MATTEUS 6:7-15
MATTEUS 6:7-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. “So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
MATTEUS 6:7-15 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer julle bid, moenie 'n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra. Julle moet só bid: “Ons Vader wat in die hemel is, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Ons bid dat al die mense op die aarde sal doen wat U wil hê hulle moet doen, soos die engele in die hemel dit doen. Gee vir ons vandag die kos wat ons vandag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het teen U, soos ons ook ander mense vergewe wat verkeerd gedoen het teen ons. En help ons dat niks sal gebeur wat ons sal laat sonde doen nie. Maar beskerm ons teen die duiwel. “Wanneer ander mense verkeerd doen teen julle, dan moet julle hulle vergewe. Dan sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, dan sal julle Vader in die hemel julle ook nie vergewe wanneer julle verkeerd gedoen het nie.”
MATTEUS 6:7-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.
MATTEUS 6:7-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra. “Só moet julle dan bid: “Ons Vader wat in die •hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen. “Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
MATTEUS 6:7-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar wanneer julle bid, gebruik nie ydele herhalings soos die heidene doen nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word vanweë hulle baie woorde. Moet julle dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet watter dinge julle nodig het voordat julle Hom vra. So bid julle dan: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.
MATTEUS 6:7-15 Die Boodskap (DB)
“Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ’n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister. Moenie soos hulle maak nie. Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan. “Hier is ’n voorbeeld hoe jy moet bid: Ons Vader in die hemel, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Almal in die hemel doen wat U sê. Gee dat almal hier op die aarde ook doen wat U wil hê. Gee ons vandag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons ander mense vergeef wat nie reg teenoor ons optree nie. Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen. “As julle ander mense vergewe wanneer hulle iets verkeerds teen julle gedoen het, sal julle hemelse Vader ook julle sondes vergeef. Moet egter nie dink God sal julle sondes vergewe as julle nie bereid is om ander mense te vergeef nie.”
MATTEUS 6:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra! Bid dan soos volg: Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel. Gee ons die porsie brood wat ons vir vandag nodig het. En vergeef ons ons sondeskuld soos ons ook óns skuldenaars vergewe het. Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose. “As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.