MATTEUS 5:27-37

MATTEUS 5:27-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.” “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

MATTEUS 5:27-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg. En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.” “Daar is gesê: ‘Al wat ’n man nodig het om van sy vrou te skei is om aan haar ’n skeisertifikaat te oorhandig.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor huweliksontrou, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg. En elkeen wat met so ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” “Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie. “As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is. Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie. “Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.”

MATTEUS 5:27-37 Bybel vir almal (ABA)

“Julle weet die wette sê: ‘ Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n ander vrou kyk en lus kry om by haar te slaap, het klaar in sy hart sonde gedoen en egbreuk gepleeg. As jou regter-oog jou laat sonde doen, ruk dit uit en gooi dit weg, want dan verloor jy net 'n oog en jou hele liggaam gaan nie hel toe nie. As jou regter-hand jou laat sonde doen, kap dit af en gooi dit weg, want dan verloor jy net 'n hand en dan sal jou hele liggaam nie hel toe gaan nie.” “Julle weet die wette sê: ‘ Elkeen wat van sy vrou skei, moet vir haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Wanneer iemand van sy vrou skei, en die vrou trou weer, dan pleeg sy egbreuk, en dan is dit die man se skuld. En elke man wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk. 'n Man mag net van sy vrou skei as sy seks gehad het met 'n ander man.” “Julle weet ook die wette sê: ‘ Jy moenie iets belowe wat jy nie wil doen nie,’ en ‘as jy vir die Here iets belowe het, dan moet jy dit doen.’ Maar Ek sê vir julle: Jy moet nooit iets belowe en sê die Here is die getuie nie. Julle moenie iets belowe en sê die hemel is die getuie nie, want die hemel is die troon van God. Julle moenie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, want die aarde is die plek waar God se voete rus. Julle moenie iets belowe en sê Jerusalem is die getuie nie, want Jerusalem is die stad van God, die Groot Koning. Jy moenie iets belowe en sê jy is self die getuie nie, want jy kan nie self een haar op jou kop wit of swart maak nie, jy kan nie die kleur verander nie. “Sê ‘ja’ wanneer julle ‘ja’ wil sê, en sê ‘nee’ wanneer julle ‘nee’ wil sê. Dit is die duiwel wat vir julle meer as dit laat sê.”

MATTEUS 5:27-37 Die Boodskap (DB)

“Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree. “Moenie dink dis maklik om te doen wat God vra nie. Nee, as jy wil doen wat Hy sê, is dit net so moeilik soos om een van jou ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou oog uitpluk as jy agterkom dat jy op ’n verkeerde manier na iemand anders kyk. Leef eerder met net een oog, al is dit hoe swaar. Al daardie verkeerde gedagtes gaan in elk geval net maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde oë jou daar? “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?” “Nog een van die bevele wat julle voorouers gereeld moes hoor, is die volgende: ‘As jy van jou vrou wil skei, moet jy maar net sorg dat jy al die wetlike prosedures nakom. Sorg dat jy ’n wettige skeibrief aan haar gee.’ “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.” “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee! “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.”