MATTEUS 26:1-19

MATTEUS 26:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dit is oor twee dae Paasfees. God gee My, die Seun van die mens, vir die mense sodat hulle My kan kruisig.” Toe het die priesterleiers en die familieleiers van die volk bymekaargekom in die hoëpriester se huis. Die hoëpriester se naam was Kajafas. Hulle het planne gemaak om Jesus te vang en om Hom dood te maak. Hulle wou dit skelm doen. Hulle het gesê: “Ons moet dit nie doen wanneer die mense Paasfees vier nie, want dan sal hulle kwaad word en almal sal skree en raas.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse man. Daar kom toe 'n vrou na Jesus toe. Sy het 'n mooi klip-kruikie gehad en in die kruikie was daar baie duur lekkerruik-olie. Sy het die olie op Jesus se kop uitgegooi terwyl Hy by die tafel gesit en eet het. Toe die dissipels dit sien, het hulle kwaad geword daaroor en hulle het gesê: “Hoekom mors sy die olie? Sy kon dit verkoop het en baie geld gekry het. Dan kon sy die geld vir die arm mense gegee het.” Jesus het geweet wat hulle gesê het, en daarom het Hy vir sy dissipels gesê: “Hoekom pla julle die vrou? Sy het vir My iets gedoen wat goed is. Die arm mense is altyd by julle, maar Ek sal nie altyd by julle wees nie. Die vrou het nou die lekkerruik-olie oor My gegooi, en sy het dit gedoen sodat my liggaam gereed kan wees wanneer hulle My begrawe. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense hierdie goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.” Een van die twaalf dissipels se naam was Judas Iskariot. Hy het na die priesterleiers toe gegaan en gevra: “Wat sal julle vir my gee as ek julle help om Jesus te vang?” Die priesterleiers het toe vir Judas 30 silwer geldstukke betaal. Van toe af het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, het Jesus se dissipels na Hom toe gekom en vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het gesê hulle moet in Jerusalem na 'n man toe gaan en vir hom sê: “Ons Meneer sê: ‘My tyd is naby. Ek en my dissipels wil die Paas-ete in jou huis eet.’ ” Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete.

MATTEUS 26:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Jesus al hierdie woorde geëindig het, sê Hy vir sy dissipels: Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word. Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie. EN toe Jesus in Betánië was in die huis van Simon, die melaatse, kom 'n vrou na Hom met 'n albaste fles met baie kosbare salf, en sy gooi dit op sy hoof uit terwyl Hy aan tafel was. En toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waarvoor is hierdie verkwisting? Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. Maar toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het 'n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie. Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar. TOE gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg. En van toe af het hy 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. EN op die eerste dag van die ongesuurde brode kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet? En Hy antwoord: Gaan na die stad na 'n sekere iemand en sê vir hom: Die Meester laat weet: My tyd is naby. By jou sal Ek die pasga hou met my dissipels. Daarop het die dissipels gedoen soos Jesus hulle beveel het, en hulle het die pasga berei.

MATTEUS 26:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.” In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.” Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het 'n vrou by Jesus gekom met 'n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so 'n verkwisting?” vra hulle. “'n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.” Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.” Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

MATTEUS 26:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Jesus al sy redevoerings voltooi het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle is bewus daarvan dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en dat die •Seun van die Mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word. ” In daardie tyd het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk in die ampswoning van die hoëpriester, met die naam Kajafas, vergader. Hulle het saam planne beraam om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het egter gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk ontstaan nie.” Toe Jesus in Betanië in die huis van Simon die Melaatse was, het 'n vrou na Hom gekom met 'n albasterfles baie kosbare reukolie, en dit oor sy kop uitgegiet terwyl Hy vir ete aangeleun het. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en vra: “Waarom hierdie verkwisting? 'n Mens kon dit vir baie geld verkoop het, wat aan die armes gegee kon word.” Toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het immers 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. Toe sy hierdie reukolie oor my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Waar in die hele wêreld ook al hierdie evangelie verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels na Jesus gekom en gevra: “Waar wil U hê moet ons vir U voorbereidings tref om die Pasga te eet?” Hy het gesê: “Gaan in die stad na 'n sekere persoon en sê vir hom, ‘Die Leermeester sê: My tyd is naby – Ek wil die Pasga met my dissipels by jou vier.’ ” Die dissipels het gemaak soos Jesus hulle beveel het, en die Pasga voorberei.

MATTEUS 26:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Jesus al hierdie woorde klaar gemaak het, sê Hy vir sy dissipels: Julle weet dat na twee dae die fees van die pasga is, en die Seun van die mens word oorgelewer om gekruisig te word. Toe het die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die oudstes van die volk byeengekom by die paleis van die hoëpriester wat Kajafas genoem word, en beraadslaag dat hulle Jesus met listigheid kon aangryp en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die feesdag nie, dat daar nie 'n oproer onder die volk sal wees nie. En toe Jesus in Betanië was, in die huis van Simon die melaatse, Daar het 'n vrou na Hom gekom wat 'n albaste boks van baie kosbare salf gehad het en dit op sy hoof gegooi terwyl hy aan tafel was. Maar toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waartoe is hierdie vermorsing? Want hierdie salf kon vir baie verkoop gewees het en aan die armes gegee gewees het. Toe Jesus dit verstaan, sê Hy vir hulle: Waarom pla julle die vrou? want sy het 'n goeie werk aan my gedoen. Want julle het die armes altyd by julle; maar my het julle nie altyd nie. Want deurdat sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit vir my begrafnis gedoen. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig sal word, daar sal ook vertel word van dit wat hierdie vrou gedoen het om haar te gedenk. Toe het een van die twaalf, met die naam van Judas Iskariot, na die owerpriesters gegaan, En hy sê vir hulle: Wat sal julle my gee, en ek sal hom aan julle oorgee? En hulle het 'n verbond met hom gesluit vir dertig sikkels silwer. En van toe af het hy die geleentheid gesoek om hom te verraai. En op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brode het die dissipels na Jesus gekom en vir Hom gesê: Waar wil U hê moet ons vir U berei om die pasga te eet? En hy sê: Gaan na die stad na so 'n man en sê vir hom: Die Meester sê: My tyd is naby; Ek sal die pasga by jou huis hou saam met my dissipels. En die dissipels het gedoen soos Jesus hulle beveel het; en hulle het die pasga voorberei.

MATTEUS 26:1-19 Die Boodskap (DB)

Daarmee het Jesus vir hulle gesê wat Hy wou sê. Hy begin toe met die dissipels praat oor die paasfees wat nader kom: “Julle weet natuurlik dat dit oor twee dae paasfees is. Dit gaan ’n paasfees wees om te onthou, want Ek gaan verraai en gekruisig word.” Juis toe het al die belangrikste Joodse leiers in die huis van die hoëpriester Kajafas bymekaargekom. Hulle het allerhande planne beraam om Jesus dood te maak, maar hulle moes eers ’n rede kry om Hom te vang. Hulle wou Hom egter nie vang terwyl die paasfees aan die gang was nie. “Ons wil niks waag en dalk ’n opstand onder die mense by die fees veroorsaak nie,” het hulle gemeen. Terwyl die Joodse leiers met hierdie wraakplanne besig was, was Jesus juis in Betanië. Hy het by Simon, wat eers melaats was, gebly. Jesus-hulle was besig om te eet. ’n Vrou kom toe na Hom toe met ’n fles duur olie. Die olie was soos parfuum. Sy skud die hele fles olie oor Hom uit. Toe die ander aan die tafel sien wat sy besig was om te doen, was hulle sommer baie omgekrap. “Hou op! Jy mors die goed,” roep hulle uit. “Ons kon dit vir baie geld verkoop het. Dink net hoeveel arm mense ons daarmee kon gehelp het.” Toe Jesus sien hoe hulle reageer, sê Hy: “Waarom kraak julle die vrou so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Onthou een ding: julle kan later die armes help, want daar sal altyd arm mense wees. Maar Ek gaan nie altyd by julle wees nie. Sy het hierdie geurige olie oor my liggaam gegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Hierdie liggaam gaan binnekort in die graf lê. Daarom kan julle seker wees dat Christene nooit sal vergeet wat sy vandag gedoen het nie. Waar mense in die toekoms ook al oor My gaan praat, sal hulle oor haar ook praat. En hulle sal dit graag doen.” Omtrent in hierdie tyd is Judas Iskariot, ’n dissipel, skelm na die leiers van die priesters toe. “Ek kan vir julle gaan wys waar Jesus is. Wat is dit vir julle werd?” “Ons sal vir jou 30 stukke silwer gee,” kom die antwoord. Van toe af het Judas net die regte oomblik gesoek om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood in Egipte, kom Jesus se dissipels na Hom toe. “Waar moet ons die paasete gaan voorberei?” vra hulle. Hy antwoord hulle: “Gaan in die stad na so-en-so toe. Sê dan vir hom: ‘Jesus sê: My tyd word nou min. Ek en my dissipels sou graag hier by jou aan huis die paasete wou eet.’” Jesus se volgelinge is daar weg en het alles presies so gaan doen.

MATTEUS 26:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat Jesus al hierdie uitsprake afgehandel het, het Hy vir sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan sal Ek, die Seun van die Mens, oorgegee word om gekruisig te word.” Juis in daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde in die huis van Kajafas, die hoofpriester, vergader en saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus in die geheim kon vang en uit die weg ruim. Hulle het egter saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders kom daar ’n oproer onder die volk.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, kom daar ’n vrou na Hom toe met ’n albaste fles vol duur aromatiese olie en gooi dit op sy kop uit. Toe die dissipels dit sien, het hulle hulle daaroor opgewerk. “Watter vermorsing,” het hulle onder mekaar gesê, “sy kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop en die geld vir die armes gegee het!” Jesus het dit egter agtergekom en vra hulle toe: “Waarom maak julle dit so moeilik vir hierdie vrou? Sy het immers ’n weldaad aan My gedoen. Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie. Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei. Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!” Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied. Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?” Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’” Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei.