MATTEUS 27:1-4
MATTEUS 27:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Vroeg die volgende oggend het al die priesterleiers en die familieleiers van die volk planne gemaak teen Jesus om Hom dood te maak. Hulle het Jesus met boeie vasgemaak en Hom weggevat en hulle het Hom vir die goewerneur Pilatus gegee om Hom te straf. Judas wat vir Jesus verraai het, het gehoor dat die Joodse Raad besluit het dat Jesus skuldig is en dat Hy moet sterf. Judas was toe jammer en hy het die 30 silwer geldstukke teruggegee vir die priesterleiers en die familieleiers. Hy het gesê: “Ek het sonde gedoen, want ek het 'n onskuldige man verraai, en nou moet Hy sterf.” Maar die priesterleiers en die familieleiers het vir hom gesê: “Dit is nie ons probleem nie! Dit is jou probleem!”
MATTEUS 27:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe dit dag geword het, het al die owerpriesters en die ouderlinge van die volk saam raad gehou teen Jesus om Hom dood te maak. En hulle het Hom geboei en weggelei en Hom oorgelewer aan Pontius Pilatus, die goewerneur. Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!
MATTEUS 27:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer. Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai.” Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”
MATTEUS 27:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Teen dagbreek het al die leierpriesters en die familiehoofde van die volk teen Jesus 'n besluit geneem om Hom dood te maak. Hulle het Hom toe geboei, weggelei en aan •Pilatus, die prokurator, uitgelewer. Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Hulle het egter gesê: “Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien. ”
MATTEUS 27:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe dit môre word, het al die owerpriesters en ouderlinge van die volk raad teen Jesus gehou om Hom dood te maak. En toe hulle Hom gebind het, het hulle Hom weggelei en Hom aan Pontius Pilatus, die goewerneur, oorgegee. Toe Judas, wat hom verraai het, sien dat hy veroordeel was, het hy berou gehad en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge. En gesê: Ek het gesondig deurdat ek die onskuldige bloed verraai het. En hulle sê: Wat is dit vir ons? sien jy daarvoor.
MATTEUS 27:1-4 Die Boodskap (DB)
Met sonsopkoms het die Joodse leiers hulle besluit beklink: Jesus moes doodgemaak word. Daarom het hulle Hom geboei en na Pilatus, die goewerneur, gestuur. Judas, wat Hom verraai het, het alles mooi dopgehou. Toe hy agterkom wat die Joodse leiers oor Jesus besluit het, het hy vreeslik sleg gevoel. Sy gewete het hom begin pla. Hy het die omkoopgeld gevat en dit vir die Joodse leiers gaan teruggee. “Dè, vat! Ek het ’n groot fout gemaak. Ek het ’n onskuldige man in die moeilikheid laat beland.” “Dit is jou saak. Dit pla ons nie,” sê die Jode.
MATTEUS 27:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Baie vroeg daardie oggend het al die priesterhoofde en die familiehoofde saam teen Jesus beraadslaag oor hoe hulle moes optree om sy dood te bewerk. Hulle het Hom toe in boeie weggeneem en aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig. Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer!” Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.”