MATTEUS 26:57-67

MATTEUS 26:57-67 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap

MATTEUS 26:57-67 Bybel vir almal (ABA)

Die mense wat vir Jesus gevang het, het Hom weggevat na Kajafas toe. Kajafas was die hoëpriester. Die skrifgeleerdes en die familieleiers het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om te sien wat sal gebeur. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad wou hê iemand moet leuens vertel en sê dat Jesus iets gedoen het wat verkeerd is, sodat hulle Hom kon doodmaak. Maar hulle het niks gekry wat Jesus verkeerd gedoen het nie. Baie mense het gekom en hulle het leuens vertel, maar die Raad kon niks kry om Jesus te beskuldig nie. Later het twee mense gekom en hulle het gesê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek kan die tempel van God afbreek en Ek sal dit in drie dae weer bou.’ ” Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Hulle het toe gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Hulle het in Jesus se gesig gespoeg en hulle het Hom met die vuis geslaan. Party van hulle het Hom geklap

MATTEUS 26:57-67 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap

MATTEUS 26:57-67 Die Boodskap (DB)

Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’” Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!” Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig.

MATTEUS 26:57-67 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur. Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei. En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’” Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?” Maar Jesus het bly swyg. Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle: Julle sal My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Hy terugkom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor. Wat is julle bevinding?” “Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.” Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid