MATTEUS 6:2-4
MATTEUS 6:2-4 Bybel vir almal (ABA)
“Wanneer jy arm mense help, dan moet jy dit nie vir almal in die sinagoges en op die strate vertel nie. Die skynheilige mense doen dit, sodat al die mense moet sê hulle is goed. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie daaroor goed wees vir hulle nie. Wanneer jy arm mense help, dan moet jy dit so doen dat ander mense nie daarvan weet nie. Ander mense moenie sien dat jy arm mense help nie. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, Hy sal goed wees vir jou.”
MATTEUS 6:2-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.
MATTEUS 6:2-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
MATTEUS 6:2-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheiliges in die •sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdesdaad verborge kan bly. En jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
MATTEUS 6:2-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, wanneer jy jou aalmoese bewys, moet jy nie 'n basuin voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, sodat hulle eer van die mense kan hê nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar as jy aalmoese gee, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Sodat jou aalmoese in die verborgene kan wees; en jou Vader wat self in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.
MATTEUS 6:2-4 Die Boodskap (DB)
“Moenie ’n ophef daarvan maak as jy ’n arm persoon help nie. Net skynheilige mense doen dit. Hulle maak ’n groot bohaai wanneer hulle die armes help sodat almal dit kan raaksien en mooi dinge oor hulle kan sê. Onthou: God skuld hulle nou niks meer nie. “Wanneer jy mense help, mag niemand daarvan weet nie. Jy moet dit stil-stil doen. Jou linkerhand moet nie eens weet wat jou regterhand doen nie. Onthou: jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry.”
MATTEUS 6:2-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Wanneer jy iemand in nood help, moenie ’n groot okkasie daarvan maak nie. Dis wat die skynheiliges in die sinagoges en op die strate doen om deur die mense opgehemel te word. Ek verseker julle, dis al beloning wat hulle ooit sal kry. Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon. So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.”