MATTEUS 24:45-51
MATTEUS 24:45-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie is dan 'n getroue en wyse dienskneg wat sy heer oor sy huisgesin aangestel het om hulle op die regte tyd voedsel te gee? Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom aanstel as heerser oor al sy besittings. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer stel sy koms uit; en sal begin om sy medediensknegte te slaan en saam met die dronkgesindes te eet en te drink; Die heer van daardie dienskneg sal kom op 'n dag dat hy na hom nie kyk nie, en op 'n uur wat hy nie weet nie, en sal hom uitsny en hom sy deel aan die geveinsdes bepaal; daar sal geween wees en gekners van die tande.
MATTEUS 24:45-51 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook gesê: “Ek wil vir julle vertel hoe is 'n slaaf wat verstandig is en wat doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om die hoof te wees oor al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien die slaaf is besig om alles te doen wat hy vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slegte slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. Dan begin hierdie slaaf die ander slawe slaan en hy eet en drink saam met die slegte mense wat altyd dronk is. En eendag kom die eienaar van die slaaf skielik terug, hy kom wanneer die slegte slaaf dit nie verwag nie, en nie weet hoe laat die eienaar kom nie. Dan sal die eienaar daardie slegte slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat skynheilig is. Die slegte slaaf sal saam met hulle huil en hard op sy tande byt van die pyn.”
MATTEUS 24:45-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WIE is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom — en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie en op 'n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
MATTEUS 24:45-51 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee? Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit. “Maar as dit 'n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg. Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink. Die eienaar van daardie slaaf sal op 'n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”
MATTEUS 24:45-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wie is dan die betroubare en verstandige slaaf vir wie die eienaar aangestel het oor sy huishouding om vir hulle op tyd kos te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. As die slegte slaaf egter in sy hart sê, ‘My heer talm,’ en hy begin sy medeslawe slaan, en hy eet en drink saam met die dronkes, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die skynheiliges. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ”
MATTEUS 24:45-51 Die Boodskap (DB)
“Laat Ek vir julle nog ’n voorbeeld gee. Watter soort werker sal ’n voorman van ’n fabriek gewoonlik die graagste oor die ander wil aanstel? Dit is die persoon wat hard werk, of die voorman daar is om dit te sien of nie. Hy weet wat om te doen en doen dit. So ’n werker sal goed beloon word. Uiteindelik sal hy oor die hele fabriek aangestel word. ’n Werker wat egter nooit gaan vorder nie, is die hopelose een wat net die hele tyd die voorman dophou. As die voorman wegkyk, hou hy op werk. As die voorman lank weggaan, maak hy nog meer droog, drink selfs in werkstyd en pla die hele tyd die ander werkers in hulle werk. Daardie werker gaan ontnugter word. Op ’n dag, as hy so dronk daar sit en die ander pla, gaan die voorman instap. Dit sal natuurlik wees wanneer hy dit die minste verwag. Dan gaan die poppe behoorlik dans. Daardie werker gaan alles verloor wat hy gehad het. Wanneer die Here weer kom en Hy kry mense so onvoorbereid soos daardie hopelose werker, is daar vir hulle geen hoop meer oor nie. Die hel is hulle voorland. Daar sal hulle krul van die pyn en skreeu van smart.”
MATTEUS 24:45-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Wie van julle sal dan soos die betroubare en verstandige slaaf wees aan wie die huisheer die verantwoordelikheid toevertrou om sy huishouding te bestuur en aan sy mense hulle kos op die regte tyd te gee? As die huisheer terugkom en vind dat daardie slaaf sy plig goed uitgevoer het, sal hy hom goed beloon. Ek verseker julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as die slaaf sleg is en by homself redeneer: ‘Dis nog lank voordat my huisheer kom,’ en hy begin die ander slawe aanrand en saam met die drinkers fuifpartye hou, sal die heer van daardie slaaf terugkom op ’n dag en tyd waarop hy nie voorbereid is nie. Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”