MATTEUS 26:62-65
MATTEUS 26:62-65 Bybel vir almal (ABA)
Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat.
MATTEUS 26:62-65 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is? Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor!
MATTEUS 26:62-65 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor.
MATTEUS 26:62-65 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor!
MATTEUS 26:62-65 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe staan die hoëpriester op en sê vir hom: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir hom: Ek besweer jou by die lewende God, dat jy vir ons moet sê of U die Christus is, die Seun van God. Jesus sê vir hom: Jy het gesê; nogtans sê Ek vir jou, van nou af sal julle die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslastering gespreek; wat het ons verder van getuies nodig? kyk, nou het julle sy godslastering gehoor.
MATTEUS 26:62-65 Die Boodskap (DB)
Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het.
MATTEUS 26:62-65 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?” Maar Jesus het bly swyg. Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle: Julle sal My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Hy terugkom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor.