MATTEUS 5:44-48
MATTEUS 5:44-48 Bybel vir almal (ABA)
Maar Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir julle vyande en julle moet bid vir die mense wat slegte dinge doen aan julle. Dan sal die mense weet julle is kinders van julle Vader in die hemel. Want julle Vader laat die son skyn oor slegte en oor goeie mense en Hy laat die reën val op mense wat goed doen en ook op mense wat verkeerd doen. As julle lief is net vir mense wat ook lief is vir julle, dan sal God nie daaroor goed wees vir julle nie. Die tollenaars doen presies dieselfde. En as julle vriendelik is net met julle vriende, dan doen julle wat ander mense ook doen, julle doen niks beter as hulle nie. Die mense wat God nie ken nie, doen presies dieselfde. Julle Vader in die hemel is lief vir al die mense, dit maak nie saak wie hulle is nie. So moet julle ook lief wees vir al die ander mense.”
MATTEUS 5:44-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.
MATTEUS 5:44-48 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
MATTEUS 5:44-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die •hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, verdien julle dan enige beloning? Maak die •tollenaars nie ook maar so nie? En as julle slegs julle broers groet, wat doen julle meer? Maak die heidene nie ook maar so nie? “Wees dus volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
MATTEUS 5:44-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan wees van julle Vader wat in die hemele is, want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon het julle? is selfs die tollenaars nie dieselfde nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? is dit nie eens die tollenaars nie? Wees julle dan volmaak, soos julle Vader wat in die hemele is, volmaak is.
MATTEUS 5:44-48 Die Boodskap (DB)
“Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg. Dan leef julle regtig soos kinders van God. Want Hy doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense. Hy laat dit ook reën oor goeie mense se grond en oor slegte mense se grond. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom, moet julle nie verwag om daarvoor ’n medalje vir goeie diens by God te kry nie. Almal doen dit tog, ook slegte mense wat nie in God glo nie. As julle net julle familie en vriende groet, het julle nog niks spesiaals gedoen nie. Selfs die grootste sondaars groet ook hulle vriende. “Julle moet soos julle hemelse Vader wees. Hy het almal hier op die aarde lief. As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra. Dan stap julle in julle hemelse Vader se voetspore. Dan is julle net soos Hy!”
MATTEUS 5:44-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg. Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader. Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies. En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle? Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde. En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan? Doen die ongelowiges nie ook maar dieselfde nie? “Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in sý liefde is. Hy het mos álle mense lief.”