MATTEUS 6:25-30
MATTEUS 6:25-30 Bybel vir almal (ABA)
“Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, oor wat julle sal eet en drink nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam nie, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die voëls. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, hulle pluk nie vrugte nie en hulle maak nie kos bymekaar in 'n stoorkamer nie. Maar julle Vader in die hemel gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. En hoekom is julle bekommerd oor die klere wat julle moet aantrek? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand die plante in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter sorg vir julle as vir die plante, ook vir julle wat so min glo.
MATTEUS 6:25-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?
MATTEUS 6:25-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?
MATTEUS 6:25-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges?
MATTEUS 6:25-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe, wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; ook nie vir julle liggaam wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie meer as vleis en die liggaam as klere nie? Kyk die voëls van die hemel, want hulle saai nie en hulle maai nie en maak nie bymekaar in skure nie; tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie veel beter as hulle nie? Wie van julle kan deur nadenke een el by sy lengte voeg? En waarom dink julle aan klere? Kyk na die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin nie; En tog sê Ek vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. Daarom, as God die gras van die veld, wat vandag is en môre in die oond gegooi word, so beklee, sal Hy julle nie veel meer beklee nie, kleingelowiges?
MATTEUS 6:25-30 Die Boodskap (DB)
“Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om te eet?’ of: ‘Gaan ek genoeg hê om aan te trek?’ nie. Die lewe gaan tog oor baie meer as kos en klere. Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel. Daarom help al julle bekommernis net mooi niks. Dit gaan nie julle lewe met een enkele dag verleng nie. Allesbehalwe! “Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Kyk gerus ’n bietjie in die veld hoe mooi die lelies lyk wat daar groei. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so deftig te lyk nie. Tog was nie eens daardie skatryk koning Salomo ooit so mooi aangetrek soos een van hulle nie. “As God soveel aandag gee aan hoe die veldgras lyk, wat vandag nog groei en môre weer dood is, sal Hy mos vir julle ook sorg.
MATTEUS 6:25-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie? “Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie? “Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? “En wat klere betref – wat bekommer julle julle daaroor? Leer hierdie les van die veldlelies wat so pragtig in die blom staan. Hulle sloof hulle nie af om vir hulleself klere te maak nie. En tog sê Ek vir julle, selfs Salomo in al sy glorie was nie so pragtig aangetrek soos een van hulle nie. “As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein?