MATTEUS 9:2-8 Die Boodskap (DB)
Hulle was skaars daar of die mense het ’n verlamde man na Hom toe gebring. Daardie groepie mense was so vas oortuig dat Jesus die man kon help dat hulle hom persoonlik soontoe gedra het. Hulle het geweet Jesus kon iets vir hom doen. Toe Jesus die gelowige verwagting op hulle gesigte sien, sê Hy vir die verlamde: “Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te begin glimlag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad gaan wees oor jou sonde nie.” ’n Groepie geleerde Jode het egter alles staan en bekyk. Hulle was glad nie tevrede met wat hulle gehoor het nie. Dit het ’n paar van hulle onder mekaar laat mompel: “Hierdie man het geen respek vir God nie. Kyk net wat sê hy!” Jesus het goed geweet hoe hulle staan en skinder. Sonder om doekies om te draai sê Hy vir hulle: “Wat dink julle gaan julle bereik met al hierdie geskinder? Om te praat is maklik. Enigeen van julle kan mos sy mond oopmaak en sê: ‘Nou het jy nie meer sonde nie!’ of dalk: ‘Kom regop en stap sonder hulp hier weg.’ Dit is mos nie moeilik om so iets te sê nie. Maar om te laat gebeur wat jy sê, is heeltemal ’n ander saak. Julle weet baie goed dat iemand net sonde kan vergewe as hy regtig die mag het om dit te doen. Die Seun van die mens het daardie mag. Kyk mooi, Ek gaan dit nou doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het. “Staan op!” sê Jesus vir die lam man. “Vat jou matras en stap self huis toe.” Die lam man het voor almal opgestaan en huis toe gestap. Die mense kon hulle oë byna nie glo nie. Met groot respek het hulle gesê: “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik en groot God is. Kyk, Hy gee tot vir ’n mens mag om sulke ongelooflike dinge te doen.”
MATTEUS 9:2-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle bring toe vir Hom ’n verlamde man wat bedlêend was. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Jongman, skep moed! Jou sondes word jou vergewe.” Party van die skrifkenners dink toe by hulleself: “Dit is absolute laster!” Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vra toe: “Waarom dink julle sulke slegte dinge in julle harte? Want wat is makliker – om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of: ‘Staan op en loop’? Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om op aarde sondes te vergewe.” Daarna sê Hy vir die verlamde man: “Staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.” Hy het opgestaan en huis toe gegaan. Toe die skare dit sien, het ’n eerbiedige vrees oor hulle gekom en hulle het God geprys omdat Hy aan ’n méns soveel gesag gegee het.