MATTEUS 7:21-28
MATTEUS 7:21-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ” “Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos 'n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het. Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit nie ineengestort nie, omdat dit stewig op rots gevestig was. Maar elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit nie uitvoer nie, sal soos 'n onverstandige man wees wat sy huis op sand gebou het. Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit ineengestort, en die ineenstorting was geweldig.” Toe Jesus sy redevoering voltooi het, was die skare verstom oor sy lering
MATTEUS 7:21-28 Bybel vir almal (ABA)
“Dit is nie genoeg as iemand vir My sê: ‘Here, Here’ nie. Hy sal nie daarom by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is. God is my Vader, en mense wat by Hom wil kom, moet doen wat Hy wil hê hulle moet doen. Op die dag van die Here sal baie mense vir My sê: ‘Here, Here, ons het u Naam gebruik om God se boodskap te bring, ons het u Naam gebruik om duiwels uit te jaag uit mense, ons het u Naam gebruik om baie wonderwerke te doen.’ “Maar dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle het nie gedoen wat my wette sê nie.’ ” “Elke mens wat weet wat Ek gesê het en wat dit doen, is soos 'n wyse man wat sy huis op 'n rots gebou het. Dit het gereën en die riviere het vol water geword. Die winde het hard gewaai en dit het die huis geruk. Maar die huis het nie omgeval nie, want die man het sy huis op die rots gebou. Maar elkeen wat weet wat Ek sê en wat dit nie doen nie, is soos 'n dwase mens wat sy huis gebou het op sand. Dit het gereën en die riviere het vol water geword. Die wind het hard gewaai en dit het die huis baie geruk. Die huis het omgeval, en daar het niks oorgebly nie.” Toe Jesus klaar gepraat het, was al die mense verbaas oor hoe Hy vir hulle geleer het
MATTEUS 7:21-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met 'n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer
MATTEUS 7:21-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.” Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig
MATTEUS 7:21-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nie elkeen wat vir my sê: Here, Here, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie; maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir my sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer nie? en in u Naam duiwels uitgedryf het? en in u Naam baie wonderwerke gedoen? En dan sal Ek aan hulle bely: Ek het julle nooit geken nie; gaan weg van My, julle wat ongeregtigheid doen. Daarom, elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n wyse man wat sy huis op 'n rots gebou het. En die reën het neergedaal, en die vloede het gekom, en die winde het gewaai en teen daardie huis geslaan; en dit het nie geval nie, want dit was op 'n rots gegrond. En elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit nie doen nie, sal vergelyk word met 'n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het neergedaal, en die vloede het gekom, en die winde het gewaai en teen daardie huis geslaan; en dit het geval, en sy val was groot. En dit het gebeur, toe Jesus hierdie woorde beëindig het, was die mense verstom oor sy leer.
MATTEUS 7:21-28 Die Boodskap (DB)
“Wanneer die laaste dag op die aarde aanbreek, sal Ek self kom om oor almal te oordeel. Dan sal al hierdie skynheilige mense voor My kom staan en vir My sê: ‘Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.’ “Weet julle wat Ek dan sal antwoord? Ek sal dan vir hulle sê: ‘Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!’” “Ek het julle nou baie dinge oor God geleer. As julle my woorde ter harte neem en dit doen, tree julle reg op. Dan is julle lewens op ’n stewige fondament gebou. Wanneer die reëns en storms oor julle losbreek, sal julle lewenshuis nooit inmekaarstort nie. Want julle lewens is gebou op die Rots wat nooit kan padgee nie. Aan die ander kant: as julle my woorde hoor en dit nie doen nie, is julle regtig dom. Dan is julle lewens op ’n hoop sand gebou. Wanneer die reëns en die storms oor julle losbreek, sal julle lewens uiteindelik inmekaarstort. Dan is die doderyk julle voorland.” Toe Jesus klaar was met sy lering op die berg, was die skare stom van verbasing. Hulle was vol lof oor sy aangrypende woorde.
MATTEUS 7:21-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek en in u Naam bose geeste uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’ Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’” “Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op rots gebou is. Al val daar ’n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas. Maar elkeen wat na my woorde luister en dit nie doen nie, sal wees soos ’n dwaas wie se huis op die sand gebou is. Wanneer daar ’n stortbui val, en die vloedwater afkom, en die stormwinde waai, sal daardie huis heeltemal inmekaarstort.” Toe Jesus sy rede voltooi het, was die skare diep onder die indruk van sy onderrig.