MATTEUS 8:1-13

MATTEUS 8:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Jesus van die berg afgekom het, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, 'n melaatse het na Hom gekom, voor Hom gekniel en gesê: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil – word rein!” En hy is onmiddellik van sy melaatsheid gereinig. Jesus het vir hom gesê: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het, as getuienis vir hulle. ” Nadat Hy in Kapernaum aangekom het, het 'n centurio Hom genader en smekend vir Hom gesê: “Here, my slaaf lê verlam by die huis en ly baie pyn.” Hy het vir hom gesê: “Ek sal gaan en hom genees.” Die centurio het geantwoord: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak kom nie, maar sê net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd, en Hy het vir diegene wat Hom volg, gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: By niemand in Israel het Ek so 'n groot geloof gevind nie. Ek sê nou vir julle dat baie uit die ooste en die weste sal kom en saam met Abraham en Isak en Jakob aanleun om te eet in die •koninkryk van die hemele, maar die kinders van die koninkryk sal na die duisternis daarbuite verban word. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ” Jesus het toe vir die centurio gesê: “Gaan! Dit sal gebeur net soos jy glo.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.

MATTEUS 8:1-13 Die Boodskap (DB)

Daarna is Jesus teen die heuwel af saam met ’n klomp mense wat om Hom saamgedrom het. Hulle wou meer van Hom hoor en leer. Terwyl hulle so stap, gebeur daar iets merkwaardigs. ’n Melaatse man kom versigtig nader. (Mense met ’n lelike velsiekte was volgens die Joodse wet onrein. Hulle is verbied om in die tempel in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom wou die mense nie eintlik iets met hulle te doen gehad het nie.) Hierdie man val toe op sy knieë voor Jesus neer en buig sy kop tot laag op die grond. Daar voor almal begin hy Jesus hardop prys. Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei - ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet U kan as U wil!” Jesus sit toe sy hand op die man en sê: “Ek wil dit graag doen. Jy het dit gevra. Toe, hoekom wag jy nog?” Die man kyk toe na homself en sien die wonder: sy vel was glad en skoon. Hy was gesond! “Moet asseblief nie vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het nie,” vra Jesus hom toe. “Gaan liewer reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy sê dat jou vel weer skoon is en jy weer ’n normale lewe kan lei, gaan bring dan ’n offer soos Moses dit voorgeskryf het. Mense sal dan self besef wat presies met jou gebeur het. Jou dade sal harder praat as jou woorde.” Jesus was skaars in Kapernaum of ’n Romeinse soldaat met ’n hoë rang kom vinnig nader. Dringend, met ’n smekende stem, sê hy: “Here, ek het ’n seun by die huis. Hy het ernstige probleme. Hy kan nie eens loop nie. En, Here, dit is so seer dat hy lê en krul van die pyn. Asseblief tog, kom help hom net!” “Ek kom dadelik,” sê Jesus. “Maar, Here, ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe kom nie; beslis nie iemand so belangrik soos U nie! Ag, sê sommer maar hier wat moet gebeur. Ek is seker my seun sal dan gesond word. Ek weet mos watter krag die woorde het van iemand wat gesag dra. Niemand hoef my iets daarvan te vertel nie, want ek is ’n soldaat en ek weet wat gesag is. Ja, elke liewe dag sê ek vir my soldate wat om te doen. En my woorde word hulle dade. As ek sê: ‘Kom!’ kom hulle en as ek sê: ‘Gaan!’ gaan hulle. Wat ek vir hulle sê om te doen, dit doen hulle.” Jesus was nogal verbaas en beïndruk oor wat die man gesê het. “Sowaar,” sê Hy vir die mense daar, “Ek het nog niemand onder die Israeliete raakgeloop wat so kinderlik glo soos hierdie man nie. By hom kan julle ’n belangrike les leer. God is nie maar net die God van die Israeliete nie. Nee, mense uit die hele wêreld gaan na Hom toe stroom. En Hy sal hulle met oop arms ontvang. Glo My, hierdie nie-Jode gaan almal in die hemel langs Abraham, Isak en Jakob aan die feestafel van God self aansit. “Dit is ’n ironiese les. Die mense wat weet dat hulle die hemelse Koning regtig moet dien, maar dit nie doen nie, sal uit God se feessaal weggejaag word. In die donker van die hel sal die pyn en smart van mense wat sonder God is hulle oorweldig.” Toe draai Jesus weer na die offisier toe. “Gaan maar huis toe. Wat jy so gelowig gevra het, het klaar gebeur.” Sy seun het dadelik gesond geword.

MATTEUS 8:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het afgekom van die berg, en baie mense het saam met Hom gegaan. Daar kom toe 'n melaatse man na Jesus toe en hy kniel voor Hom. Hy het vir Jesus gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.” Die man het dadelik gesond geword. Hy was nie meer melaats nie. Jesus het vir die man gesê: “Jy mag vir niemand vertel Ek het jou gesond gemaak nie. Maar gaan wys vir die priester jy is gesond, en bring dan die offer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal die priesters weet jy het rein geword.” Jesus het na die stad Kapernaum gegaan. Toe Hy in die stad inkom, het 'n Romeinse offisier na Hom toe gekom. Hy het gesoebat dat Jesus hom moet help. Hy het vir Jesus gesê: “Here, my slaaf lê baie siek by die huis. Hy kan nie beweeg nie, hy is lam en hy het baie pyn.” Jesus sê toe vir hom: “Ek sal na jou huis kom en Ek sal hom gesond maak.” Maar die offisier sê vir Jesus: “ Nee, Here, ek is nie 'n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kan inkom nie. U kan net sê die siekte moet weggaan, dan sal my slaaf gesond word. Ek is self 'n man wat moet doen wat 'n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een van hulle sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir 'n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.” Toe Jesus hoor wat die offisier gesê het, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir al die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek het nog nooit 'n Israeliet gesien wat so sterk glo soos hierdie man glo nie. Ek sê vir julle: Baie mense sal eendag kom van oral op die aarde. Hulle sal saam met Abraham, Isak en Jakob kom eet en feesvier in die hemel waar God die Koning is. Maar die mense wat dink net húlle is die kinders van Abraham, Isak en Jakob, en wat dink God is net húlle koning, God sal hulle uitgooi in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.” Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug na jou huis. Wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het presies op daardie tyd gesond geword.

MATTEUS 8:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Hy van die berg afkom, het groot menigtes Hom gevolg; en daar het 'n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig. En Jesus sê vir hom: Pas op dat jy dit aan niemand vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses voorgeskrywe het, tot 'n getuienis vir hulle. EN nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar 'n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne. Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak. En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie. Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Toe sê Jesus vir die hoofman oor honderd: Gaan, en laat dit vir jou wees soos jy geglo het. En sy kneg het gesond geword in daardie uur.

MATTEUS 8:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het afgekom van die berg af, en 'n groot menigte mense het saam met Hom gegaan. 'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg. Jesus sê toe vir hom: “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het 'n offisier by Hom hulp kom vra en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.” En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek is ook 'n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.

MATTEUS 8:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe Hy van die berg afgekom het, het groot menigtes Hom gevolg. En kyk, daar kom 'n melaatse en het Hom aanbid en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. En Jesus het sy hand uitgesteek en hom aangeraak en gesê: Ek wil; wees jy rein. En dadelik is sy melaatsheid gereinig. En Jesus sê vir hom: Kyk, jy vertel dit aan niemand nie; maar gaan heen, vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses beveel het, as 'n getuienis vir hulle. En toe Jesus in Kapernaum ingegaan het, het 'n hoofman oor honderd na Hom gekom en Hom gesmeek: en gesê: Here, my dienskneg lê by die huis siek van die verlamde, swaar gepynig. En Jesus sê vir hom: Ek sal kom en hom genees. Die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net die woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is 'n man onder gesag en het soldate onder my; en ek sê vir hierdie man: Gaan, en hy gaan; en vir 'n ander: Kom, en hy kom; en aan my dienaar: Doen dit, en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy verwonderd en sê vir die wat gevolg het: Voorwaar Ek sê vir julle, so groot geloof het Ek nie gevind nie, ook nie in Israel nie. En Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en die weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal in die buitenste duisternis uitgewerp word; daar sal geween wees en gekners van die tande. En Jesus sê vir die hoofman oor honderd: Gaan heen; en soos jy geglo het, laat dit aan jou gebeur. En sy dienaar is in dieselfde uur genees.

MATTEUS 8:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus van die berg af kom, het ’n groot skare Hom gevolg. Daar kom toe onverwags ’n man met ’n ernstige velsiekte nader en val voor Jesus neer met die woorde: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” En dadelik het sy velsiekte verdwyn. Jesus sê toe vir hom: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie. Maar gaan wys vir die priester dat jy gesond is, en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. “So sal jy vir almal duidelik bevestig dat jy gesond geword het.” Toe Hy in Kapernaum aankom, kom pleit daar ’n Romeinse offisier oor honderd by Hom: “Here, my slaaf lê verlam by my huis en hy verduur verskriklike pyn.” Jesus sê vir hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” Maar die offisier antwoord Hom: “Here, ek is nie goed genoeg dat U onder my dak inkom nie. Spreek maar net die woord, en my slaaf sal gesond word. Ek staan self onder die gesag van senior offisiere, en ek het weer soldate wat onder my gesag staan. Ek sê vir hierdie een: ‘Gaan,’ en hy gaan, en vir die ander een: ‘Kom,’ en hy kom. En vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit,’ en hy maak so.” Toe Jesus dit hoor, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir die skare wat besig was om Hom te volg: “Ek verseker julle, só ’n sterk geloof het Ek nog nêrens in Israel teëgekom nie. Glo My, daar sal baie mense van oor die hele wêreld kom, en saam met Abraham, Isak en Jakob die feesmaaltyd in God se koninkryk geniet. Maar die Israeliete, die mense wat daardie koninkryk eintlik moes beërwe het, sal uitgegooi word in die donker daarbuite. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.” Daarop sê Jesus vir die Romeinse offisier: “Gaan huis toe. Soos jy geglo het, sal dit vir jou gebeur.” En op daardie presiese oomblik het sy slaaf gesond geword.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid