MATTEUS 5:13-42

MATTEUS 5:13-42 Bybel vir almal (ABA)

“Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop. “Julle is vir die wêreld soos lig wat skyn. As 'n stad bo-op 'n berg lê, dan kan al die mense die stad sien. So steek 'n mens ook nie 'n lamp op en maak dit dan toe met 'n emmer nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander, en die lig skyn sodat almal in die huis kan sien. So moet die mense ook julle lig kan sien. Hulle moet sien julle lewe reg. Dan sal hulle ook julle Vader prys wat in die hemel is.” “Moenie dink Ek het gekom om te sê die Wette van Moses en die boeke van die profete is nie meer belangrik nie. Ek het nie gekom om te sê dit is nie belangrik nie, Ek het gekom om te wys wat Moses en die profete bedoel het. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die hemel en die aarde sal verdwyn, maar niks in die Wette van Moses sal verdwyn nie, nie die kleinste letter of letter-strepie nie. Alles wat daar geskryf is, moet eers gebeur. Iemand dink miskien dit is nie nodig om gehoorsaam te wees aan een van die onbelangrikste van hierdie wette nie, en hy leer vir ander mense ook so. Dan sal hy niks beteken nie by God, die Koning wat in die hemel is. Maar iemand wat gehoorsaam is aan die wette van God en wat vir ander mense ook so leer, sal belangrik wees by God, die Koning wat in die hemel is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle moet gehoorsaam wees en doen wat God wil hê, meer gehoorsaam as die skrifgeleerdes en die Fariseërs. As julle dit nie doen nie, dan sal julle nie by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is.” “Julle weet die wette sê: ‘ Jy mag nie iemand vermoor nie. As jy iemand vermoor, dan sal die hof jou straf.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad word, moet dit weet: Die hof sal hom straf. En elkeen wat vir sy broer sê: Jy is 'n domkop, die Joodse Raad sal hom straf. En elkeen wat vir iemand sê: Jy is 'n dwaas, hy sal brand in die vuur van die hel. Wanneer jy jou offer na die altaar bring, en jy onthou daar dat jou broer kwaad is vir jou, moenie dan offer nie. Los jou offer daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer. Kom dan terug en bring jou offer vir God. Wanneer iemand jou hof toe wil vat, dan moet jy met hom vrede maak voordat julle by die hof kom. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou na die hof bring, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit. Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.” “Julle weet die wette sê: ‘ Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n ander vrou kyk en lus kry om by haar te slaap, het klaar in sy hart sonde gedoen en egbreuk gepleeg. As jou regter-oog jou laat sonde doen, ruk dit uit en gooi dit weg, want dan verloor jy net 'n oog en jou hele liggaam gaan nie hel toe nie. As jou regter-hand jou laat sonde doen, kap dit af en gooi dit weg, want dan verloor jy net 'n hand en dan sal jou hele liggaam nie hel toe gaan nie.” “Julle weet die wette sê: ‘ Elkeen wat van sy vrou skei, moet vir haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Wanneer iemand van sy vrou skei, en die vrou trou weer, dan pleeg sy egbreuk, en dan is dit die man se skuld. En elke man wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk. 'n Man mag net van sy vrou skei as sy seks gehad het met 'n ander man.” “Julle weet ook die wette sê: ‘ Jy moenie iets belowe wat jy nie wil doen nie,’ en ‘as jy vir die Here iets belowe het, dan moet jy dit doen.’ Maar Ek sê vir julle: Jy moet nooit iets belowe en sê die Here is die getuie nie. Julle moenie iets belowe en sê die hemel is die getuie nie, want die hemel is die troon van God. Julle moenie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, want die aarde is die plek waar God se voete rus. Julle moenie iets belowe en sê Jerusalem is die getuie nie, want Jerusalem is die stad van God, die Groot Koning. Jy moenie iets belowe en sê jy is self die getuie nie, want jy kan nie self een haar op jou kop wit of swart maak nie, jy kan nie die kleur verander nie. “Sê ‘ja’ wanneer julle ‘ja’ wil sê, en sê ‘nee’ wanneer julle ‘nee’ wil sê. Dit is die duiwel wat vir julle meer as dit laat sê.” “Julle weet die wette sê: ‘ As jy iemand se oog uitslaan, dan moet hy jou oog ook uitslaan. As jy iemand se tand uitslaan, dan moet hy jou tand ook uitslaan.’ Maar Ek sê vir julle: Moenie keer wanneer iemand slegte dinge doen aan jou nie. As hy jou op jou regter-wang klap, draai dan die ander wang na hom toe, sodat hy jou daar ook kan klap. As hy jou hof toe wil vat omdat hy jou onderkleed wil hê, gee dan ook jou bo-kleed vir hom. As 'n soldaat sê jy moet sy goed een myl ver dra, dan moet jy dit twee myl ver dra. As iemand iets vir jou vra, gee dit vir hom. As iemand iets by jou wil leen, moenie vir hom ‘nee’ sê nie.”

MATTEUS 5:13-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik. MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie. Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie. Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar 'n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk. Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer nie, maar jy moet jou ede aan die Here hou. Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie — nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie. Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose. Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. Maar Ek sê vir julle dat julle 'n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam. Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.

MATTEUS 5:13-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur. “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. “As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.” “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

MATTEUS 5:13-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word. “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis. “Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.” “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. •Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is. “Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die •koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle, as julle •geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die •Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie. “Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. “En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe. “Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. •Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gegooi word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland. “Daar is gesê, ‘Wie van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. “Verder het julle gehoor dat daar vir die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie 'n eed verbreek nie, maar jy moet jou geloftes aan die Here nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet hoegenaamd nie sweer nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank vir sy voete is; nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad van die groot Koning is. Jy moet ook nie by jou eie kop sweer nie, want jy kan nie een van jou hare wit of swart maak nie. Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand’. Maar Ek sê vir julle dat julle nie 'n slegte mens moet teengaan nie. Nee, as iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom. En as iemand jou voor die hof wil daag en jou onderkleed wil vat, gee hom ook die bokleed. En as iemand een myl van jou afdwing, loop twee myl met hom saam. Gee aan wie van jou iets vra, en moet die een wat van jou wil leen, nie wegwys nie.

MATTEUS 5:13-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Julle is die sout van die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit gesout word? dit is van nou af vir niks goed nie, behalwe om uitgewerp te word en onder die voete van mense vertrap te word. Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n heuwel lê, kan nie weggesteek word nie. 'n Mens steek ook nie 'n kers op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op 'n kandelaar; en dit gee lig vir almal wat in die huis is. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik. Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie; Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet verbygaan totdat alles vervul is nie. Elkeen dan wat een van hierdie geringste gebooie breek en die mense so leer, hy sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie die geregtigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs oortref nie, julle in geen geval in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. Julle het gehoor dat daar van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie; en elkeen wat doodslaan, is in gevaar van die oordeel. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat sonder oorsaak vir sy broer kwaad is, in gevaar is vir die oordeel; en elkeen wat vir sy broer sê: Raka, sal in gevaar wees van die Raad; maar elkeen wat sê: Jou dwaas! sal in gevaar wees van hel vuur. Daarom, as jy jou gawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het; Laat jou gawe daar voor die altaar staan en gaan heen; word eers met jou broer versoen, en kom dan en offer jou gawe. Kom gou met jou teëstander saam, terwyl jy met hom op die pad is; dat die teëstander jou nie ooit aan die regter oorgee en die regter jou aan die offisier oorgee en jy in die gevangenis gewerp word nie. Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal sekerlik nie daarvandaan uitkom voordat jy die uiterste vergelding betaal het nie. Julle het gehoor dat daar van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. En as jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou weg; want dit is vir jou nuttig dat een van jou lede vergaan en nie dat jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou af weg; want dit is vir jou nuttig dat een van jou lede vergaan en nie dat jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. Daar is gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet vir haar 'n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe vir die oorsaak van hoerery, haar laat egbreuk pleeg; en elkeen wat met haar geskei is, pleeg egbreuk. Weereens, julle het gehoor dat daar deur hulle van ouds gesê is: Jy mag jouself nie sweer nie, maar jy moet jou eed aan die Here nakom. Maar Ek sê vir julle: Sweer glad nie; ook nie by die hemel nie; want dit is God se troon: Ook nie by die aarde nie; want dit is sy voetbank; ook nie by Jerusalem nie; want dit is die stad van die groot Koning. Jy mag ook nie by jou hoof sweer nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Maar laat julle kommunikasie wees: Ja, ja; Nee, nee, want alles wat meer is as dit, kom uit die kwaad. Julle het gehoor dat daar gesê is: 'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand. Maar Ek sê vir julle dat julle die kwaad nie weerstaan nie; maar elkeen wat jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. En as iemand jou vir die wet wil dagvaar en jou mantel wegneem, laat hom ook jou mantel kry. En elkeen wat jou verplig om 'n myl te gaan, gaan saam met hom twee. Gee aan hom wat jou vra, en van hom wat van jou wil leen, moet jy nie wegdraai nie.

MATTEUS 5:13-42 Die Boodskap (DB)

“Julle is sout wat smaak moet gee aan hierdie smaaklose wêreld waarin almal in sonde leef. As julle dit nie doen nie, beteken julle net mooi niks vir God nie. Dan kan Hy julle net sowel op die ashoop weggooi. “Julle is ’n lig vir die donker wêreld rondom julle. Almal moet kan sien dat julle glo. “Julle geloof moet net so sigbaar wees soos ’n stad wat hoog bo-op ’n berg gebou is. “Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee, ’n lig word in die middel van ’n vertrek neergesit sodat almal kan sien wat om hulle aangaan. Dit is presies wat julle ook moet doen. Moenie iewers in die donker gaan wegkruip nie. Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.” “Moenie dink Ek is hier om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek is juis hier sodat julle presies kan weet hoe julle die wet moet gehoorsaam. Ek sê weer: Ek kom nie om God se wet tot niet te maak nie. Dit sal altyd bly voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemelruim is, sal die wet van God bly bestaan. So belangrik is dit. “As jy dit sou waag om een van die voorskrifte in die wet te ignoreer, hoe onbenullig dit ook al is, is jy in groot moeilikheid by God. Jy is nog dieper in die moeilikheid as jy ander mense leer om hierdie voorskrifte te ignoreer. As jy sulke dinge doen, moet jy nie dink dat daar vir jou ’n plek in God se nuwe wêreld sal wees nie. Aan die ander kant: as jy alles doen wat die wet sê en ook ander mense leer om presies dieselfde as jy te doen, sal jy definitief ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Maar nou moet julle baie mooi luister. Julle moenie die fout maak om die wet van God op dieselfde manier te probeer gehoorsaam as julle godsdienstige leiers nie. Nee, julle sal die wet nog baie strenger as hulle moet gehoorsaam as julle ’n plek wil hê in God se nuwe wêreld. Kom Ek gee julle ’n paar voorbeelde hoe julle dit moet doen.” “Julle onthou mos dat die godsdienstige leiers aan julle ouers gesê het: ‘’n Mens mag nie moord pleeg nie. Alle moordenaars moet hof toe gesleep word en die doodstraf kry.’ “Maar Ek sê vir julle dat iemand wat vir sy medemens kwaad is al klaar ’n moordenaar is. So iemand behoort in die hof aangekla te word. Iemand wat sy medemens uitskel vir ’n gek moet selfs voor die hooggeregshof gedaag word. En iemand wat so ver gaan om sy medemens ’n idioot te noem moet in die vuur van die hel gaan brand. “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou skielik dat ’n vriend of ’n familielid van jou om die een of ander rede vir jou kwaad is, moet jy jou offer net daar laat staan. Gaan dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan jy terugkom en jou offer aan God bring. “Nog ’n voorbeeld: as iemand jou hof toe wil vat, moet jy gou-gou vrede gaan maak. Moenie eers wag totdat dinge handuit ruk en jy later in die hof moet verskyn, of totdat die polisie jou kom vang en jy in die tronk beland nie. Nee, gaan maak dinge tussen julle betyds reg. Anders moet jy dalk ’n lang tyd in die tronk gaan sit.” “Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree. “Moenie dink dis maklik om te doen wat God vra nie. Nee, as jy wil doen wat Hy sê, is dit net so moeilik soos om een van jou ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou oog uitpluk as jy agterkom dat jy op ’n verkeerde manier na iemand anders kyk. Leef eerder met net een oog, al is dit hoe swaar. Al daardie verkeerde gedagtes gaan in elk geval net maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde oë jou daar? “Kap dadelik jou hand af as jy agterkom dat jy dinge doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer met net een hand, hoe moeilik dit ook al is, as om te doen wat jy wil. Onthou: sulke verkeerde dade gaan nog maak dat jy in die hel beland. En wat help twee gesonde hande jou in die hel?” “Nog een van die bevele wat julle voorouers gereeld moes hoor, is die volgende: ‘As jy van jou vrou wil skei, moet jy maar net sorg dat jy al die wetlike prosedures nakom. Sorg dat jy ’n wettige skeibrief aan haar gee.’ “Ek sê egter vandag vir julle: julle mag glad nie skei nie. Dis teen God se wil. Jy mag net van jou vrou skei as sy by iemand anders geslaap het. As jy oor enige ander rede van haar skei, maak jy dat jou vrou owerspel pleeg as sy later weer trou. Omdat haar eerste huwelik nog steeds in God se oë voortgaan, is sy en haar nuwe man dan skuldig aan egbreuk.” “Julle voorouers moes gereeld uitsprake aanhoor soos: ‘Jy mag nooit ’n belofte verbreek wat jy voor God gemaak het nie. Jy moet al jou beloftes wat jy aan die Here gemaak het, nakom.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat julle nooit ’n belofte in die Naam van God moet maak nie. Wanneer julle by allerhande heilige plekke sweer om gesag aan julle woorde te gee, maak julle God se groot Naam goedkoop. Onthou: Hy is in die hemel, maar ook hier op die aarde. En Hy hoor elke woord wat julle sê; ook al daardie vinnige beloftes wat julle in sy Naam aflê om meer gesag aan julle eie woorde te gee. Hou dadelik op daarmee! “Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Dit kan tog niks aan julle omstandighede verander nie. Julle kan nie eens ’n enkele haar op julle kop se kleur verander deur hierdie soort beloftes nie. Sê net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. As julle enigiets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid, doen julle verkeerd. Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.” “Nog ’n bevel wat julle goed ken, is die volgende: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Oftewel: oortredings moet regverdig gestraf word. “Ek sê egter vandag vir julle: julle moenie mense wat julle sleg behandel probeer terugkry nie. As iemand jou deur die gesig klap om jou te verneder moet jy dit maar vat. Moenie terugslaan nie. En as iemand jou hof toe wil vat oor iets wat jy hom skuld, gee dit dadelik vir hom terug. Sluit ook sommer ’n groot geskenk daarby in om die vrede te bewaar. “As ’n soldaat na jou toe kom en jou beveel om sy rugsak ’n kilometer ver te dra, moet jy sommer uit jou eie aanbied om dit twee kilometer ver te dra. “Julle moet vrygewig wees. Deel julle besittings met mense wat julle vra om hulle te help. Moenie mense wegjaag as hulle iets by julle wil leen nie.”

MATTEUS 5:13-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word. “Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis. “Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!” “Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is. “As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk. “Want Ek sê vir julle, as julle nie die skrifkenners en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie.” “Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê ‘jou gek’, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê ‘jou onnosel’, sal jy jou in die hel moet verantwoord. “As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer. “Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi. “Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg. En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.” “Daar is gesê: ‘Al wat ’n man nodig het om van sy vrou te skei is om aan haar ’n skeisertifikaat te oorhandig.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor huweliksontrou, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg. En elkeen wat met so ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” “Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie. “As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is. Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie. “Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ’n slegte mens verset nie. As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang. En gee vir hulle wat jou hof toe wil vat omdat hulle jou onderkleed wil hê, ook jou bo-kleed. As ’n soldaat jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer ver. “Géé vir die een wat iets van jou vra, en moenie jou rug draai op iemand wat by jou wil leen nie.”

MATTEUS 5:13-42

MATTEUS 5:13-42 AFR83MATTEUS 5:13-42 AFR83MATTEUS 5:13-42 AFR83MATTEUS 5:13-42 AFR83MATTEUS 5:13-42 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid