MATTEUS 26:14-16
MATTEUS 26:14-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.
MATTEUS 26:14-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied. Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.
MATTEUS 26:14-16 Bybel vir almal (ABA)
Een van die twaalf dissipels se naam was Judas Iskariot. Hy het na die priesterleiers toe gegaan en gevra: “Wat sal julle vir my gee as ek julle help om Jesus te vang?” Die priesterleiers het toe vir Judas 30 silwer geldstukke betaal. Van toe af het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai.
MATTEUS 26:14-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg. En van toe af het hy 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
MATTEUS 26:14-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
MATTEUS 26:14-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het een van die twaalf, met die naam van Judas Iskariot, na die owerpriesters gegaan, En hy sê vir hulle: Wat sal julle my gee, en ek sal hom aan julle oorgee? En hulle het 'n verbond met hom gesluit vir dertig sikkels silwer. En van toe af het hy die geleentheid gesoek om hom te verraai.
MATTEUS 26:14-16 Die Boodskap (DB)
Omtrent in hierdie tyd is Judas Iskariot, ’n dissipel, skelm na die leiers van die priesters toe. “Ek kan vir julle gaan wys waar Jesus is. Wat is dit vir julle werd?” “Ons sal vir jou 30 stukke silwer gee,” kom die antwoord. Van toe af het Judas net die regte oomblik gesoek om Jesus te verraai.