MATTEUS 6:19-31
MATTEUS 6:19-31 Bybel vir almal (ABA)
“Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.” “Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie. As daar nie lig in jou is nie, dan is dit baie donker rondom jou.” “'n Mens kan nie vir twee persone werk nie, want hy sal niks hou van die een persoon nie en hy sal baie hou van die ander persoon, óf hy sal hard werk vir die een persoon en hy sal niks vir die ander persoon wil doen nie. Julle kan nie vir God dien en óók dink geld en baie ander dinge is so belangrik soos Hy nie. “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, oor wat julle sal eet en drink nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam nie, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die voëls. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, hulle pluk nie vrugte nie en hulle maak nie kos bymekaar in 'n stoorkamer nie. Maar julle Vader in die hemel gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. En hoekom is julle bekommerd oor die klere wat julle moet aantrek? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Koning Salomo was ryk en hy het mooi aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand die plante in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter sorg vir julle as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. “Daarom moet julle nie bekommerd wees nie. Julle moenie vra: ‘Wat moet ons eet?’ of ‘Wat moet ons drink?’ of ‘Wat moet ons aantrek?’ nie.
MATTEUS 6:19-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?
MATTEUS 6:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.
MATTEUS 6:19-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. “Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie! “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges? “Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie.
MATTEUS 6:19-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie. Maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek of steel nie; Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Die lig van die liggaam is die oog; as jou oog dus enkel is, sal jou hele liggaam vol lig wees. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig wat in jou is duisternis is, hoe groot is daardie duisternis! Niemand kan twee here dien nie, want óf hy sal die een haat en die ander liefhê; anders sal hy die een vashou en die ander een verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie. Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe, wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; ook nie vir julle liggaam wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie meer as vleis en die liggaam as klere nie? Kyk die voëls van die hemel, want hulle saai nie en hulle maai nie en maak nie bymekaar in skure nie; tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie veel beter as hulle nie? Wie van julle kan deur nadenke een el by sy lengte voeg? En waarom dink julle aan klere? Kyk na die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle swoeg nie, en hulle spin nie; En tog sê Ek vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. Daarom, as God die gras van die veld, wat vandag is en môre in die oond gegooi word, so beklee, sal Hy julle nie veel meer beklee nie, kleingelowiges? Daarom moet julle nie dink nie en sê: Wat sal ons eet? of: Wat sal ons drink? of: Waarmee sal ons aangetrek word?
MATTEUS 6:19-31 Die Boodskap (DB)
“Hou op om van die oggend tot die aand agter geld aan te hardloop. Niks hou hier vir altyd nie. Diewe breek oral in en steel, motte en goggas vreet alles op en ouderdom laat dinge vergaan. Maak eerder vir julle ’n bankrekening daar by God in die hemel oop. Geen dief kan ooit daar inbreek om iets te probeer steel nie. “Die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het. “As jy hemelse skatte wil opgaar, sorg dan dat jy jou oë deur die Here laat instel sodat jy op die regte manier daarmee kan kyk. Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou. “Niemand kan vir twee base werk nie. Jy sal lojaal teenoor een wees en die ander een afskeep. Moet daarom nie eens daaraan dink om God en die geldgod saam te probeer dien nie. Jy moet kies in wie se diens jy wil staan.” “Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om te eet?’ of: ‘Gaan ek genoeg hê om aan te trek?’ nie. Die lewe gaan tog oor baie meer as kos en klere. Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel. Daarom help al julle bekommernis net mooi niks. Dit gaan nie julle lewe met een enkele dag verleng nie. Allesbehalwe! “Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Kyk gerus ’n bietjie in die veld hoe mooi die lelies lyk wat daar groei. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so deftig te lyk nie. Tog was nie eens daardie skatryk koning Salomo ooit so mooi aangetrek soos een van hulle nie. “As God soveel aandag gee aan hoe die veldgras lyk, wat vandag nog groei en môre weer dood is, sal Hy mos vir julle ook sorg. Hou dan op om so kleingelowig te wees! Hy sal sorg dat julle genoeg het om aan te trek. Hou op om te sê: ‘Wat gaan ons vandag eet en drink?’ of: ‘Wat gaan ons vandag aantrek?’
MATTEUS 6:19-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. “Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig instroom sodat jou binneste geheel en al lig word. Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie! “Niemand kan tegelyk twee base dien nie. Hy sal óf ’n renons in die een hê en van die ander een hou; óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat. Om God én die geldgod saam te dien, is onmoontlik. “Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie? “Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie? “Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? “En wat klere betref – wat bekommer julle julle daaroor? Leer hierdie les van die veldlelies wat so pragtig in die blom staan. Hulle sloof hulle nie af om vir hulleself klere te maak nie. En tog sê Ek vir julle, selfs Salomo in al sy glorie was nie so pragtig aangetrek soos een van hulle nie. “As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein? “Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie.