MATTEUS 5:3-16

MATTEUS 5:3-16 Bybel vir almal (ABA)

“Mense wat weet hulle het vir God nodig, is gelukkige mense, want God wat in die hemel is, is hulle Koning. Mense wat nou hartseer is, is gelukkige mense, want God sal hulle hartseer wegneem. Mense wat nederig is en wat op God vertrou, nie op hulleself nie, is gelukkige mense, want God sal vir hulle die aarde gee. Mense wat baie graag wil doen wat God wil hê, is gelukkige mense, want God sal vir hulle help om alles te doen wat Hy wil hê. Mense wat goed is vir iemand wat swaarkry, is gelukkige mense. God sal vir hulle ook goed wees. Mense wat net vir God dien, is gelukkige mense, want hulle sal God sien. Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders. Wanneer mense doen wat God wil hê, en ander mense doen slegte dinge aan hulle, dan is hulle gelukkige mense. God wat in die hemel is, is hulle Koning. “Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees. Die mense het ook slegte dinge gedoen aan die profete wat voor julle gelewe het.” “Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop. “Julle is vir die wêreld soos lig wat skyn. As 'n stad bo-op 'n berg lê, dan kan al die mense die stad sien. So steek 'n mens ook nie 'n lamp op en maak dit dan toe met 'n emmer nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander, en die lig skyn sodat almal in die huis kan sien. So moet die mense ook julle lig kan sien. Hulle moet sien julle lewe reg. Dan sal hulle ook julle Vader prys wat in die hemel is.”

MATTEUS 5:3-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die •koninkryk van die hemele. Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf. Gelukkig is dié wat honger en dors na •geregtigheid, want hulle sal versadig word. Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang. Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.” “Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis. “Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

MATTEUS 5:3-16 Die Boodskap (DB)

“Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld. “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog. “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort. “Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat. “Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee. “Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien. “Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is. “Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld. “Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ’n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ’n baie groot beloning op julle in die hemel. “Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie. Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.” “Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi. “Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. “Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is. “Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie. Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

MATTEUS 5:3-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel. Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee. Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees. Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig. Gelukkig is dié wat met ontferming uitreik na mense in nood, want God sal Hom oor húlle ontferm. Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien. Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: ‘Julle is mý kinders.’ Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want die koninkryk van die hemele is húlle deel. “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.” “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word. “Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis. “Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

MATTEUS 5:3-16

MATTEUS 5:3-16 AFR83MATTEUS 5:3-16 AFR83MATTEUS 5:3-16 AFR83MATTEUS 5:3-16 AFR83MATTEUS 5:3-16 AFR83MATTEUS 5:3-16 AFR83