MATTEUS 22:34-40
MATTEUS 22:34-40 Bybel vir almal (ABA)
Die Fariseërs het gehoor Jesus het die Sadduseërs so goed geantwoord dat die Sadduseërs nie geweet het wat om nog te vra nie. Die Fariseërs het toe bymekaargekom. Een van hulle wat die Joodse wette goed geken het, wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee. Hy het vir Jesus gevra: “Wat is die belangrikste wet van die Here?” Jesus het vir hom gesê: “ ‘ Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand.’ Dit is die eerste en belangrikste wet. Die tweede wet is net so belangrik. Dit is: ‘ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ “Hierdie twee wette sê alles wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir ons leer.”
MATTEUS 22:34-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader. En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
MATTEUS 22:34-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
MATTEUS 22:34-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die •Fariseërs hoor dat Hy die •Sadduseërs die swye opgelê het, het hulle bymekaargekom. Een van hulle, 'n wetskenner, het vervolgens 'n vraag gestel om Hom te toets: “Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Op hierdie twee gebooie berus die hele Wet en die Profete. ”
MATTEUS 22:34-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs tot swye gebring het, was hulle bymekaar. Toe het een van hulle, wat 'n wetgeleerde was, hom 'n vraag gevra en hom versoek en gesê: Meester, wat is die groot gebod in die wet? Jesus sê vir hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede is daarmee gelyk: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
MATTEUS 22:34-40 Die Boodskap (DB)
Die nuus het gou by die Fariseërs uitgekom dat Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hulle het besluit om weer te probeer en het soos een man om Jesus saamgetrek. Een van hulle beste geleerdes vra toe vir Jesus ’n vraag. Hy wou hê Jesus moes Hom vaspraat. Daarom het hy sy vraag dubbelsinnig gestel. “Watter opdrag is die belangrikste in die wet?” Die Fariseër het geweet dat as Jesus sê een opdrag is belangriker as die ander, Hy die eenheid van die wet sou aantas. Sê Hy weer almal is ewe belangrik, sou sommige voel Hy tas die eer van God aan. So sou Hy God, wat die belangrikste van almal is, natuurlik beledig. Weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie. “‘Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.”
MATTEUS 22:34-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe die Fariseërs hoor dat Jesus met sy antwoord die Sadduseërs koudgesit het, het hulle bymekaargekom om ’n nuwe plan teen Hom te bedink. Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek: “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?” Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die eerste en belangrikste opdrag. Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”