MATTEUS 6:31-33
MATTEUS 6:31-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die •koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
MATTEUS 6:31-33 Bybel vir almal (ABA)
“Daarom moet julle nie bekommerd wees nie. Julle moenie vra: ‘Wat moet ons eet?’ of ‘Wat moet ons drink?’ of ‘Wat moet ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge is belangrik vir die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader in die hemel weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God julle Koning is. Julle moet gehoorsaam wees aan Hom en doen wat Hy wil hê. Dan sal Hy al hierdie ander dinge ook vir julle gee.
MATTEUS 6:31-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
MATTEUS 6:31-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
MATTEUS 6:31-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom moet julle nie dink nie en sê: Wat sal ons eet? of: Wat sal ons drink? of: Waarmee sal ons aangetrek word? (Want na al hierdie dinge soek die heidene:) want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid; en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
MATTEUS 6:31-33 Die Boodskap (DB)
Hou dan op om so kleingelowig te wees! Hy sal sorg dat julle genoeg het om aan te trek. Hou op om te sê: ‘Wat gaan ons vandag eet en drink?’ of: ‘Wat gaan ons vandag aantrek?’ As julle dit doen, tree julle op soos mense wat God glad nie ken nie. Julle het mos ’n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry. “Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!”
MATTEUS 6:31-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.