MATTEUS 28:6-9
MATTEUS 28:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Hy is nie hier nie, want Hy lewe weer. Hy het gesê dit sal gebeur. Kom kyk, hier is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels Hy lewe weer. Dit is wat sal gebeur: Jesus gaan voor julle na Galilea, en julle moet ook gaan. Julle sal Hom daar sien. Dit is wat ek vir julle moes kom sê.” Die vroue het gou weggegaan van die graf. Hulle was bang en baie bly en hulle het gehardloop om dit vir die dissipels te vertel. Skielik het Jesus daar voor hulle gestaan en Hy het vir hulle gesê: “Ek groet julle!” Die vroue kom toe na Jesus toe. Hulle het aan sy voete geraak en Hom aanbid.
MATTEUS 28:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê. En hulle het haastig weggegaan van die graf met vrees en groot blydskap, en gehardloop om dit aan sy dissipels te vertel. En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom.
MATTEUS 28:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.” Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel. Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid.
MATTEUS 28:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het, en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea – daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ” Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. Onverwags het Jesus hulle tegemoet gekom en gesê: “Gegroet!” Hulle gaan toe nader, gryp sy voete en aanbid Hom.
MATTEUS 28:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het. En gaan gou en sê vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgestaan het; en kyk, Hy gaan voor julle uit na Galiléa; daar sal julle Hom sien; kyk, Ek het dit vir julle gesê. En hulle het vinnig van die graf af weggegaan met vrees en groot blydskap; en het wel gehardloop om sy dissipels woord te bring. En terwyl hulle gaan om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle tegemoet en sê: Wees gegroet! En hulle het gekom en Hom aan die voete vasgehou en Hom aanbid.
MATTEUS 28:6-9 Die Boodskap (DB)
Hy het mos self gesê Hy gaan opgewek word. Presies dit het gebeur! Maar staan nader; kom kyk self na die plek waar Hy gelê het. As julle klaar gekyk het, maak so gou as wat julle kan en gaan vertel vir sy dissipels dat Hy uit die dood opgewek is. Sê vir hulle Hy is op pad Galilea toe. Julle almal moet Hom daar gaan kry. Dit is my boodskap aan julle.” Die vroue het nie op hulle laat wag nie. Hulle hardloop toe so vinnig as wat hulle kon huis toe om vir die dissipels te gaan vertel. Van skrik het hulle bene nog maar gebewe, maar hulle harte het van pure blydskap vinnig geklop. Terwyl hulle afsit huis toe, kom hulle skielik vir Jesus self teë. Daar het Hy gestaan.
MATTEUS 28:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê. En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.” Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan. Oorstelp van skok, maar nog meer van ’n ontsaglike blydskap, het hulle gehardloop om die boodskap aan sy dissipels te gaan gee. En toe, meteens, daar staan Jesus voor die vroue, en Hy sê: “Goeiedag, almal!” Hulle hardloop na Hom toe, gryp sy voete vas en aanbid Hom.