MATTEUS 24:9-13
MATTEUS 24:9-13 Bybel vir almal (ABA)
Dan sal mense julle vir ander mense gee, en daardie mense sal julle verdruk en doodmaak. Al die volke sal julle haat omdat julle aan My behoort. Dan sal baie mense ophou om in My te glo. Hulle sal mekaar verraai en hulle sal mekaar vir die vyand gee. Hulle sal mekaar haat. Daar sal baie vals profete kom en hulle sal vir baie mense verkeerd leer. Meer en meer mense sal nie doen wat God se wette sê nie, en daarom sal die liefde van die meeste mense min word. Maar as iemand tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God hom red.
MATTEUS 24:9-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
MATTEUS 24:9-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. “Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.
MATTEUS 24:9-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.
MATTEUS 24:9-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie aanstoot neem en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mislei. En omdat die ongeregtigheid toeneem, sal die liefde van baie verkoel. Maar hy wat volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
MATTEUS 24:9-13 Die Boodskap (DB)
Die ongelowiges gaan julle haat met ’n vurige haat. Hulle gaan lekkerkry om te sien hoe julle ter wille van My gemartel en selfs doodgemaak word. Dit sal ook al hoe meer uit die mode raak om kerk toe te gaan en ’n Christen te wees. Wat egter hoog in die mode sal wees, is om mekaar om elke hoek en draai te bedrieg en niks vir mekaar oor te hê nie. Daar sal ook baie mense kom wat hoog en laag sal sweer dat hulle boodskappers van God is. Hulle is natuurlik skaamtelose bedrieërs. Die ergste is dat daar mense sal wees wat hulle gaan glo. “Liefde gaan baie skaars word, want mense sal hulle nie meer steur aan wat God wil hê nie. Julle moet egter nooit God se hand los nie, nooit nie! “So kan julle seker wees dat julle vir ewig saam met Hom sal leef; daarvoor sal Hy self sorg. Een ding is egter seker. Al hierdie haat en vyandskap sal die boodskap van God in hierdie wêreld nie kan stilmaak nie.
MATTEUS 24:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat. Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring. Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.