MATTEUS 7:1-29

MATTEUS 7:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie. Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir júlle gebruik word. “En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie? Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ‘Kom, laat ek daardie splintertjie uit jou oog haal,’ terwyl daar ’n yslike stomp in jou eie oog sit? Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit. Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal. “Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie. Hulle sal dit nie respekteer nie. Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur. Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie. Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.” “Hou aan met vra en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak. Elkeen wat so volhardend vra, ontvang; en wie aanhou soek, kry; en vir elkeen wat aanhou klop, sal God oopmaak. Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie. Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie. As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!” “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen. Dit is die kern van die wet en die profete.” “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan. Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!” “Pas op vir die vals profete. Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe. Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie. ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte. ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.” “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek en in u Naam bose geeste uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’ Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’” “Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op rots gebou is. Al val daar ’n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas. Maar elkeen wat na my woorde luister en dit nie doen nie, sal wees soos ’n dwaas wie se huis op die sand gebou is. Wanneer daar ’n stortbui val, en die vloedwater afkom, en die stormwinde waai, sal daardie huis heeltemal inmekaarstort.” Toe Jesus sy rede voltooi het, was die skare diep onder die indruk van sy onderrig. Dit was immers gesagvol – heeltemal anders as dié van hulle eie skrifkenners.

MATTEUS 7:1-29 Bybel vir almal (ABA)

“Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. God sal oor julle oordeel soos julle oor ander mense oordeel. Hy sal aan julle doen wat julle aan ander mense wil doen. “Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy besef nie daar is 'n groot stuk hout in jou eie oog nie? Jy sien die bietjie wat jou broer verkeerd gedoen het, maar jy sien nie die baie wat jyself verkeerd gedoen het nie. Jy kan nie vir jou broer sê jy wil die klein stukkie hout uit sy oog haal wanneer daar 'n groot stuk hout in jou eie oog is nie. As jy dit doen, dan is jy 'n skynheilige mens! Haal eers die groot stuk hout uit jou eie oog. Dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal. “'n Mens gooi nie dinge wat aan God behoort, vir die honde nie. Die honde sal omdraai en hulle sal jou kom byt. Jy gooi ook nie juwele voor varke nie. Die varke sal op die juwele trap met hulle pote. So moet julle nie aanhou om God se boodskap, wat kosbaar is, na mense toe te bring wat die boodskap nie wil ontvang nie.” “Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee wat julle vra. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle laat kry wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak. 'n Pa sal nooit vir sy seun 'n klip gee wanneer die seun vir hom brood vra nie. En hy sal nie vir sy seun 'n slang gee wanneer die seun vir hom 'n vis vra nie. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir die mense wat dit vir Hom vra, dinge gee wat nog beter is. Julle moet aan ander mense doen soos julle wil hê ander mense moet aan julle doen. Dit is wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir julle sê.” “Julle moet by die klein hekkie ingaan. Want die hek na die hel is groot, en dit is maklik om op daardie pad te loop. Baie mense gaan deur die groot hek. Maar die hek na die ewige lewe is klein, en dit is nie maklik om op hierdie pad te loop nie. Min mense kry hierdie pad en loop daarop.” “Pasop vir vals profete. Hulle kom na julle toe en hulle lyk soos skape, maar hulle is nie skape nie, hulle is gevaarlike wolwe. Wanneer jy 'n boom se vrugte sien, dan weet jy watter soort boom dit is. So sal julle ook kan sien watter soort mense dit is wanneer julle sien wat hulle doen. 'n Mens pluk nie druiwe van doringbome of vye van onkruid nie. Nee, goeie bome dra goeie vrugte, en slegte bome dra slegte vrugte. 'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra nie goeie vrugte nie. 'n Mens kap elke boom af wat nie goeie vrugte dra nie, en jy gooi die boom in die vuur. So sal julle weet watter soort mense die vals profete is wanneer julle sien wat hulle doen.” “Dit is nie genoeg as iemand vir My sê: ‘Here, Here’ nie. Hy sal nie daarom by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is. God is my Vader, en mense wat by Hom wil kom, moet doen wat Hy wil hê hulle moet doen. Op die dag van die Here sal baie mense vir My sê: ‘Here, Here, ons het u Naam gebruik om God se boodskap te bring, ons het u Naam gebruik om duiwels uit te jaag uit mense, ons het u Naam gebruik om baie wonderwerke te doen.’ “Maar dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle het nie gedoen wat my wette sê nie.’ ” “Elke mens wat weet wat Ek gesê het en wat dit doen, is soos 'n wyse man wat sy huis op 'n rots gebou het. Dit het gereën en die riviere het vol water geword. Die winde het hard gewaai en dit het die huis geruk. Maar die huis het nie omgeval nie, want die man het sy huis op die rots gebou. Maar elkeen wat weet wat Ek sê en wat dit nie doen nie, is soos 'n dwase mens wat sy huis gebou het op sand. Dit het gereën en die riviere het vol water geword. Die wind het hard gewaai en dit het die huis baie geruk. Die huis het omgeval, en daar het niks oorgebly nie.” Toe Jesus klaar gepraat het, was al die mense verbaas oor hoe Hy vir hulle geleer het, want hulle het besef dit kom van God. Jesus het nie vir hulle geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie.

MATTEUS 7:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal. Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie. Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. 'n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met 'n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

MATTEUS 7:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal. “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry 'n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.” Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

MATTEUS 7:1-29 Die Boodskap (DB)

“Moenie so gou foutvind nie. As jy ander mense links en regs veroordeel, gaan God eendag presies dieselfde met jou doen. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir die groot houtstomp wat in jou eie oog vassit? En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal. “Wees versigtig wanneer julle tussen mense is wat geen respek vir God het nie. Hulle verstaan glad nie hoe groot en heilig Hy is nie. Moenie julle tyd mors om met hulle oor God te praat nie. Soos ’n trop varke sal hulle sy goedheid onder hulle voete vertrap. Boonop gaan hulle julle ook nog beledig en vervolg.” “Julle moet nooit moeg word om te bid nie. Vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Jou hemelse Vader wil net die beste dinge vir jou gee. As jy ’n pa is, behoort jy dit goed te verstaan. Jy wil mos graag net goeie dinge vir jou kinders gee, nie waar nie? As jou kind vir jou ’n stukkie brood kom vra om te eet, sal jy tog nie vir hom ’n klip gee nie. Jy sal ook nie vir hom iets slegs soos ’n slang gee as hy vis wil hê om te eet nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal net die beste dinge gee vir diegene wat Hom daarvoor vra.” “As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra. “Natuurlik is dit nie maklik om te doen wat die Bybel vra nie. Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.” “Julle moet lig loop vir mense wat die goeie nuus verdraai. Hulle kom na julle toe met allerhande mooi godsdienstige praatjies, maar eintlik is hulle so gevaarlik soos ’n spul wolwe. Dit is maklik om hierdie mense uit te ken. Kyk maar net hoe hulle leef. As hulle heeltyd verkeerde dinge doen, wys dit dat hulle ’n spul leuenaars is. “’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte oplewer nie. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra. Hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Dus, as julle wil weet watter mense die goeie nuus verdraai, moet julle maar net gaan kyk hoe hulle leef. Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra. “Daar is baie mense wat maak asof hulle My dien. Hulle noem My om elke hoek en draai ‘Here en Meester’. Daar wag egter ’n groot verrassing op hulle. My Vader gaan glad nie vir hulle plek hê in sy nuwe wêreld nie. Net daardie mense wat doen wat Hy vra, sal by Hom welkom wees. “Wanneer die laaste dag op die aarde aanbreek, sal Ek self kom om oor almal te oordeel. Dan sal al hierdie skynheilige mense voor My kom staan en vir My sê: ‘Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.’ “Weet julle wat Ek dan sal antwoord? Ek sal dan vir hulle sê: ‘Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!’” “Ek het julle nou baie dinge oor God geleer. As julle my woorde ter harte neem en dit doen, tree julle reg op. Dan is julle lewens op ’n stewige fondament gebou. Wanneer die reëns en storms oor julle losbreek, sal julle lewenshuis nooit inmekaarstort nie. Want julle lewens is gebou op die Rots wat nooit kan padgee nie. Aan die ander kant: as julle my woorde hoor en dit nie doen nie, is julle regtig dom. Dan is julle lewens op ’n hoop sand gebou. Wanneer die reëns en die storms oor julle losbreek, sal julle lewens uiteindelik inmekaarstort. Dan is die doderyk julle voorland.” Toe Jesus klaar was met sy lering op die berg, was die skare stom van verbasing. Hulle was vol lof oor sy aangrypende woorde. Jesus se woorde het heeltemal anders geklink as dié van hulle leermeesters. Hy het met groot gesag en oortuiging gepraat.

MATTEUS 7:1-29

MATTEUS 7:1-29 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid